Stof tot nadenke: Die geheim van die lewe

Die geheim van die lewe

“…Ek së vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat my gestuur het, het die ewige lewe…”

Joh. 5: 24

Daar word so dikwels gevra: “Wat is die geheim van die lewe? Waarheen is ek oppad?” Ons wonder so dikwels wat ons doel in die lewe is. Wanneer ons deur moeilikhede gekonfronteer word, wil ons altyd iemand blameer vir wat verkeerd gaan. Ons hou so daarvan om vinger te wys na iemand anders. Ons wonder waarom God sulke moeilikhede in ons lewe toelaat. Ons voel altyd dat ons nog nie die geheim van die lewe ontdek het nie.

Terwyl die antwoord al vir eeue lank in ons bereik geplaas is. Ons is so dikwels te hardkoppig om die waarheid van die geheim van die Lewe wat deur Christus self vir ons gegee is raak te sien of ons eie te maak. Die sleutel tot die deur na die ontdekking van die geheim van die lewe is om na die woord van Christus te luister en in God te glo. Dit is die enigste geheim van die lewe wat ons ‘n vrede in ons gemoed gee wat alle verstand te bowe gaan; selfs onder moelike omstandighede. Dit is die wete dat God die Heilige Gees elke dag saam met ons stuur om ons te lei en ons te behoed en bewaar.

Hierdie geheim is gratis en verniet. Ons het elkeen die keuse om te luister, te hoor en te glo en vrede in ons gemoed te hê. Dit is wat God ook vir ons elkeen wil wens, net soos enige ouer net die beste vir sy kind wil hê, net so wil God hê dat dit met ons sal goed gaan. Dat ons vrede in ons gemoed sal ervaar.

Stof tot nadenke: Gee jy regtig om?

“Julle moet doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself”

Jak. 1: 22

Ons Christelike geloof het wonderlike leerstellings, wat die moeite werd is om aan te hang. Dit is egter van min nut indien ons Sondag na Sondag met voorgee gesigte die eredienste bywoon, of selfs aktief betrokke is, maar nie die Christelike voorbeeld uitleef nie. Christus vra dat ons meer en meer soos Hy moet wees. Dat ons alle mense moet aanvaar. Dat ons omgee opreg moet wees. Dat ons nooit uit die oog moet verloor dat ons net nietige mense is nie. Ons moet waak om nie met mense oë na mense te kyk nie, maar met die oë van Christus. Geen mens is te min in die oë van God nie. Dit was die hele rede vir Christus se sterwe aan die kruis. Hy het vir almal gesterwe, ongeag of jy ryk of arm, mooi of lelik is in mense oë.

Ons moet gedurig waak dat ons nie net na die uiterlike van die menslike persoon moet kyk nie. Vir Christus is die innerlike, die wesenlike menswees, die hartseer en pyn, die swaarkry van so ‘n mens belangrik. Dis is ons mense se fisiese en psigiese nood wat ons na God toe dryf. Ons moet mense word wat met oop arms, net soos Christus se arms oop was vir enigeen wat Hom gesoek het, deur die lewe loop. Aanvaarding en net die erkenning van elke mens wat jou pad kruis, se bestaan, deur ‘n kopknip, ‘n groet, selfs net ‘n glimlag, kan ‘n verandering aan ‘n ander se lewe bring. Niks is so sieldodend soos om te voel dat jy onsigbaar is nie – want niemand sien jou eers raak nie.

Ons moet besef dat kerkwees nie net gaan oor die gebou, die reëls en regulasies of ons eie geloof nie. Ons moet elke dag poog om ‘n verskil te maak in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef. God wil hê dat ons moet omgee vir mekaar; en dit beteken nie net daardie mense na aan jou nie. Om hulle lief te hê, of voor om te gee, is maklik. Dit is daardie mense wat deur die kunsmatigheid van die wêreld uitgewerp word, of onaanvaarbaar is – vir hulle moet ons opreg omgee. Dit is in ons mag om deur die hulp van die Heilige Gees mense te word wat doen wat die Woord sê. Dit is die enigste manier om in Christus se voetspore te volg.  

Stof tot nadenke: ‘n Afgekeurde hoeksteen

“…Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”

1 Pet. 2: 7

Christus was as hoeksteen deur mense afgekeur is, het die belangrikste hoeksteen van alle tye geword in die gebou van menslike navolgelinge wat God daar gestel het. Christus was waardig deur sy leiding en getrouheid om die ereplek by God te verdien. Petrus maan ons om elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery uit ons lewe te werp en ons te wend tot lewens wat ware volgelinge van Christus weerspieël. Indien ons dit nie sou doen nie sal ons struikel oor hierdie onbreekbare en uitverkore hoeksteen, omdat ons aan die woord van God ongehoorsaam sou wees.

