NG Gemeente Groot Brakrivier
Gebedsgids
Junie 2024
Saterdag 1 Junie: Klimaatsverandering
Klimaatsverandering is stadig besig om God se Skepping te verwoes. Die mens is direk daarvoor verantwoordelik deur die atmosfeer te besoedel. Kom ons bid vir kennis en ‘n ingesteldheid om dit te bekamp.
Sondag 2 Junie: Biddag vir Ekologie
Ons dra ons hele ekologiese sisteem aan die Vader op om dit te bewaar en die mens bewus te maak om dit te beskerm.
Maandag 3 Junie: Ons kerk
Ons kerke is by ‘n kruispad. Baie mense verlaat die kerk of woon nie meer eredienste by nie. Kom ons dra dit aan die Here op en bid vir herbesinning en ‘n omkeer.
Dinsdag 4 Junie: Eensaamheid
“My God waarom het u My verlaat” was Sy woorde met Sy kruisiging. Eensaamheid kan erg wees en daar kan tye kom dat ons ook so mag voel. Kom ons bid tot die Here vir Sy alom teenwoordigheid en nabyheid.
Woensdag 5 Junie: Blokbyeenkoms
Ons dra blokke 11 A en B aan Vader op met hulle byeenkoms. Mag die Heilige Gees julle lei.
Donderdag 6 Junie: Ons kinders
Miljoene kinders van alle ouderdomme word dwarsoor die wêreld misbruik en verniel. Hulle word seksueel misbruik, hulle word as slawe verkoop, op allerlei wyses mishandel. Ons dra die kinders se lot deur ons gebede aan die Here op.
Vrydag 7 Junie: Verwoesting van die aarde
Adam en Eva is uit Eden uitgegooi oor ongehoorsaamheid. Ons bly steeds in ‘n Eden en verwoes dit deur ons onverantwoordelike optrede m.b.t. besoedeling en vernielsugtigheid. God ag ons steeds waardig genoeg om in Sy Skepping te mag staan, maar ons waardeer nie die prag wat God aan ons gegee het nie. Bid vir ‘n verandering in gesindheid.
Saterdag 8 Junie: Terneergedrukte mense
Vele mense om ons leef om een of ander rede as terneergedruktes. Kom ons dra hulle aan die Here op en vra vir vreugde in hulle lewens.
Sondag 9 Junie: Dit is Nasionale Biddag vir Blindes
Ons dra alle blindes in ons gebede aan Vader op om hulle te help om positief te bly en nog steeds dankbaar te wees.
Maandag 10 Junie: Stop van bendegeweld
Bendegeweld is ‘n groot probleem in ons samelewing. Gepaardgaande daarmee ook baie misdaad en moord. Kom ons vra Vader vir vrede op hierdie gebied en dat Hy dit sal omskakel na iets wat Sy grote naam tot eer sal strek.
Dinsdag 11 Junie: Ons Vroue
Ons rig ons gebede tot Vader om sy vleuels van liefde en beskerming oor die ganse vroulike geslag uit te sprei en hulle te seën vir die enorme positiewe bydrae wat baie vroue oor die wêreld maak.
Woensdag 12 Junie: Blokbyeenkoms
Ons dra blokke 12 A en B aan Vader op met hulle samesyn. Mag die Heilige Gees met hulle wees.
Donderdag 13 Junie: Plaasmoorde
Ons land word geteister met plaasmoorde en sommige politici hits dit aan. “Vader, ons vra U om drasties hier in te tree ter beskerming van ons land se boere.”
Vrydag 14 Junie: Skoolsluiting
Die skole sluit vandag. Ons dra al ons kinders aan Vader op vir Sy beskerming gedurende die vakansie.
Saterdag 15 Junie: Verlange
Vele ouers se kinders woon en werk deesdae oorsee en die verlange is geweldig. Ons dra hierdie ouers en kinders aan Vader op vir hul beskerming en die wete dat hulle veilig in God se hande is.
