Spanning, Bingo, Sjokolade en ’n Toekomsplan: ’n Oggend van Samesyn saam met Seeds of Hope en die Ondersteuningsbediening

2026-04-15 Ondersteuningsbediening en Seeds of Hope - 60 jariges Bingo NG Kerk Groot-Brakrivier

Op Woensdag, 15 April 2026 het die Seeds of Hope Community Project, in samewerking met ons gemeente se Ondersteuningsbediening, weereens die 60+ -jariges van ons gemeenskap bederf met ’n oggend wat die perfekte balans tussen erns en plesier getref het. Dit is in hierdie ruimte waar geloof nie net in banke bely word nie, maar in die lag van vriende en die gee van mekaar se tyd uitgeleef word.

Die oggend het op ’n praktiese noot begin. In ’n wêreld wat dikwels onseker voel, is goeie raad goud werd. Johan Lochner van PSG Wealth George het sy kundigheid met ons gedeel tydens ’n insiggewende sessie oor Boedels. Vir baie was dit ’n gerusstelling om te weet dat die nalatenskap waarvoor hulle ’n leeftyd lank gewerk het, met die regte beplanning beskerm kan word. Maar namate die laaste vrae oor testamente beantwoord is, het die atmosfeer in die saal begin verander. Die ernstige penne is neergesit en die oë het begin blink met ’n heel ander soort afwagting. Dit was tyd vir die groot trekpleister: Bingo.


Ek sit op die punt van my stoel. Voor my lê die telkaart, ’n ruitnet van moontlikhede wat staar na my. Ek voel hoe my palms effens klam word terwyl ek die pen styf vashou. Rondom my hoor ek die sagte geritsel van papier en die gedempte stemme van vriende wat mekaar uitdaag.

“Nog net een nommertjie,” fluister ek vir myself.

Ronel staan voor by die rekenaar. Sy druk die knoppie vir die volgende nommer, my hartklop klink harder as ’n dromslag in my ore.
“Rooi, ses!” roep sy uit.
Nee, nie hy nie. My kaart bly leeg op daardie plek.
“Blou, vyf-en-veertig!”
Amper. My buurman langs my merk syne met ’n triomfantelike plakker, maar ek kort nommer drie-en-veertig. Die lug is dik van die konsentrasie.

BINGO!” skree iemand aan die ander kant van die saal. ’n Sug van teleurstelling, gemeng met goeie geaardheid, rimpel deur die groep. Dit was so naby of dit was myne. Maar die wedstryd is nog nie verby nie. Hierdie keer speel ons vir die ‘Full-House’. Al sestien blokkies moet toegeplak wees.

Tien rondtes gaan verby. My kaart lyk soos ’n woestyn – nie een enkele nommer is uitgeroep nie. Ek begin hoop verloor, maar dan, skielik, verander my geluk. Een… twee… drie nommers na mekaar! Nou is dit my beurt; ek kan dit sommer in my gebeente aanvoel. Die kaart word stadig maar seker voller. My oë spring tussen Ronel en my kaart.

Kort nog twee… amper daar.
Kort nog een alleenstaande nommertjie.
Die spanning bou op tot breekpunt. Die saal is doodstil, behalwe vir die angstige voet getik op die hout vloer. “Kom aan,” bid ek saggies.
Ronel kyk op, ’n vonkel in haar oog. “Watter kleur kort julle nog?”
“Geel!” roep iemand links. “Rooi!” skree ek amper te hard terug.

Sy roep die volgende nommer stadig uit. Die sekondes voel soos ure. Sy lees dit af… my hart bons in my keel…
JAHOOO! BINGO!
Die woord bars uit my mond voordat ek dit kan keer. Ek kan nie help om te straal nie. Peet kom nader om die nommers te kontroleer terwyl die res van die tafel met groot oë toekyk.
“Jip, dis in die kol!” kondig hy aan.
Onder luidrugtige gejuig bring hulle my prys vir my: ’n heerlike, groot slab sjokolade. Dit het nog nooit so goed gelyk nie.

