Maandag 1 Januarie: Daar is tans sowat 3.4 miljard onbereikte mense in die wêreld. FEBA se missie is om Christus, deur middel van media, na hierdie mense te bring. Dit sluit in radio, oudio-Bybel, gedrukte media en aanlyn-platforms. Bid dat 2024 ’n jaar van groei vir FEBA sal wees en dat daar baie werkers sal wees om die oes in te bring.
Dinsdag 2 Januarie: “Ek was op pad om wraak te neem, toe ek die radio aanskakel. Die uitsending was ‘n preek oor vergifnis, en die toevalligheid daarvan het my as ’n ernstige waarskuwing van God af getref. Te danke aan KanuYah FM Sollo gaan ek alle wraakgedagtes smoor wanneer ek te na gekom voel, en gaan ek ’n ware man van God word wat woede vermy.” (FEBA Mali-luisteraar)
Woensdag 3 Januarie: “Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.” (Spreuke 16:3 Afr53)
Donderdag 4 Januarie: In China het Christene te kampe met streng wette wat godsdienstige aktiwiteit beheer. Die regering se streng ateïstiese beleid skep ‘n vyandige omgewing vir Christene in die land. Bid dat FEBA China se uitsendings sal aanhou om die Kerk te help groei, totdat almal in China gehoor het.
Vrydag 5 Januarie: Moslem heilige manne, oftewel marabouts, speel ’n prominente rol in Maliese kultuur. Mense raadpleeg hulle oor gesondheid en voorspoed, en koop talismans (gelukbringers) om siekte of bose geeste af te weer, terwyl hulle in vrees vir hierdie goed leef. Bid dat FEBA Mali se programme luisteraars sal lei om hul genesing en beskerming in Christus te soek.
Saterdag & Sondag 6-7 Januarie: Die Russies-Oekraïnse oorlog duur al byna twee jaar. Soldate en burgerlikes ly beide fisies en emosioneel. FEBA Oekraïne hou aan om God se Woord vanaf hul agt radiostasies reg oor die land te verkondig, terwyl hulle ook boodskappe van hoop op sosiale media deel en aanlyn saam met luisteraars bid. Irina, een van FEBA Oekraïne se omroepers, werk tans daaraan om die telefoniese beradingslyn uit te brei om aanlyn-berading in te sluit. Bid dat God vir die FEBA Oekraïne-span die nodige krag sal gee om hul werk voort te sit, en bid dat die oorlog binnekort tot ’n einde sal kom. Maandag 8 Januarie: Japan se selfdoodsyfer styg terwyl mense worstel met eensaamheid. Die regering het nou n nuwe wet bekendgestel om die toename in sosiale isolasie aan te spreek. Vir baie Japannese mense is radio en aanlynplatforms hul enigste geselskap. Bid dat hulle FEBA Japan se programme sal vind sodat hulle God se liefde en vriendskap kan ervaar.
Dinsdag 9 Januarie: “Ek is van die Ifugao-stam en ek dank God vir die radioprogramme wat julle in ons taal aanbied. Julle het soveel vir ons omgegee dat julle die evangelie aan ons mense gebring het. Ons het inderdaad ook verlossing nodig.” (FEBA Filippyne-luisteraar)
Woensdag 10 Januarie: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:6-7 Afr83)
Donderdag 11 Januarie: FEBA Korea saai op 13 radiostasies uit. Hul programme bring mense terug na die Here toe en inspireer ander om Hom vir die eerste keer te aanvaar. Die dinamiese span reël ook geleenthede waar hulle die Goeie Nuus deel. Bid dat hulle getrou aan God se Woord sal bly, sodat FEBA Korea kan aanhou om ’n kragtige impak te hê.
Vrydag 12 Januarie: FEBA Mosambiek se bediening het in 2023 sterk gegroei. Loof God dat Hy die span teen godsdienstige esktremiste beskerm het terwyl hulle bedien. FEBA werk nou daaraan om ’n nuwe stasie in die Cuamba-omgewing op te rig. Bid dat God FEBA Mosambiek hierdie jaar sal beskerm en oorvloedig sal seën.
Saterdag & Sondag 13-14 Januarie: Goeie leierskap is van lewensbelang vir ’n sterk organisasie. FEBA is geseën met uitstekende leiers wat hul spanne reg oor die wêreld bestuur en terselfdertyd nuwe leiers oplei om die leisels in die toekoms oor te neem. Bid dat God FEBA se leierskap hierdie jaar sal lei waar hulle politiese, ekonomiese, kulturele en persoonlike uitdagings moet aanpak. Bid dat hulle getrou aan Sy roeping sal bly en hul spanne met goddelike wysheid sal lei. Bid dat God hulle op hul reise sal beskerm en hul werk sal seën. Maandag 15 Januarie: FEBA Taiwan het onlangs die regering se toekenning vir Uitnemende Godsdienstige Organisasie ontvang! Dis ‘n buitengewone prestasie vir ‘n Christelike organisasie – die toekenning gaan gewoonlike aan Boeddhistiese of Taoïstiese tempels. Loof God vir die merkwaardige werk wat Hy deur FEBA Taiwan se span doen.
