Stof tot nadenke: Die Pottebakker en Sy klei…

Maar nou, Here, U is ons Vader. Ons is die klei en U is ons pottebakker – ons almal is die werk van u hande. Moenie mateloos toornig wees nie, Here, moenie vir altyd ons sondeskuld onthou nie! Ja, sien tog in: Ons almal is u volk.

”Jes. 64: 8-920

Wanneer mens ‘n pottebakker beleef, vanaf die klei se voorbereiding tot die finale eindproduk, besef mens wat hierdie inleidende en opvolgende verse vir mens probeer sê oor God, die Pottebakker van ons bestaan. Die Pottebakker het reeds ‘n beeld van die eindproduk in gedagte. Daar is egter ‘n groot hoeveelheid voorbereidings wat gedoen moet word, voordat daar hoegenaamd begin word. Die klei word in voorbereiding gebrei, sag gemaak, klamgemaak en gesif om alle onsuiwerhede uit die klei te verwyder. Daarna kom dit as ‘n bondel klei op die draaitafel of pottebakkers tafel waar dit verder met deeglikheid en noukeurigheid verder verwerk word.

Daar word met oorleg en met ervarings-kennis van alle beskikbare pottebakkersgereedskap gebruik gemaak. ‘n Draadsnyer, spons, ribbes, metaal skraper, hout modelerings werkstuk, ‘n lint werkstuk en ‘n skerp naaldwerkstuk, ‘n rand werkstuk en ‘n klei-gat werkstuk. Al hierdie gereedskap stukke word gebruik om die klei te vorm. Met ‘n baie stil en standvastige hand word die klei bewerk. Enige onsekerheid kan lei tot die her-begin van die finale produk. Deur al die werkery word die klei klam en nat gehou, sodat dit nie te vinnig uitdroog nie. Daar word gedurig weer her-beplan, om te verseker dat die beste produk op die tafel oorbly. Die klei word met die hande van die pottebakker in die aanvanklike proses bewerk en gevorm. Die hande hou die klei liefdevol vas, om die gewenste groote, holtes, openinge en vorm aan die gang te sit. Die rand word met die draadsnyer gelyk gemaak, en die vorm word verder met die ribbes, metaal skraper en hout modelerings werkstukke gevorm. Daarna word die versiering met skerp en snydende werkstuk gereedskap gevorm, ingesny en versier. In die proses word baie onnodige klei weggewerk. Aan die einde van die proses, word die produk losgesny van die tafel. Dit word verder stadig en stelselmatig uitgedroog, om enige barste en skeef trek te vermy. Dan word die finale produk geglasuur met verskillende kleure glasuur en word dan in ‘n baie warm potebakkersoond gebak om uiteindelik die finale produk te kry.

“Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. ‘Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel.” (Jer. 18: 620); “Jy sal nou vir my sê: Hoe kan Hy dan nog ‘n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil tog teengaan?” Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei ‘n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie?” (Rom. 9: 19-2120)

Net so vorm God ons deur ons lewe. Ons word geskuur en geskaaf. Ons kry dikwels seer soos wat die klei met die skerp en snyers gereedskap gevorm word. God het ons reeds beplan nog voordat ons in die moederskoot gevorm is, om die beste ons te wees, soos wat Hy dit beplan het. Deur ons lewe ervaar ons terugslae en teenslae, wat ons nie altyd begryp nie, maar dit alles is deel van God se Pottebakkers Hand in ons lewens. Ons word dikwels losgesny van dinge wat ons standvastigheid gegee het. Ons word versier met genade gawes en die liefde van die Pottebakker. Ons moet egter onthou dat die Pottebakker ook die mag het om die kleipot wat nie voldoen aan sy skeppingsdoel nie, te breek en te vernietig.

Het Hy, wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Een ons nie in die baarmoeder voorberei nie?” (Job 31: 1520); “Op U is ek aangewese van die moederskoot af; van my geboorte af is U my God.” (Ps. 22: 1120); “Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.” (Ps. 139: 1320); “Jy moet vir hulle sê: “So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Só sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek – soos mens die kleipot van ‘n pottebakker breek, sodat dit nie weer heelgemaak kan word nie. In Tofet sal mense begrawe word weens gebrek aan begraafplek.” ” (Jer. 19: 1120)

Wanneer ons oorgee aan die leiding van God deur die Heilige Gees kan ons ook vashou aan die belofte wat God vir Jakob gee in Jesaja. Ons hoef nie bang te wees nie, want God het ons met ‘n rede, en vir ‘n doel geskep in die moederskoot. Hy sal ons met waterstrome lawe en seën. Ons grootse Pottebakker het ons geseën met die ewige lewe, wat vir ons gegee is as genadegawe, deur Jesus Christus ons Verlosser, en die bystand en leiding van die Heilige Gees. Ons kan dus as oorwinnaars lewe, wat nie van ons Skepper geskei kan word nie.

So sê die Here, wat jou gemaak het, jou in die moederskoot al gevorm het, wat jou help; “Moenie bang wees nie, my dienskneg, Jakob, ja, Jeserum, wat Ek uitgekies het. Want Ek sal water uitgiet op dorre aarde, waterstrome op droeë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou nageslag, en my seën op jou nakomelinge. Hulle sal groei tussen gras, soos rivierwilgers langs waterstrome.” (Jes. 44: 2-420); “Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 8: 37-3920)