Ons moet te alle tye ons daarop toelê om die voorbeeld van Christus te volg. Ons moet alle mense liefhê en alle eer aan God gee. Volgens Petrus is dit genade om pyn van onverdiende leiding te verduur (1 Pet. 2: 18-21). Hy wys ons daarop dat wanneer ons onverdiende lyding verduur, wanneer ‘n mens goed doen, dit deur die genade van God alleen moontlik is. Hoe kan ons anders wanneer ons kyk na wat Christus vir ons gedoen het. Hy wat geen sonde gehad het nie en geen leuens vertel het nie, wat nie ander beledig het toe Hy beledig en gely het nie. Hy het niemand gedreig nie, maar alles oorgelaat aan God. Die wraak kom ons nie toe nie.

Deur hierdie onbevlekte hoeksteen, wat deur God self as uitverkorene verkies is, het dit vir ons moontlik geword om onder leiding van die Heilige Gees ons lewe in gehoorsaamheid aan God se wil te lewe. Ons is deur dié menslik ‘afgekeurde’ hoeksteen verlos en om deur die genade alleen tot verheerliking van God te kan lewe.

Stof tot naddenke: Het jy al moord gepleeg

“…’Jy mag nie moord pleeg nie, en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank. Maar ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar…”

Matt: 5: 21-22

Moord gepleeg, “Moet nie laf wees nie, nie ek nie!” is ons almal se oombliklike antwoord. Indien ons egter bietjie verder lees in Matteus begin ons egter twyfel aan ons eie onskuld aan moord. In die bergpredikasie wys Christus ons op die oordeel wat ons oor onsself kan bring. Om kwaad te word vir my broer (bloedbroer, geestelike broer of selfs iemand wat ek nie ken nie) is in Christus se oë gelykstaande aan moord. Hoe is dit moontlik? As ons mooi daaroor gaan nadink, wat gebeur wanneer jy kwaad is? Jy begin altyd vir jouself regverdiging in die tweestryd soek. Jy bespreek dit dikwels met die mense naaste aan jou, met ander woorde jy versprei ‘n storie met slegs die een kant van die storie in die lig. Jy redeneer: ‘Ek kan maar kwaad wees want hy/sy/hulle het my soveel kwaad aangedoen’. Dit wat teen my gedoen is kan ook iets wees wat hulle nie eers besef nie. Dit kan soms bewustelik of onbewustelik wees.

So ‘n ‘eensydige storie’ kan verreikende gevolge hê. In ons kwaad word reaksie sê ons so maklik iemand is gek, onnosel of ‘n idioot. Sodra iemand nie met ons sienswyse of uitkyk op die lewe saamstem nie, reken ons dadelik dat hulle van mindere verstandelike vermoëns is. Ons gebruik so dikwels snydende taal om iemand te verkleineer en ons self sodoende te laat beter voel. Deur hierdie kwaad word kan iemand uit ‘n gemeenskap verdryf word. Iemand kan eenkant toe geskuif word. Dit pas ons, want ons is kwaad.

Deur so te reageer is ons besig om onsself lelik in die voet te skiet, volgens Christus. In God se oë is dit gelykstaande aan moord. Hoe is dit moontlik? Maklik, want in jou kwaad word verloor jy jouself, asook dikwels insig in die ander kant van die storie. Die ander se seer en pyn. Mense word dikwels eenkant geskuif en dit lei tot ‘sosiale moord’ vir daardie persoon. Mens sien dit dikwels in die normale gang van die dag. Christus maan ons om te besef dat om kwaad te word, voor God dieselfde oordeel sal kry as wanneer jy moord pleeg. Kom ons dink twee maal voor ons in woede, kwetsende woorde uiter! Kom ons dink twee maal voor ons iemand probeer kwaad maak. Laat ons liewer versoening soek met almal vir wie ons kwaad is.

