Valentynsdag op Aswoensdag.
Aswoensdag is die merker in ‘n Christen en die kerk se lewe dat die begin van lydenstyd aangebreek het. Ons betree ‘n nuwe seisoen in die kerklike jaar waar ons nader aan die kruis beweeg. Hierdie jaar val Aswoensdag en Valentynsdag op dieselfde dag.
Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 16
VISIO DIVINA #16
Deel 1
Hierdie ikoon (uit Noord-Masedonië) is getiteld “Die Omhelsing.” Die meeste mense assosieer die ikoon met Adventstyd: die swanger Maria het vir drie maande by haar Tant’ Elisabeth (toe ses maande swanger) gaan bly (Luk 1:56). Maar tog wonder ek of dit nie juis ook ‘n Lydenstydikoon is nie? Hoe min het hierdie twee vroue geweet wat vir hulle (en hul twee seuns) gewag het nie! Simeon het dan reeds vir Maria by die tempel (in Luk 2:35) gesê: “En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”
Lees meer “Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 16″Lydenstyd : “Visio Divina” Dag 15
VISIO DIVINA #15
Deel 1
Weereens sien ons hier ‘n uitbeelding van Jesus wat die kulturele reëls van sy tyd ignoreer, en weereens is ‘n vrou ter sprake. Nie net is sy ‘n nie-Jood (Samaritaan); maar sy is alles wat die Wet van Moses veroordeel: sy is al by haar vyfde man! Soos altyd is Jesus geklee in kleure wat beide sy goddelike (rooi/purper) en sy menslike (blou) status uitbeeld.
Daar is twee uitstaande kenmerke van hierdie ikoon: die put is in die vorm van ‘n klassieke doopfond. Natuurlik is dit simbolies van die Lewende Water wat haar reinig; ook bitter water (Mara) soet gemaak deur Christus. Maar dan sien jy hulle raak! Agter Jesus staan hulle, koppe na mekaar gedraai; drie dissipels. Agter haar, staan 2 ou mans in die stadspoorte (bewaarders van die sedes) en nog twee nuuskieriges.
Hoe konfronteer hierdie ikoon ons nie met al ons stereotipering nie!
Deel 2
TEKSVERS:
“Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: ‘Hy het my alles vertel wat ek gedoen het’” (Joh 4:39).
Volgens oorlewering het die Samaritaanse vrou ‘n naam gehad: Fotini (wat “helder lig” in Grieks beteken). Hoe insiggewend dat dit juis die naam van ‘n vrou is met ‘n donker geheim. (“Ek het nie ‘n man nie”, antwoord sy Jesus. “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie” – Joh 4:16-18). Hierdie vrou was ‘n uitgeworpene – vir Jode was sy vuil; ‘n Samaritaan. Onder haar eie mense ook, daarom dat sy nie saam met die ander vroue gaan water skep nie; maar op die warmste uur van die dag (aldus vers 6). En tog word sy die eerste een wat verstaan dat Jesus die Messias is. Lank voor die dissipels dit begryp, begryp sy. Inderdaad word sy die eerste apostel: sy hardloop om almal in haar dorp te roep; “kom kyk, kom kyk!”
Fotini se lig skyn! Ongeag haar verlede. Ongeag haar agtergrond. Dit is wat gebeur as die Lig van die Lewe op jou val.
GEBED:
Here, maak van my ‘n helder lig en laat my in die donker skyn
U is die Lig wat in die donker skyn – Kaapse Filharmoniese orkes, o.l.v. Chad Hendriks.
Op Dag 15 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “U is die Lig wat in die donker skyn”; soos uitgevoer deur die massakoor en Kaapse Filharmoniese orkes, o.l.v. Chad Hendriks.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.
Lydenstyd : “Visio Divina” Dag 14
VISIO DIVINA #14
Deel 1
Die kunswerk van Johannes Vermeer oor Lasarus se twee susters: Marta en Maria, is in 1655 geskilder. As iemand dalk glad nie die verhaal ken waar Jesus by hulle aan huis gaan kuier nie (in Lukas 10:39-42), wat sou uit hierdie kunswerk afgelei kon word?
Jesus is duidelik baie tuis in hulle geselskap. Kleur in kuns kommunikeer altyd iets: Jesus dra die goddelike koninklike kleur – purper – as ‘n onderkleed; en ‘n blou bokleed – die hemelse kleur. “Toevallig” dra net die sittende vrou ook die hemelse kleur. Die een vrou se moue is opgerol; die ander een s’n nie. Die een vrou kyk opwaarts; die ander vrou kyk af. Jesus praat met die vrou by sy skouer (met varsgebakte brood wat sy aanbied), tog dui sy hand in die sittende vrou se rigting.
Daar is geen veroordeling in Jesus se lyftaal nie. Die kunstenaar nooi jou bloot uit om dieper te kyk en vir jouself ook ‘n posisie te kry. Kan jy?
Deel 2
TEKSVERS:
“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge …” (Luk 10:41).
Hoe het Jesus gedink moes kos op die tafel kom! En meer nog, die sosiale reëls was dat vroue hulself eenkant van mans sou hou. Dit is dus die hele huishouding van Lasarus se goeie naam wat op die spel geplaas word. (En as jy dít verloor, verloor jy alles!) Die ergste is, Jesus het dit geweet. Waaroor gaan dit dan hier? Tog nie oor “ora et labora” (bid en werk) nie, want dit is nie “of … of” nie; dit was nog altyd “en … en”.
Dit is ‘n skok om te besef dat daar gelyktydig in ons ‘n Marta en ‘n Maria is. Elkeen van ons het iets in ons wat die heilige harmonie van God versteur. Ons maak mensgemaakte reëls om sekere mense binne te hou en ander buite. En dit is presies waarmee Jesus Marta konfronteer: jy is meer ingestel op die kulturele reëls as op die heelheid wat God wil bewerk. Soos Paulus skryf, “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie” (Gal 5:1).
Hoe maklik wil ons nie die status quo in stand hou nie, terwyl Jesus ons wil bevry van selfgemaakte wette. Maria het dit verstaan; Marta het nie. Die vraag is wat is “ons Marta’s” wat ons weerhou van God se heelheid.
GEBED:
Here, is daar dalk selfgemaakte reëls wat my (of ander) keer om U voluit te dien?
———–
Marta en Maria:“Solo Committee”.
Op Dag 14 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n musikale verwerking van die verhaal van hierdie twee susters, Marta en Maria, soos gesing deur die groep “Solo Committee”.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.
Kategese bydrae: Begin van die Lydenstyd
Die Lydenstyd begin met As-Sondag. Die kinders het kruise gemaak met al die kleure wat verteenwoordigend is van die Lydenstyd. Die grys kleur op die kruise herinner ons aan ons tydelike en verganklike lewens. Wat maak ons met hierdie kosbare lewens wat God ons geskenk het? Die pers kleur versinnebeeld die Koninklikheid van Christus.
Lees meer “Kategese bydrae: Begin van die Lydenstyd”
