Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.
Jak. 5:16
Vrydag 1 September – ‘n Nuwe Maand
“Here Jesus, ons wil U loof en eer vir al die seëninge wat ons onverdiend en mildelik van U ontvang. Dankie vir nog ‘n maand wat voor ons lê. Help ons om te volhard in gebed. Ons eer U as die Lewende God, die Almagtige, ons Verlosser, Leidsman en Hoorder van ons gebede.”
Saterdag 2 September – Die Lydende Kerk
Bid vandag vir ons broers en susters wat vervolg word. In lande soos Noord-Korea, Somalië, Jemen, Eritrea en Libië vind vervolging die ergste plaas. Vra vir Krag, Geloof en Volharding. Bid vir gelowiges in tronke en dra gesinne wat erg getraumatiseer is aan die Here op. Ons mag hierdie Gelowige broers en suters nooit vergeet nie.
Sondag 3 September – Gehoorgestremdes
Dank die Here vir ons sintuie en probeer u indink hoe dit is om doof te wees. Vandag se offer is vir die bediening aan dowes en ons neem kennis van die goeie werk wat deur baie jare en nou nog deur die Kerk gedoen word. Laat ons met dankbare harte vrymoedig gee.
Maandag 4 September – Boeregemeenskap
Dit is droogte, finansies, arbeidsprobleme en grondkwessies. Vra vir geloof en rustigheid en dat hulle op God sal vertrou om staande bly ten spyte van moeilike omstandighede. Bid vir beskerming teen plaasaanvalle en dat die Here hul werkers en oeste sal seën.
Dinsdag 5 September – Wet en Orde
Ook in die Polisiemag is oneerlikheid en wetteloosheid. “Here U alleen kan ingryp in ons land – U die God van orde. Gee asb dat ons geregsdienaars en alle wetstoepassers hulle werk met integriteit sal verrig en nie hulself skuldig maak aan misdaad en korrupsie nie. Dankie vir elkeen wat U ken en U ook in hulle beroep verheerlik. Mag hulle die LIG en die SOUT vir kollegas wees.”
Woensdag 6 September – Siekes en verswaktes
Bid vir elkeen wat siek is en pyn verduur. Vra dat hulle bewus sal wees van ons Vader se Ewige Arms onder hulle en vir genesing as dit binne Sy wil is. Seën almal wat siekes en swakkes behandel en versorg, dat dit met deernis en liefde en tot God se verheerliking sal wees. “Bid vir mekaar” (Jak 5:16).
Donderdag 7 September – Gesinne
Dink vandag in gebed aan ons gesinne. Mag ons huise vir ons kinders oases wees waar hulie veilig en geborge voel, waar die liefde van God gedy en Hy gedien word. Mag die Woord Lig in ons huise wees. Vra vir seën en wysheid vir ouers, kategete, onderwysers en sportafrigters.
Vrydag 8 September – Geweld teen Christene
Volgens Geopende Deure se jongste Wêreld Waarnemingslys is 5621 gelowiges vermoor, 2110 Kerke aangeval, 4542 sonder verhoor aangehou, gearresteer, gevonnis of tronk toe gestuur, 5259 ontvoer, 717 in huwelike gedwing, 2126 verkrag en meer as 139000 gedwing om te vlug of weg te kruip. Bid vir 360+ miljoen Christene wat erg vervolg word in lande soos Noord-Korea, Somalië, Jemen , Eritrea, Libië en Nigerië. Kom ons bid asb gereeld vir alle Christene wat vervolg word.
Saterdag 9 September – Woord van God, die Bybel
Dank die Heer dat ons sy Woord in ons eie taal besit, dit kan lees en bestudeer. Bid vir die vertaling en verspreiding van Bybels, vir seën op die werk van Gideons en die Bybelgenootskappe wêrelwyd. Dat die Woord altyd vir ons die lig op die pad en die lamp vir ons voet sal wees.