Dankie Ronel en Peet.


Na al die opwinding van die Bingo, was dit tyd om asem te skep en die samesyn te geniet. Wat ’n wonderlike oggend was dit nie om saam met vriende te ontspan nie. Die reuk van vars tee en koffie het deur die saal getrek, en die bedref in die bordjies met melktertjies, goudbruin hoendernuggets en daardie onweerstaanbare vleiskolwyntjies (resep is gou gedeel op ‘n afval stukkie papier) waarvoor ons gemeenskap so bekend is.

Hier gaan dit oor meer as net inligting of speletjies; dit gaan oor die konneksie tussen mense wat saam oud word in hierdie pragtige dorp. Ons harte is vol (en ons mae ook!).

Dagboek dit nou:

Ons kan nie wag vir die volgende keer nie! Ons volgende byeenkoms vind plaas op 22 Julie 2026, en die tema is die immergewilde “Christmas in July”.

Onthou asseblief:

  • Bring jou eie tuisgemaakte geskenkie saam om uit te ruil.
  • Ons gaan bederf word met spesiale gaskunstenaars wat gaan optree.

Kom deel in die vreugde, die musiek en die vriendskap. Ons sien uit om julle almal daar te hê!

‘n Musikale Herinnering

Dinsdag, 18 November 2025, het die Ondersteuningsbediening, van die NG Kerk Groot-Brakrivier, in same werking met Seeds of Hope, ‘n heerlike Musikale Herinnering gereël.

Francois en Elizabeth Fourie het opgetree met Konsert Tema: “Wil jy dans Carina” en die groep mense saamgesleur deur die lewe. Van jonk wees, met drome…tot by die ouderdom waarin baie van ons vandag lewe. Ons is op humoristiese wyse deur hierdie wonderlike sangpaar, deur die verhaal van hulle lewe, geneem. Dit was regtig ‘n onvergeetlike belewenis, met lekker lag, maar ook soms ‘n hartseer traan in die oog.

Lees meer “‘n Musikale Herinnering”

’n Bederfdag deur Seeds of Hope en die Ondersteuningsbediening

Seeds of Hope en Ondersteuningsgroep Bederf 2025-09-17

’n Bederfdag

Op 17 September 2025 het die kerksaal gevul met gelag en musiek tydens Seeds of Hope en die Ondersteuningsbediening se spesiale viering vir ons lieflike 60 jaar en ouer gemeentelede. Die doel was eenvoudig én kragtig: om harte te verwarm met ’n heerlike bederfdag.

Daar was lekkernye, koffie en tee in oorvloed, maar die ware kos was die vreugde van verbinding. Ouer mense het aan tafels gesit, nuwe vriende gemaak en selfs telefoonnommers uitgeruil, wat die bande van gemeenskap versterk het. Die talentvolle Wilidia Crause, op klavier begelei deur Franco Engelbrecht, het die saal betower met haar lieflike sang.

Die pret het ’n hoogtepunt bereik met die Voete Skommel-speletjie, wat lag en vrolikheid ontketen het. Die dag was ’n pragtige herinnering dat ons nooit te oud is om te speel, te kuier en nuwe vriende te maak nie. Dit is deur sulke prettige oomblikke dat ons saam die skaduwees van eensaamheid verdryf en hoop laat blom.

#SeedsOfHope #Ondersteuningsbediening #Bederfdag #Gemeenskap #Verbinding #EensaamheidBekamp

Ondersteuningsgroep: 60+ Funksie

Wolwedans 60Plussers Gemeenskapsprojek

Die Ondersteuningsgroep van die NG Kerk Groot-Brakrivier het op 9 Julie 2025 ‘n pragtige funksie in die Kerksaal aangebied saam met Seeds of Hope, vir die 60+groep. Die oggend was gevul met die veelsydige musiek van Paul Hoffman, Coosie de Beer en Jaconette Brink.

Die keurig gedekte tafels het beloof om die oggend in styl af te sluit met sop en broodjie, terwyl daar ook heerlike warm komberse verskaf is.