Lydenstyd – “Visio Divina” Dag 4

VISIO DIVINA #4

Deel 1

Die doel van ’n ikoon (’n visuele uitbeelding van ’n teks) is om die kyker dieper in ’n storie in te trek. Jy “lees” nie net die ikoon nie; jy lees jouself daarin raak. ’n Ikoon is dus ’n ontmoetingsgeleentheid. In hierdie ikoon sien jy die ontmoeting tussen Petrus en Jesus. Maar hoe langer jy kyk hoe meer sien jy dat dit ook ’n ontmoeting tussen jou en Jesus is.

Waar die paleis van Kajafas eens in Jerusalem was staan vandag die “Kerk van die Apostel Petrus in Gallicantu.” (“Gallicantu” in Latyn beteken hoenderhaan.) Reg in die middel (sodat jy dit nie kan miskyk nie) staan ’n haan, bo op ’n boek wat op ’n pilaar balanseer. Aan die een kant van die pilaar staan Petrus, met hande wat in ontkenning waai. “Ek ken Hom nie”. Aan die anderkant staan Jesus, met hande wat vasgebind is. Maar dit is asof jou oog die heeltyd teruggetrek word na die hoenderhaan.

Wat sê hierdie ikoon vandag vir jou? Waar in die ikoon wil Jesus jou ontmoet?

Deel 2

TEKSVERS:

“Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps 51:6).
Eers oor 6 weke word daardie hartseer nag in Getsemane gedenk; tog is dit gepas dat ons sommer binne die eerste dae van Lydenstyd by hierdie storie begin. Waarom? Omdat ons so kort van geheue is. En die haan herinner ons daaraan.

Dit is roerend hoe Lukas beskryf hoe Jesus omdraai om Petrus vol in die oë te kyk toe Petrus verklaar: “ek ken Hom nie” (Luk 22:57-61). Saam met Petrus wil jy ook bitterlik huil. Here … is ek dan nie ook ’n Petrus nie! Is ek nie ’n Dawid wat moet bely, dit is teen U wat ek sondig nie!

Tog is dit deur die einste Petrus en Dawid se verhale dat ons leer wat vergifnis beteken. Ons word nie gediskwalifiseer a.g.v. ons tekortkominge en gruwelsondes nie. Dit is by Dawid dat ons leer om te sê, “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God” (Ps 51:19). Dit is by Petrus dat ons leer om agterna te sê, “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet” (Joh 21:17). Deur hulle verhale leer ons wat genade beteken.

Lydingstyd is genadetyd. Dit is oorbegin-tyd.

GEBED:

Dankie dat U die haan nie die laaste sê laat sê nie, my Here!

Peter en Carin van Essen – “Wees genadig”

Op Dag 4 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Peter en Carin van Essen se weergawe van die Nederlandse “Wees genadig” soos opgeneem in die St Joriskerk in Amersfoort. Dit is geplaas deur die bekende Nederland Zingt.

Uit die lirieke:

De woorden die U sprak, Heer,
ben ik al weer vergeten.
Het vuur van uw beloften
is langzaam uitgedoofd.
Met een hart vol van twijfel
volg ik aardse wijsheid,
vergeef mij toch mijn ongeloof;
hernieuw het vuur in mij.
Wees genadig, Heer,
vergeef mij.
Wees genadig voor mij.
Wees genadig, Heer,
vergeef mij.
Wees genadig voor mij.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.