Sondag 10 September – Leprosedag
Melaatsheid kan ‘n vreeslike siekte wees, maar as dit gediagnoseer en behandel word is dit geneesbaar. Ons kerk het ‘n bediening “Sending aan die Melaatse.” Bid vir hierdie Sending en u kan ook vandag ‘n bydrae daarvoor maak. Dank die Heer vir genesing.
Maandag 11 September – Land en Owerheid
Wees getrou om ons land se leiers op alle gebiede aan die Here op te dra. Bid vir wysheid, morele moed, integriteit en regverdigheid. Dat korrupsie en alle misdaad aan die kaak gestel en gestraf sal word. Bely en getuig dat ons God in beheer is. Gelowiges kan en moet ‘n verskil maak in SA.
Dinsdag 12 September – Bejaardes en Siekes
Dra elke bejaarde en sieke aan die Here op. Bid vir beskerming en voorsiening in hul behoeftes; hetsy eensaamheid, pyn, onbeholpenheid en verlange na dierbares. Bid vir liefdevolle versorging en geduld deur familie en personeel.
Woensdag 13 September – Materiële Nood
Bid vir mense wat gebrek ly en finansiële probleme het. Dat ons harte oop sal gaan vir die nood van ander, dat ons ‘n verskil sal maak. Wat ons het is genade en kom alles van net van ons Hemelse Vader af. Mag ons die oorvloed uit Sy hand met wysheid en liefde deel met minder bevoorregtes.
Donderdag 14 September – Gebed
Bid dat meer lidmate die krag en potensiaal van gebed sal ontdek en daarom dit getrou beoefen. Vra dat meer voorbidders vir leiers in die Kerk en die werksaamhede van die Kerk sal bid en dat die vlak en intensiteit van ons gebede in ons gemeente sal toeneem.
Vrydag 15 September – Turkye
Christene in Turkye verteenwoordig slegs 0.1% van die bevolking en staar dikwels smeerveldtogte en teenkanting in die gesig. Bid dat Gelowiges getrou aan Jesus die Woord en hoopvol sal bly.
Saterdag 16 September – Woordverkondigers
Bid vir elke prediker, maar spesifiek vir hom of haar wat môre in ons gemeente die woord sal bring. Dat daar met Goddelike gesag gesê kan word: “so sê die Here.” Vra dat elke kerkganger ontvanklik vir die boodskap sal wees, en dit ook gaan uitleef in die wêreld daarbuite.
Sondag 17 September – Arbeidsbediening
Die hele arbeidswêreld behoort aan die Here. Ons moet saam bid en werk vir die koms van Christus se Koninkryk in elke werkplek. Vra vir hardwerkenheid, Vrede en Versoening by almal wat werk het. Bid vir arbeidspraktyke waarin reg en geregtidheid seëvier. Ons moet ook bewus en besorg wees oor die werkloses en armes en vir onderlinge mededeelsaamheid tussen werkendes en werkloses.
Maandag 18 September – Ons geestelike leiers
Daar is altyd ‘n aanslag van die bose op geestelike leiers, hul persoonlike lewens, hul huwelike en gesinne. Bid vir ‘n gesonde balans in hul werk en dat gemeentes veral ruimte sal maak dat daar sinvolle tyd is om met hulle gesinne deur te bring (Titus 1: 6-7).
Dinsdag 19 September – Verslaafdes
Drank- en dwelmverslawing is ‘n geweldige probleem in ons land. Dra mense wat vasgevang is hierdeur aan ons Hemelse Vader op. Vra dat hulle ‘n ontmoeting met die Lewende Jesus sal hê en krag en oorwinning deur Hom sal verkry. Bid vir die werk van die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD).
Woensdag 20 September – Die Kerk van Jesus Christus
Dank God vir Sy kerk. Die Heilige Algemene Christelike Kerk wat ons elke Sondag bely. Dank Hom dat Hy self die kerk in stand hou. Bid dat ons lewende stene sal wees wat tot Sy eer sal leef en getuig. Vra dat ons as lede van Sy liggaam een in Christus sal wees sodat die wêreld, hulle wat Hom nie ken nie, kan glo (Joh 17: 21).
