Gebedsgids Mei 2023

Gebed

GEBEDSGIDS – MEI 2023

In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense” – 1 Timoteus 2:1

MAANDAG 1 MEI – Werkersdag

Bid vir groter hardwerkendheid, arbeidsvrede en versoening by almal wat werk het en arbeidspraktyke waar reg en geregtigheid seëvier.Vra vir uitkoms vir werkloses en armes en dat ons oor hulle besorgd sal wees. Mag mense vreugde in hul arbeid vind.

DINSDAG 2 MEI – Die dag van die Here

“Ditis die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps 118:24). Dit is elke dag die dag van die Here, kom ons loof en dank God vir elke dag wat Hy ons skenk en laat ons hierdie maand elke dag voluit vir Jesus leef.

WOENSDAG 3 MEI – Leef jou Christenskap

Vandag kom dank ons die Vader vir elkeen in die gemeente wat God se lig in ‘n donker wêreld laat skyn – deur voorbeeld, uitreik na hulle in nood, ‘n selfoon-oproep, ‘n handdruk, luisterende oor, glimlag en helpende hand. So leef ons Jesus se gesindheid en voorbeeld uit.

DONDERDAG 4 MEI – MES (Mould, Empower, Serve)

MES in Kaapstad se visie is om die haweloses, armes, hongeres, naaktes en behoeftiges te ondersteun. Bid vir meer vrywilligers om te help met die verskillende programme. Bid vir werksgeleenthede vir die gerehabiliteerdes. Dank die Here vir gelowiges wat selfloos, vrywillige diens lewer en hul tyd afstaan by hierdie bediening.

VRYDAG 5 MEI – Moslem Bediening

Bid asb vir Moslems in SA. Vra dat Christene se leefwyse en getuienisse hulle na Jesus sal lei, dat hulle liefde en nie verwerping sal ervaar nie. Dra almal wat by hierdie bediening betrokke is aan die Here op.

SATERDAG 6 MEI – Sosiale Geregtigheid

Bid dat die Gees vir elkeen van ons kreatiewe maniere sal gee om mense in nood te help en dat ons sal weet waar en hoe om betrokke te raak. Dat ons as Sy kerk sal verstaan dat ons hier is ter wille van ander.

SONDAG 7 MEI – Bid en Getuig

Ons prys U Naam dat ons as gemeente saam kan bid. Ons erken ons diepe afhanklikheid van U. Here Jesus, gee ons asb ‘n passie vir siele dat ons begaan sal wees oor hulle wat nog buite staan. Maak ons gehoorsaam en sensitief vir U stem sodat ons nie geleenthede by ons sal laat verbygaan om vir U te getuig nie”.

MAANDAG 8 MEI – Suid-Afrika se mense en leiers

Bid dat die probleme in ons land ons tot verootmoediging sal lei. Bid dat die lig van die Evangelie ons politieke, sake- en maatskaplike-leiers sal verlig en dat hulle voor Sy almag sal buig en erken dat die Bybel ons hoogste gesag is. Bid vir gelowiges om te erken en te bely dat ons God in beheer is, al lyk dit nie vir ons so nie.

DINSDAG 9 MEI – Ons Gemeente

Dra ons leraar, kerkraad, kommissies, amptenare, leiers en elke lidmaat aan die Here op. Bid vir afgedwaalde gemeentelede; gesinne met probleme, hartseer en pyn. Bid dat ons as gemeente waarlik die lewende liggaam van Christus sal wees en dit uitleef.

WOENSDAG 10 MEI – Verantwoordelike Burgers

Bid vir wysheid en insig sodat ons as gelowiges elkeen elekrtrisiteit, water en ander noodsaaklike hulpbronne met verantwoordelikheid sal gebruik. Dank die Here vir al die voorregte en seëninge wat ons geniet.

DONDERDAG 11 MEI – Verslaafdes

Bid vir so baie mense en jeudiges wat verslaaf is aan drank, dwelms en ander vorms van afhanklikheid. Bid vir gesinne wat geraak word en met die probleme worstel. Vra vir begrip, wysheid, geduld en bo-al vir Goddelike ingryping. Laat God ons toevlug wees.

