Gebed verander alles.
Moenie angstig wees nie.
Bid tot God.
As God vir ons is,
wie kan teen ons wees.
Sy genade is genoeg.
1 Oktober – Sondag- Eljada Nasorg
Ons gee vandag ons spesiale kollekte vir Eljada in Oudtshoorn wat hierdie spesiale werk verrig. Bid dat die hande en harte oop sal wees vir hierdie saak en dat daar ‘n groot kollekte ingesamel sal word.
2 Oktober – Maandag – Bejaardes
Gister was biddag vir bejaardes en wil ons vandag spesiaal dink aan al ons bejaardes. Bid dat hulle nie alleen sal wees nie en dat hul in die besonder ook sal uitreik na vriende en familie en ‘n gees van positiwiteit sal aankweek.
3 Oktober – Dinsdag – Polisie
Ons dra vandag alle lede van die polisiemag op aan die sorg van die Here en bid dat hulle hul werk met die nodige sorg sal verrig en dat die Hand van die Here hul veilig sal bewaar waar hulle in groot gevaar verkeer in hul daaglikse werk.
4 Oktober – Woensdag – Bybelvertaling
Daar is miljoene mense wat nog nie een woord van die skrif in hul eie taal gehoor of gelees het nie. Bid dat die Bybel binnekort in meer tale vertaal sal word.
5 Oktober – Donderdag – Mediese personeel
Bring mediese personeel in hospitale, noodeenhede en nasorg fasiliteite in gebed na God. Bid vir hulle vir krag, akkurate diagnoses, geduld en liefdevolle sorg aan hul pasiënte.
6 Oktober – Vrydag – Moslems
Vandag is dit die Moslems se “kerkdag”. Bid dat hul die woord sal hoor en tot inkeer sal kom. Ons bid ook vir die baie bekeerde Moslems wat nie in hul eie huise en families aanvaar word nie, maar daagliks vervolg word.
7 Oktober – Saterdag – Studente
Bid vir werksgeleenthede vir die studente wat hulle studies voltooi en hul grade, diplomas of sertifikate sal ontvang. Bid ook dat hulle hul lewe en toekoms aan God sal toevertrou vir die regte geleenthede en leiding.
8 Oktober – Sondag – Alta du Toit Skool
Alta du Toit versorg kinders van klein tot 18 jaar. Bid dat mense se harte sal oopgaan en sal help deur te bid, skenkings te gee, te help met huiswerk, handvaardighede, klere, biblioteek, toiletware asook skryfgoed en speelgoed. Bid ook dat die mense se harte sal oop wees en mildelik sal gee by vanoggend se spesiale offer by die kerk.
9 Oktober – Maandag – MIV/Vigs
Hou asseblief aan om te bid vir mediese deurbrake in die behandeling van MIV/VIGS. Bid vir die wat geïnfekteer is vir ‘n geleentheid om die Here Jesus persoonlik te leer ken.
10 Oktober – Dinsdag – Skole heropen
Bid vir die leerders en leerkragte dat hulle hul werk met entoesiasme sal voltooi vir die laaste kwartaal. Ons bid ook spesifiek vir die matrieks waar hul eindeksamens nou sal plaasvind.
11 Oktober – Woensdag- Werkskepping
Diefstal vier hoogty a.g.v. ‘n tekort aan werk en bid ons dat daar werkskepping sal plaasvind maar dat die mense wat nie werk het nie, ook hul kant sal bring indien hul ‘n werk ontvang om dit met die nodige aandag te verrig.
12 Oktober – Donderdag – Woorde en Dade
Kom ons bid vandag dat ons dade en ons woorde ooreenstem, laat ons met ons verlede breek en ‘n bewustelike keuse maak om ‘n verskil te maak daar waar ons is.
13 Oktober – Vrydag – Families
Bid vandag vir huwelike, verhoudings tussen ouers en kinders, asook tussen kinders onder mekaar. Bid vir sagte harte in die daaglikse omgang met mekaar.
14 Oktober – Saterdag – Kerkbywoning
Na Covid is baie mense nie genoop om die kerkdienste by te woon nie. Ons bid dat daar weer ‘n gees van samesyn en vriendskap sal ontstaan wat die mense na die kerk sal lei waar hul weer die Here kan bedien met lofprysing en sang.
15 Oktober – Sondag – Gideons
Die Gideons reik uit na mense wat nie die woord van God ken nie deur onder andere Bybels te versprei. Ons bid dat hulle werk geseën sal word en dat die plekke waar hulle uitdeel hulle goedgunstiglik sal ontvang.