Donderdag 21 September – Dobbelary
Roep uit na God dat Hy mense in Suid-Afrika sal vrymaak wat aan dobbelary verslaaf is. Bid vir die herstel van gesinne wat ly as gevolg daarvan en dat Christene hulle in Jesus se Naam sal distansiëer van alle vorme van dobbelary. Hy sorg immers vir ons, sy kinders.
Vrydag 22 September – Marokko
Gesinne en die samelewing in Marokko plaas druk op Christene om hul geloof te verloën, veral diegene vanuit ‘n moslem-agtergrond. Bid dat hierdie gelowiges getrou sal bly aan God se waarhede en beloftes, dat hul geloof net sterker sal groei.
Saterdag 23 September – Herlewing
Kom ons bid vir nuwe lewe in ons gemeente en in ons land. Mag ons denke en strewes vernuwe word, dat dit weg van ons eie belange, behoeftes en probleme sal wees. Vra dat Christus en Sy Koninkryk die fokuspunt in ons lewe sal wees, en hoe ons diensbaar vir Hom en ons naaste kan wees.
Sondag 24 September – Erfenisdag
Daar is soveel sienings van die woord “erfenis” en die vraag is hoe moet ons hierdie dag herdenk en waarvoor moet ons gebede wees? Kom ons kyk egter na die Skrif en dank die Here vir ons ewige erfenis: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop Sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het” (Ef. 1:18).
Maandag 25 September – Fokus op Israel
Volhard in gebed vir die redding van Jode – dat hulle Jesus Christus as Messias sal leer ken. Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan: “Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom! Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom, dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit. Hulle sal genoem word: Gewyde volk, volk wat deur die Here verlos is.” (Jesaja 62: 11-12).
Dinsdag 26 September – Vergifnis
Gebroke verhoudings gaan altyd met pyn gepaard en lei onvermydelik tot situasies waar ons voel dat ons die verontregtes is. Dit is altyd nodig om terug te kyk en die Gees van God te vra om vir jou situasies uit te wys waar jy ander nie vergewe het nie en dit reg te stel. Bid vir nederigheid en wysheid om mekaar te vergewe soos Christus ons vergewe het.
Woensdag 27 September – Ons Dierbares
“Heerser oor alles, ons bely dat ons nie genoeg bid, intree en dankie sê vir al ons geliefdes nie. Ons hou daarvan om te kritiseer, raad te gee en voor te sê, maar ons bid nie met ewe veel oorgawe vir ‘n verandering en ‘n deurbraak in hulle situasies nie. Vergewe ons asseblief dat ons so selfvoldaan en hoogmoedig is. Laat die Heilige Gees ons ‘n nuwe begeerte gee om in te tree vir almal rondom ons.”
Donderdag 28 September – Oorbesteding
Bid asseblief vandag dat die Heilige Gees mense duidelik sal lei in hulle aankope; aangesien ons geneig is om dinge te koop wat eerder ons gierigheid of begeertes bevredig. Vra dat die Here in die harte van mense ‘n las sal plaas vir die armes, die verlorenes en dié wat in hierdie tyd sonder familie of ander hulp is, om ander te help eerder as om net hulle eie behoeftes te bevredig.
Vrydag 29 September – Indië se siele-oes
Die Here is besig om daagliks siele by Sy Kerk te voeg en die vervolgdes te versterk. Die Christendom is besig om na alle vlakke van die Indiese gemeenskap uit te brei. Daar is bekerings onder die armes, die middelklas sowel as die hoë kaste groepe. Bid vir meer arbeiders vir die oes en dat elke geestelike werker wat uitgaan, in die krag van die Heilige Gees sal werk.
Saterdag 30 September – Minderbevooregtes
Ons bid vir die emosionele welstand van elke huis in informele nedersettings sodat kinders normaal kan funksioneer, geen mishandeling sal ervaar nie en dat daar in hul basiese behoeftes voorsien word.