VRYDAG 12 MEI – Vervolging in Turkye

Christene in Turkye ervaar groot druk van toenemende godsdienstige nasionalisme. Die regering teiken alle Christene en selfs buitelandse gelowiges. Bid dat die Turkse regering sal erken dat Christene ‘n waardevolle deel van die bevolking verteenwoordig.

SATERDAG 13 MEI – Christenskap in Skole

Baie skole wêreldwyd verbied Christenskap. Bid dat Christen onderwysers en kinders in ons land, hul geloof sal uitleef, nie skaam sal wees vir die Evangelie van Christus nie.

Dat hul maats hierdeur die liefde van God in hulle sal sien en ook vir Jesus sal leer ken.

SONDAG 14 MEI – Moedersdag

‘Wat is ‘n huis sonder ‘n Moeder’ is ‘n ou gesegde, maar tog so waar. Kom ons dank God vir die moeders in ons lewens, vir hul sorg en liefde en voorbeeld. Bid dat die Here hulle sal seën en Sy liefde altyd oor hierdie besondere mense, die wag sal hou.

MAANDAG 15 MEI – ‘n Stukkende Wêreld

Vader, ons bid opnuut vir lande wat die afgelope tyd deur oorloë en rampe geteister is – Rusland, Oekraïne, Turkye, Sirië en vele lande in Afrika. Ons dank U vir almal wat betrokke was met hulpverlening en bid dat lydendes hul troos en krag by U sal vind.”

Pray often, for prayer is a shield to the soul, a sacrifice to God, and a scourge for Satan.” John Bunyan

DINSDAG 16 MEI – Ongereddes op aarde

Miljoene “Christene” in die wêreld het geen persoonlike verhouding met die Here Jesus nie. Bid vir predikers om mense op te roep tot bekering. Bid dat God vir ons land evangeliste sal gee wat die evangelie kragtig sal verkondig, asook lidmate wat getuig.

WOENSDAG 17 MEI – Inbrake en Kapings

Huis-inbrake en voertuigkapings vermeerder. Bid asseblief vir die Here se bewaring in tye van inbrake en kapings. Mag die Here Jesus ook in die harte van kwaaddoeners werk om tot inkeer te kom en om van hulle planne af te sien.

DONDERDAG 18 MEI – Hemelvaart

Die Heer regeer, Hy’t opgevaar, Die dood kon Hom nie hou nie.

Sy almag sal ook ons bewaar – wie sal op Hom nie bou nie.

Kom sing dan nou ‘n loflied saam: Hy roep ons na Sy woning.

Kom prys die allergrootste Naam, ons Heer en Koning.” (Lied 429)

VRYDAG 19 MEI – Vervolgde vroue wêreldwyd

In Moslemlande word vroue geteiken om die Christengemeenskap te straf of skade te berokken. As Christene en vroue word hul as minderwaardig geag. Bid dat hulle as opvoeders van die volgende geslag hul waarde in God sal besef en Sy beskerming en seën sal ervaar.

SATERDAG 20 MEI – Voorbereiding vir Pinkster

Pinksterdienste begin more. Kom ons loof en dank God as Heilige Gees. Die Bybel sê in I Kor 12:3b: ‘niemand kan sê “Jesus is die Here” nie behalwe deur die Heilige Gees’. So weet ons dat die Heilige Gees in ons woon en ons Leidsman is. Bid dat ons elkeen dit opnuut sal beleef hierdie Pinkster.

SONDAG 21 MEI – Pinkster

O Heil’ge Gees,o God in ons, ons wil u krag besing:

Die krag wat Jesus op laat staan en lewe in ons bring.

Maak ons oorwinnaars in die stryd wat ons ook nou moet stry.

O Gees van God, getuig in ons, dat ons u kinders bly.” (Lied 439)

MAANDAG 22 MEI – God Regeer

Ons oë is op U gerig, ons prys U wat die hele wêreld in die holte van U hand vashou. Wil U ons Regering aanraak met U vuur, bring hulle asb tot die besef van hul verlorenheid sonder U. Ons bid dat U hul asb sal bevry van magshonger en korrupsie”.