Stof tot nadenke: ‘n Helder lig in die donker

“…Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het”

Ps. 78: 4

In Psalm 78 word ons gewys op ons verpligting om die Woord van die Here aan ons nageslag bekend te maak. In Dr. Fanie Bergh se preek van Sondag 2 Oktober vergelyk hy dit met die hardloop van ‘n aflos. Indien ons nie die aflosstokkie in die hande van die volgende naelloper oorgee nie, is ons dadelik uit die wedloop. Elke ouer en grootouer in hierdie lewe moet dit dus op hulle neem om hulle kinders en kinds-kinders te vertel van die wonderlike gawe van Christus. Dit is slegs moontlik indien jy as gelowige volkome glo in die woord van God. As jy dit jou eie gemaak het en passievol glo dat dit die enigste weg is. Ons moet waak om nie ‘n verkeerde aflosstokkie oor te gee, soos die geval in die ou film ‘Blackbeards Ghost’, waar, net soos op hierdie aarde, alles geoorloof is om die aardse wenpaal te bereik.

In hierdie wêreld met sy misplaaste persepsies van wat reg is, afknouery, veroordeling van die waarheid tot voordeel van sekere mense, moord, diefstal, magsbejagdheid en oorloë skep ‘n baie donker prentjie vir die nageslag. Ons wat vashou aan die geloof, hoop en die liefde wat deur God, Christus en die Heilige Gees so mildelik aan ons gegee is, moet hierdie wonderlike boodskap wat ons uit die Woord ontvang het, asook uit eie ervaring, met ons nageslag deel. Ons moet die lig wees vir ons kinders en kinds-kinders. Ons moet hulle wys dat om Christen te wees die een keuse is wat volkome vrede in jou gemoed kan bring, in teenstelling met die aardse keuses wat voor hulle deur gelê word.

Ons moet ook in ag neem dat woorde wek, maar voorbeelde trek. Dit help nie net om te praat nie, jou hele lewe, in taal en in handel, moet aan jou nageslag wys dat jy glo. Jou woorde, jou dade en jou omgang met ander mense moet sorg dat jou geloofskeuse onbetwyfel in die gemoed van jou nageslag lê. In Matt. 5: 14-15 stel Christus dit so mooi. “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie, maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.”

Stof tot nadenke: ‘n Soliede anker

“Maar God get Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. Van Hom sê Dawid: Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer en meer…”

Hand. 2: 24-26

Ons het ons eie keuses en voorkeure. Ons besluit na wie se preke wil ons luister, al dan nie. Ons kritiseer en lewer kommentaar. Wanneer hierdie mense met klei voete en prinse wat ons nie kan vertrou nie, verlei raak, wankel ons geloof in God. Wanneer gaan ons besef dat ons geloof nie gebaseer moet wees in doodgewone mense, met hulle eie swakhede en tekorkominge, hetsy of hulle goeie predikante, vooraanstande, bekende gelowige of ongelowige mense is wat ook daagliks aan die aardse verleidings blootgestel word nie.

Wanneer ons met ‘n geloofsoor luister na elke mense wat ons pad kruis, sal ons besef dat God op baie maniere met ons gesels deur mense, gebeurtenisse, vinnige verbygaande ontmoetings en lang innige verhoudings. Ons moet ons oor instel na God se frekwensie. Ons moet verby kyk na aarddse persepsies van wat reg is en ons instel om net die boodskap wat God vir ons stuur, te ontvang. Deur jouself oor te gee aan die beheer van die Heiige Gees, word jou frekwensie daagliks opnuut ingestel om God se aanraking te beleef, net soos jy jou radiokanaal in jou motor, op reis deur die Karoo, gedurig moet instel.

Die geloof in, en vashou aan die Heilige Gees (Die anker), is die enigste konneksie wat ons het deur die dood en opstanding van Jesus Christ (Die kabel) sodat ons die lig kan beleef wat ons deur die Woord en by God kan vind. Dis die anker waaraan ons aardse skepies, in al die storms wat om ons woed, kan vashou. Net soos Dawid van ouds moet ons God altyd voor oë hê en dan kan ons virseker weet dat ons nie sal ondergaan nie.

Stof tot nadenke: Waar vergader ons skatte?

Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.”

Jak. 5: 3-4

Deur al die eeue heen struikel ons voor die vergadering van aardse skatte. Ons betreur die tot niet gaan van hierdie aardse skatte. Ons beskerm en vernietig mense om ons, van wie ons glo dat hulle dalk kan lei tot die verlies van ons aardse skatte. Konings, regerings, gewone mense en selfs  godsdienste het al menigmaal deur die eeue geval oor hierdie groot struikelblok. So dikwels kon hulle nie staande bly nie. Hulle het nie besef, dat skatte op hierdie wêreld maar min waarde het wanneer die ewige lewe voor die deur kom staan.