Dinsdag 16 Januarie: “Ek geniet dit om na Family FM te luister, want dit bevorder versoening in my gees. Ek is deur die Woord van God uit ’n donker lewe verlos … Ek prys God, wat deur Family FM hoop in my lewe gebring het.” (FEBA Kambodja-luisteraar)
Woensdag 17 Januarie: “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (Filippense 3:13-14 Afr83)
Donderdag 18 Januarie: Die Noord-Koreane leef voortdurend in armoede, hongersnood en byna konstante vrees. FEBA Korea saai na Noord-Korea uit vanaf hul kragtige Daebu-stasie, waar Noord-Koreaanse oorlopers – wat nou as FEBA-aanbieders dien – God se Woord deel. Bid dat God die Noord-Koreane deur FEBA Korea se werk sal seën.
Vrydag 19 Januarie: Loof God vir FEBA Malawi se nuwe toerusting en uitreikmateriaal. Die span het ’n radiostasie in Blantyre gevestig en hulle werk hard daaraan om die onbereikte mense van Malawi te bereik. Bid dat God vir Pastoor Amos Siyabu en die FEBA Malawi-span hierdie jaar in hul bediening sal lei, en dank Hom vir Sy voorsiening.
Saterdag & Sondag 20-21 Januarie: FEBA Radio SA ondersteun verskeie radiostasies in Tsjad, Malawi, Mali, Mosambiek en Niger. Hulle werk tans daaraan om ’n stasie in Soedan te open. Die Suid-Afrikaanse span help Afrika-stasies met fondse, lisensies, toerusting en uitreikmateriaal. Bid dat dr Jurie Vermeulen, FEBA Radio SA se nasionale direkteur, en sy span hierdie jaar goeie gesondheid sal geniet, dat die Here die pad sal oopmaak om nuwe stasies te begin, en dat Hy hulle deur die uitdagings in hul bediening sal lei. Maandag 22 Januarie: Indië ondervind ‘n toename in konflik tussen verskillende etniese groepe. Daar is baie geweld, menseregteskendings en uitbuiting in gebiede waar die groepe bots. Bid dat FEBA Indië se programme die betrokkenes in die konflik sal bereik en hulle sal aanspoor om met mekaar vrede te maak.
Dinsdag 23 Januarie: “Ek is deur nuuskierigheid, ‘n angstige hart en ‘n soekende brein deur God gelei om Hom deur jul radioprogramme te leer ken. Jul uitsendings het die hoofbron van die ontwikkeling van my geloof geraak en ek wil net vir julle dankie sê!” (FEBA China-luisteraar)
Woensdag 24 Januarie: “Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.” (1 Korintiërs 9:24 Afr83)
Donderdag 25 Januarie: Die personeel by FEBA Egipte se aanlynstasie, Voice of Egypt, beplan om twee nuwe programme te loods. Bid dat God die span sal beskerm, want hulle werk onder moeilike omstandighede, en dat Hy die nuwe inhoud sal gebruik om nuwe luisteraars te bereik, vernaam daardie onbereikte mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie.
Vrydag 26 Januarie: FEBA Tsjad werk hard daaraan om die radiostasie weer aan die gang te kry nadat hulle na ’n nuwe perseel getrek het. Bid dat FEBA Tsjad se nasionale direkteur, Palyo Ndenon, en sy span hul krag by God sal kry en getrou aan Sy roeping sal bly. Bid dat mense binnekort die Goeie Nuus weer deur FEBA Tsjad se programme sal kan hoor.
Saterdag & Sondag 27-28 Januarie: Niger se bevolking is ongeveer 26 miljoen, waarvan 98% Moslem is. Die land is 28ste op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van lande waar Christene die meeste vervolg word. Om Moslem te wees is sentraal tot Niger se kultuur en diegene wat Christene word, word as verraaiers gestraf. Niger het die hoogste persentasie kinderhuwelike in die wêreld en groot dele van die land ly onder godsdienstige ekstremiste-groepe. FEBA maak ’n radiostasie oop om God se Woord met Niger se mense te deel. Bid dat God FEBA Niger se span en hul werk vanjaar sal seën. Maandag 29 Januarie: Bid vir FEBA Rusland en hul luisteraars. Baie Russe word in hegtenis geneem wanneer hulle die oorlog openlik teëstaan en baie families verloor seuns en mans in ’n oorlog waarin hulle nie noodwendig wil veg nie. Bid dat God se Woord vir FEBA Rusland se luisteraars tot troos sal wees en dat Hy die span se krag elke oggend sal hernu.
Dinsdag 30 Januarie: “Nadat ek ‘n kortgolfradio van julle ontvang het, het ek gereeld na jul programme begin luister. Jul boodskappe het my hart aangeraak en ek het besluit om die Here te volg.” (FEBA Indonesië-luisteraar)
Woensdag 31 Januarie: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” (Filippense 4:8 Afr83)  |