Sendingnuus: Oekraïne – Dankie vir 30 jaar

Liewe vriende en familie

Dankie dat julle bid. Dankie vir 30 jaar se ondersteuning, bemoediging, vriendskap en liefde! Dankie dat julle die pad saam met my stap en nie opgee nie; dat julle hierdie wedloop saam met my hardloop en my steeds aanmoedig om aan te gaan.

Op 28 Januarie 1996 het ek en Ockert na Oekraïne gevlieg as jong, getroude paartjie. Dertig jaar van die Here se goedheid en getrouheid. Vier jaar sonder Ockert, vyf maande sonder Mari-Alena. Ek maak gereed om weer na Oekraïne terug te keer. My Oekraïense verblyfspermit het verval gedurende die tyd wat ek in Suid-Afrika was, maar volgens wet bly dit geldig solank die oorlog voortduur. Ek het my visum gekry om deur Roemenië te reis.  Die plan is om DV 5 Maart my skoonouers, Pa Hannes en ma Magda terug te neem na Amerika en vinnig my seuns te sien. Daarna vlieg ek na Roemenië. In Bucharest gaan ek vir die kinders en die span van Jubilee-gemeente in Maidstone, Engeland, ontmoet, waar hulle ’n naweekkursus by die kinders se gemeente gaan aanbied. Vier persone van die UK-span gaan dan saam met my na Oekraïne reis, net betyds vir Night to Shine vir ons persone met spesiale behoeftes in Suid-Oekraïne. Die vier manne gaan vir ’n paar dae bly en dan terugkeer na Engeland en ek bly agter.

Vanmore is Pa Hannes hier in Stellenbosch in die hospiaal opgeneem. Hy het vanmore erge bloeding in sy urine gehad. Die dokters doen nou toetse. Daar is probleme met hul mediese fonds. GEMS het hul medies sonder hul wete gestop, en aangeneem dat my ouers emigreer het en nie weer SA toe kom nie, al is hulle steeds SA burgers. Bid asseblief dat ons dit so gou as moontlik met die pensioen fonds kan uitsorteer aangesien ons nou alles in kontant moet betaal. My pa sal moontlik twee of drie dae in Medicliniek moet bly. Dokter sê moontlike nier versaking, maar hulle is besig met toetse. As alles goed gaan vlieg ons steeds die 5de Maart. Bid asseblief!

Ja, die oorlog woed steeds voort vir vier jaar en daar is van tyd tot tyd aanvalle in Suid-Oekraïne. Dit is nog winter in Oekraïne, en die afgelope maande het temperature in Kiëf snags tot so laag as -30 °C gedaal. Kiëf het ook totale kragonderbrekings beleef, sonder lopende water of elektrisiteit. Elke dag verloor mense hul lewens – in woonstelle, op treine – deur drone-aanvalle wat die Oekraïners se lewens verwoes. Suid-Oekraïne is ook bitter koud, met temperature tot -16 °C en slegs ongeveer twee ure elektrisiteit per dag. ‘n Groot wonderwerk is dat ons huis elektrisiteit het want die waterpomp vir die dorp is in die oop veld agter ons huis! Ek en die leiers in Suid-Oekraïne kommunikeer byna daagliks. Al die bedieninge gaan steeds voort, en die leiers bly getrou in hul bediening.

Rad Kinder Sentrum word verhit met hout of steenkool. Elke lid van die gemeente wat ou bome of hout het om te skenk, help om ons kindertjies warm te hou. Bid asseblief vir borge vir elkeen van die kinders by Raduga. Dit bly ’n groot uitdaging om elke maand kop bo water te hou en die salarisse van ons onderwyseresse en werkers te betaal. Vir my is dit ‘n groot uitdaging en dringende gebedsversoek soos die maand einde weer op ons is.

Ons huis in Suid-Oekraïne staan steeds. Tans bly daar jongmense en twee pasgetroude paartjies uit die gemeente wat geen ander heenkome het nie, asook ‘n verpleegster van Engeland wat saam met ons bedien en die Ark gaan behartig. Gateway to Life, die pro-lewe-sentrum wat vroue met krisis-swangerskappe ondersteun en help om aborsies te voorkom, funksioneer steeds en verrig wonderlike werk in Suid-Oekraïne.

Ons het reeds die fondasies gelê vir die nuwe Ark-gebou, wat ’n toevlug vir kindertjies sal wees, asook ’n huis vir weeskinders. Bid asseblief vir finansies sodat die mure opgerig kan word en die bouwerk kan voortgaan.

Na meer as 25 jaar se aanhoudende stryd om ons kerkgebou, te behou, duur die proses steeds voort. Ná soveel jare is daar egter hoop – prys die Here! Ná al hierdie jare bereid om hul aandele aan ons te verkoop. Hulle verkeer in finansiële nood en benodig dringend $10 000 vir hul dogter se studies in Europa. Indien ons die aandele kan koop, sal hulle geen sê meer hê nie. Indien ons dit nie koop nie, is daar ’n moontlikheid dat die hele gebou verkoop kan word. Ockert het jare gelede 70% aandele van die gebou gekoop. Volgens wet kon hy nie as buitelander alles op sy naam sit nie en het dit op sy beste vriend, se naam gesit. Later het die vriende hul rug op ons gedraai en met ons aandele ons begin dreig, en alles probeer om die lewe vir ons moeilik te maak. Die res van die orige 30% het ons “vriende” opgekoop, sonder om die ander aandeelhouders volgens wet die aandele op vergadering eers aan die groter aandeelhouers beskikbaar stel, maar deur die jare is het alles net so gebly en het die vier aandeelhouers alles probeer om die gebou oor te neem. Die gebou behoort aan die Here en ons vra dat al hierdie ongeregtighede nou sal stop en dat ons, ons wettige aandele sal kan terug kry, alles koop en aan kan bewerk. Bid asseblief vir die finansies om die 17% aandele te kan koop.

Bid asseblief vir uitkoms en voorsiening. Al die jare was hierdie aandele soos ’n doring in ons vlees, en ons het nooit geweet of ons die gebou sou kon behou nie. Hulle het Ockert se aandele onregmatig geneem, en die ander het deur die jare alles probeer om die kerk uit die gebou te kry. Hul aandele is destyds agteraf aangekoop, en Ockert is herhaaldelik deur hierdie vriende in die rug gesteek. Dit is ’n jare lange stryd, maar dit voel asof daar nou lig aan die einde van die tonnel is.

Bid asseblief vir my terugreis na Suid-Oekraïne. Ek mis Ockert en Mari-Alena verskriklik. Party dae is dit baie moeilik, en ek besef telkens weer dat ek niks in my eie krag kan doen nie. Ek het die Here so nodig. My hart is steeds so broos en vandag hier in die hospitaal, waar ek so baie met Mari-Alena was maak alles weer oop. Die trane loop.

Ek mis haar so baie.

Liefde en seën

Michele Potgieter

https://web.facebook.com/michele.potgieter

Groete en liefde

Michele Potgieter

Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

Vir persoonlike bydraes:

Capitec

MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
 SWIFT/BIC code (CABLZAJJ)
 International Sort/Routing/Clearing Code: 470010
Account number/IBAN: 1554335599