DINSDAG 23 MEI – Bewaring van ons jeug

Bid vir ouers, om hulle doopbelofte na te kom en tyd aan hul kinders te bestee. Bid vir onderwysers, sportafrigters, kategete en almal wat met die jeug werk, dat hul leiding positief en volgens God se Woord sal wees. Vir getrouheid en standvastigheid by die jeug en dat hulle mekaar geestelik sal versterk en saam Jesus se naam sal eer.

WOENSDAG 24 MEI – Die aarde behoort aan die Here

Weeklaag by die Here oor baie mense se ongeërgde houding teenoor die verval van ons natuurlike omgewing. Bid vir nuwe liefde en omgee vir God se skepping, vir insig, verantwoordelikheid en sorg vir die aarde waarop ons deur God se genade leef.

DONDERDAG 25 MEI – Heidense Gewoontes

Bid vir die mense wat betrokke is by die beoefening van toordery, voorvaderaanbidding en okkultiese rituele in landelike gebiede, wat baie arm en niksvermoedende mense lok. Vra die Here Jesus om Homself aan hulle te openbaar en dat hulle Hom sal leer ken en dien.

VRYDAG 26 MEI – Eritrea

Vandag vra ons gebede vir Eritrea, een van die gevaarlikste lande vir Christene om in te woon. ‘n Gelowige daar getuig dat Hy na Christus kyk en weet Hy het erger gely en vervolgers kan nie Hom of die Waarheid van hom wegneem nie.

SATERDAG 27 MEI – Mense in ons diens

Ons bid vandag vir ons huis- en tuinwerkers se welstand. Ons is dankbaar vir hulle getrouheid en bid ook vir hulle afhanklikes en behoeftes. Mag ons optrede teenoor hulle ‘n lewende getuienis wees en Jesus se liefde weerspieël.

SONDAG 28 MEI – Geopende Deure

Tans word meer Christene vir hul geloof dood gemaak as voorheen. Christene word ook vervolg en gemartel. Bid vir die werk van Geopende Deure, sterk hulle hande waar hulle hulp te verleen. Mag ons wat so bevoorreg is, ook mildelik bydra vir hulle werk.

MAANDAG 29 MEI – Die Evangelie aan seemanne

Bid vir hierdie bediening wat in ons land se hawens plaasvind. Dank die Here vir elke Bybel wat aan ‘n soekende siel gegee word en vir elke daad van liefde wat bewys word. Vra vir wysheid en die Gees se leiding wanneer bote besoek word, dat toegang verleen sal word aan die geestelike werkers en dat elke kontak vrugbaar sal wees.

DINSDAG 30 ME I – Werkloosheid

Suid-Afrika se werkloosheidskoers is van die hoogste in die wêreld. Bid asseblief vir almal wat werkloos is en na werk soek, maar nie ‘n werkgeleentheid kry nie. Bid vir ekonomiese groei en entrepreneurs wat met kreatiewe maniere nuwe werksgeleenthede kan skep.Ons Hemelse Vader kan toestande verander.

WOENSDAG 31 ME I – Nog ‘n maand

Here baie dankie vir nog ‘n maand van U liefde en genade wat oor ons wag gehou het. Met ons gebede wil die gemeente, soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het, ook ons amptenare en mede-gelowiges se arms sterk vir hul lewens voor U aangesig.”

Wêreldbiddag vir Vroue 3 Maart 2023

Wêreldbiddag vir vroue 3 Maart 2023

Die wêreldbiddag vir Voue is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christinvroue, – mans en -kinders uit verskillende nasies wat elke eerste Vrydag in Maart saambid. Die Wêreldbiddag bring mense uit verskillende rasse, kulture en kerke byeen, om saam voor God te verenig in gemeenskap met Hom en groter begrip vir mekaar.

Hierdie jaar was die Wêreldbiddag, in ons omgewing, by die VGK Groot-Brakrivier gehou. Die tema vir hierdie jaar was:

Lees meer “Wêreldbiddag vir Vroue 3 Maart 2023”