16 Oktober – Maandag – Christene in die Midde-Ooste
Bid asseblief vir alle Christene wat in die Midde-Ooste en Asië woon om steeds met vrymoedigheid van die liefde van Christus teenoor ander te getuig en dat hulle sal getrou bly aan die Here.
17 Oktober – Dinsdag – Rasseverhoudinge
Ons bid, Heer, dat daar ‘n positiewe gesindheid sal heers tussen die verskillende rasse op Grootbrak en dat hulle in vrede en liefde sal saamleef.
18 Oktober – Woensdag – Geestelike leiers
Vandag bid ons in besonder vir ons geestelike leiers en leraars in ons Ring – vir hulle gesinne, hulle gesondheid, hulle huwelike en bid ons teen aanvalle van die Bose, kritiek, misverstande, moegheid en dat hulle harte met God se liefde vervul sal wees.
19 Oktober – Donderdag – Gevangenes
Bid dat gevangenes, veral jongmense, ‘n persoonlike openbaring van die liefde van Christus sal ervaar. Ons bid dat hulle harte ontvanklik sal word en dat hulle gewillig sal wees om te leer en getrou aan die rehabilitasie projekte sal deelneem.
20 Oktober – Vrydag – Verslawing
Ons bid vir soveel mense wat vasgevang is deur een of ander vorm van verslawing soos alkohol, dwelms, kos, tegnologie of slegte gewoontes. Vra vir die oortuiging van die Heilige Gees om hulle uit die duisternis na die lig te bring.
21 Oktober- Saterdag – Ons Middelpunt
Bid dat ons gemeente elke dag van die week en nie net Sondae, alle eer aan ons Hemelse Vader sal gee en besef dat Hy die middelpunt van alles en elkeen is.
22 Oktober – Sondag – Aarde
Laat ons vandag dink aan ons aarde en dat die mens wat aangestel is om die aarde te beskerm, sal optree met die nodige sorg en ook almal sal bewus maak van ons aarde se bronne se beskerming.
23 Oktober – Maandag – Sendelinge
Ons het baie sendelinge wat ons ondersteun in ons gemeente. Bid asseblief vir almal van hulle en bid ook dat ons gemeentelede sal uitreik na hulle en getrou hul werk sal ondersteun. Bid ook vir geestelike ondersteuning.
24 Oktober – Dinsdag – Radio Feba
Radio Feba doen sending d.m.v. die radio en wil ons bid dat die Here se woord ook so uitgedra sal word na die onbereiktes. Maak hulle harte ook ontvanklik vir die woord wat hulle so ontvang.
25 Oktober – Woensdag- Blokbyeenkomste
Elke Woensdag word Blokbyeenkomste gereël waar ons in kleingroepe bymekaar kom. Bid dat die nuwe intrekkers hier sal inskakel en deel van die gemeente sal word. Laat dit ook ‘n samesyn tussen die wykslede bewerkstellig.
26 Oktober – Donderdag – Regering
Ons bid vandag vir ons Regering (Rom 13 : 1-7). Die owerhede is daar deur God se beskikking. Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word.
27 Oktober – Vrydag- Gemeentefees en Konsert
“ Here, ons wil ons lewe aan U wy en wil ons met die konsert ons talent aan U opdra. Ons vra ook dat U elke projek by die fees sal seën en dat die gelde wat so ingesamel word tot U eer aangewend sal word.”
28 Oktober – Saterdag- Kerkprojekte
Ons bid vir alle projekte wat in ons kerk geloods word en dat dit deur U geseën sal word. Ons dank U vir lidmate wat getrou is met die Kategese-klasse, projekte, sopkokers, nasorg-aktiwiteite, gebede groepe en bid vir kreatiewe idees, geduld en liefde om hierdie groot werk te doen.
29 Oktober – Sondag- Kindersorg
Vandag is die spesiale offer by die deure vir Kindersorg en bid ons dat die lidmate mildelik sal gee vir die aanwending by behoeftes waar dit die grootste is.
30 Oktober – Maandag – Sendelinge
Ons bid vandag in die besonder vir die sendelinge en predikers en hulpwerkers wat op straat die mense help en leiding gee. Mag hul elke dag God se nabyheid ervaar, en die wonderwerke waarvoor hulle bid raaksien in die Straatmense se lewens.
31 Oktober – Dinsdag – Eskom
Bid dat Eskom sy probleme sal oorkom en dat die Here al hoe meer son-en windkrag projekte tot stand sal laat kom. Bid dat soortgelyke projekte spoedig voltooi sal word en werk verskaf aan baie mense.