Paleise, kastele en massiewe huise is deur die eeue opgerig en het menigmaal as ruïnes tot niet gegaan. Die nageslagte het in die veranderde wêrelde nie kon byhou met die onderhoud en onkostes en weelde van hierdie aardse skatte nie. Oorloë het sy eie impak op verwoesting van hierdie aardse skatte.

Daarom die oproep tot vergadering van skatte nie in hierdie wêreld nie, maar om die ewige lewe te beërwe. Dit is binne elkeen van ons se reik. Deur die koms van Jesus Christus om vir ons sondes te sterf, het hy dit vir ons moontlik gemaak om onder leiding van die Heilige Gees vir ons die enigste skatte wat waarde het, bymekaar te maak. Ons moet nederig wees, goedgesind teen ons naaste, nie opgeblase wees nie of onsself hoêr ag as ander nie. Ons moet in wysheid, sonder bybedoeling, vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg wees soos so mooi uiteengesit in Jak 3: 13-18.

Stof tot nadenke: Hoe sê mens dankie?

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” Psalm 16: 6

Hoe sê mens dankie, vir alles wat jy so mildelik ontvang? Die siekte van ons tyd, selfsug, soos Ds Kobus Smit so mooi uitgewys het is die kanker van ons lewens. Dit maak ons ondraaglik en onvergenoegd. Dit spruit uit ons persepsie van wat menseregte is. Dit lei ons om meer te verwag as wat ons nodig het, of wat vir ons bestem is.  

Dit maak dat ons, wat elkeen uniek is, se oë gerig is op ons buurman, buurvrou, broer of suster, om seker te maak dat ons darem aan hulle standaarde kan voldoen. So verloor ons God uit die oog. Ons is so besig om te begeer wat ‘n ander het, dat ons nie eers besef dat dit wat ons het voldoende is vir ons behoefte nie. In die proses vergeet ons om ons dankbaarheid aan God te openbaar.

Ons kan ook nie voorgee om dankbaar te wees nie, want God ken ons elkeen se harte, elke gedagte nog voordat dit gevorm is. God sien elke opregtheid en valsheid raak. So rig jou oë op die Here? Die Een waarvandan ons hulp en krag vandaan kom. Moet Hom nie uit die oog verloor nie. Dan sal jy volkome gelukkig wees.

Kyk om jou rond om die wonderlike gawes van God elke dag raak te sien. Daardie sagte rol-klank van die vleiloerie en die vrolike klanke van die Knysna ruigtesangertjie in die kusbos. Die lekker-kry plas van die logge walvis wat deur die see-oppervlak breek met ‘n grootse waterspat, of die asemrowende saam-geniet van die dolfyne wat in die voor-brander-breek die branders ry. Ons moet net ingestel wees om elke liewe gawe wat God oor ons pad bring te waardeer en te geniet.

Dankie vir die liefkry, lekker-kry en lag; maar ook dankie vir die seerkry, hartseer en trane. U vorm ons deur elke ervaring om ons die unieke skepsels te maak wat U wil hê ons moet wees. U help ons in tye van voorspoed en ook in die tye van swaarkry. Deur U smeltkroes en U genade kan niemand anders ‘n beter ek wees, as ekself nie. Ja, voorwaar, ek kan ook soos my skoolhoof van ouds së: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” (Ps. 16: 653)

Stof tot nadenke: ‘n Gebed

Gebed

Here maak my ‘n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar leed is, laat my die gees van vergifnis bring.
Waar daar twyfel is, gee dat ek u geloof mag versprei.
Waar daar wanhoop is, help my om hoop te bring.
Waar duisternis, ek die lig mag bring.
Waar daar droefheid is, ek vreugde mag skep.
O Heiloge Meester, gee dat ek
nie soseer sal trag om vertroos te word nie,
as om te vertroos;
om begryp te word nie, as om te begryp;
om bemin te word, eerder as om lief te hê nie.
Want dit is deur te vergewe dat ons vergewe word;
dit is deur te sterwe dat ons tot die ewige lewe gebore word!

Amen

Gebed van St Francis van Assisi

Stof tot nadenke: Die onuitputbare Kragbron!

Stof tot nadenke Carin van Ginkel

Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees ” Psalm 27: 1

In hierdie tyd waar ons dikwels onderwerp word aan kragonderbrekings, gryp ons dadelik na gastofies, flitse en kerse, sodat ons tog net nie in die duister hoef te sit nie. Ons het so gewoond geword om op ons eie krag staat te maak. Die lewe het so gemaklik geword, dat dit ons dikwels onkant van wanneer hierdie kragonderbrekings ons tref.

In ons geestelike lewe weet ons egter dat daar ‘n onuitputbare kragbron aan die werk is. Dit is nie op onsself wat ons hoef staat te maak nie. Ons sterkte en lig lê by God, Christus en die Heilige Gees. Die Psalmdigter, Dawid het so dikwels God se lof en bystand besing. Ps. 8:2 noem hoe glansryk alles is wat God in die hemelruim geplaas het.

Ps 16: 5 leer ons dat God vir ons sorg. Alles wat ek het kom van Hom af. Kan ons anders as om dankbaar te wees vir die pragtige deel wat vir elkeen van ons afgemeet is, en die mooi daarvan raaksien (Ps 16: 6). Self in die donkerste tye laat die Here ons lampe helder skyn, wan God gee ons lig wanneer dit donker om ons is (Ps 18: 29). God omsingel ons met krag (Ps 18: 33 en Ps 18: 40).

In Ps 19: 8 verseker Dawid ons dat die woord van die Here lewe gee en Ps 23:3 stel dit so mooi: “Hy gee my krag. Hy lei my op die regte paaie…”

Kan ons dan anders as om by hierdie ewigdurende kragbron in te skakel. Hy wat vir ewig was, is en sal wees. Hy wat die heerser van die uitspansel is. Hy wat ons nooit verlaat nie, al voel dit of ons deur donker skaduwees gaan. “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Ps 23: 6).

Stof tot nadenke: Wysheid van Bo…

Stof tot nadenke

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak ” Jakobus 3: 17-18

Jakobus begin in vers 13 met die vraag : “Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle?” Daar is so baie van ons wat wysheid in die aardse boekekennis en eie ervaring soek. Ons lees elke boek wat ons kan kry. Ons luister na al die rate en ‘wyshede’ wat op die radio of TV aan ons verkondig word. So dikwels aanvaar ons hierdie ‘waarheid’ as die begin en einde van kennis en dus ook wysheid.

Ons bevraagteken die bestaan van God, Christus en die Heilige Gees asook Sy skeppings vermoë. Ons staan skepties oor mense en al die aardse pogings om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Ons word vasgevang in ons politiese oortuigings, kerklike leeringe, sosiaal aanvaarde lewenswyse, in so ‘n mate dat ons dikwels die basiese van wysheid totaal miskyk. Dit word so duidelik in Jakobus 3:13-18 uiteengesit.

As ons harte gevul is met jaloesie en naywer, in ons werkplek, of in ons woonplek, kan ons nie spog dat ons wysheid het nie. Dit is ‘n soort aardse wysheid wat sosiaal skynbaar aanvaarbaar is, en dikwels deur die boelies van hierdie wêreld gebruik word, om hulleself te bevorder. Die soort aardse wysheid lei tot wanorde en allerhande gemene dade, wat uit ons sogenaamde wysheid geregverdig word.

Wanneer iemand waarlik wysheid het, word dit gesien in sy gedrag van nederigheid, bedagsaamheid, medelye met ‘n ander se seerkry, onpartydigheid en opregtheid. Dis nie ‘n wysheid wat uit onsself kom nie, maar is ‘n genadegawe wat God aan ons skenk. Die geskenk kom deur die geloof in Christus wat vir ons sondes gesterf het, en die bystand en ewige nabyheid van die Heilige Gees wat ons lei en reghelp, elke keer as ons struikel. Ons moet gedurig onthou dat ons vir wysheid kan vra in gebed, wat ons kan help deur enige situasie. Dit bring ons ook in die regte verhouding met God, wat ons vul met ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan! Mag God jou seën met Sy wysheid.

Stof tot nadenke – Verskillende boodskappe

Deur: Carin von Ginkel

Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens ek dat dit al aangesteek was!” Lukas 12: 49

Ds Danie Goosen se preek van Sondag 7 Augustus het ingelei met die teksvers. In die verse wat op hierdie teksvers volg sê Jesus dat hy eerder verdeeldheid bring, selfs in families. Wat is dit wat Jesus hiermee bedoel? Die verdeeldheid waarvan Christus hier praat, wat selfs in families tot uiting kan kom, kan moontlik wees omdat nie almal tot volle geloof in die Drie-enige God kom nie. Die basiese oortuigingsverskille kan tot groot verdeeldheid in ‘n familie lei, en selfs tot skeuring, want gelowiges en ongelowiges kan nie in een juk trek nie.

Lees meer “Stof tot nadenke – Verskillende boodskappe”