Sondag 16 Junie: Vadersdag/Jeugdag
Ons dra alle vaders en die jeug van ons land aan ons hemelse Vader op vir Sy leiding en beskerming.
Maandag 17 Junie: Werkskepping
Die Staat en nywerhede kan nie al die werkloses akkommodeer nie. Laat ons in ons gebede die Here vra om die werkloses sodanig met kennis, insig, ywer en entoesiasme te bemagtig dat hulle hul eie werk kan skep.
Dinsdag 18 Junie: Ons Universiteite
Op ons universiteite is daar tans geweldig baie studente. Ons vra Vader om saam met elke jong mens daar te wees en ‘n verantwoordelikheid in elkeen te kweek.
Woensdag 19 Junie: Ons plaaslike regerings
Met meeste plaaslike regerings gaan dit nie goed nie. Dienslewering en herstelwerk het tot stilstand gekom, korrupsie vier hoogty, miljarde rande word verkwis en inwoners ly daaronder. Ons bid tot God om hier in te tree.
Donderdag 20 Junie: Vermiste mense
Gereeld hoor ons van volwassenes en kindertjies so jonk as 10 jaar wat op een of ander tragiese wyse vermis geraak het. Ons bid vir kalmte en hoop by gesinne, maar ook vir die ingesteldheid van vrees wat by die vermistes aanwesig mag wees. Ons vra vir Vader vir hulle veiligheid en spoedige terugkeer.
Vrydag 21 Junie: Dwelmverslawing
Baie volwassenes en jong mense is verslaaf aan dwelms. Ons kan maar net vir God vra om hulle van hulp te wees met genesing, want dit vra Goddelike krag om van die verslaafdheid ontslae te raak. Mag God se gramskap ook fel neerkom op hulle wat die dwelms verskaf sodat hulle eerder smokkelaars van Sy Woord sal word.
Saterdag 22 Junie: Bybelverspreiding
Die opdrag in Markus 16:15 is duidelik. Kom ons dra almal wat met hierdie taak besig is aan Vader op. Ons bid vir sukses maar ook vir hulle veiligheid.
Sondag 23 Junie: Verdraagsaamheid
In ons pragtige land is daar ‘n groot mate van onverdraagsaamheid en veral tussen verskillende rasse. God het ons almal saam hier aan die Suidpunt van Afrika met ‘n doel geplaas. Bid dat God deur Sy Heilige Gees ‘n gees van verdraagsaamheid tussen almal hier sal skep sodat ons nie Sy doel sal verydel nie.
Maandag 24 Junie: Siekes en mense wat terminaal siek is
Jesus het vele siekes genees tydens Sy verblyf by ons. Ons vra Hom deur gebed om ook weer die siekes in ons midde te genees en hulle wat terminaal siek is, styf vas te hou en hulle te oorlaai met Sy liefde, krag en bemoediging, en as dit Sy wil is hulle ook met genesing te bevry van hulle bekommernisse.
Dinsdag 25 Junie: Sending
Oor die hele wêreld heen is daar pragtige mense wat die evangelie aan ander bekendstel en baie mense wat die evangelie aanvaar of dalk twyfel of hulle dit moet aanvaar. In sekere wêrelddele is dit ‘n lewensgevaarlike taak vir beide partye. Kom ons bid dat Vader hulle onder sy vleuels sal intrek.
Woensdag 26 Junie: Toewyding
Laat ons bid dat die Here elkeen van sy kinders sal help om met gehoorsaamheid na Hom te streef en ons te lei om Sy insettinge te verstaan, en gehoorsaam aan Hom te wees. Dat Hy ons sal help om dit ons missie te maak.
Donderdag 27 Junie: Oues van dae
In ons gemeente is daar baie mense wat hier kom aftree het en hier kom oud word het. Kom ons dank Vader vir die voorreg wat ons het om hier in die pragtige Eden te kan woon en dit te kan geniet. Dat ons heelwaarskynlik weer Sy geboorte in hierdie pragtige area sal kan vier met vreugde en dankbaarheid.
Vrydag 28 Junie: Mediese Wetenskap
Ons bid en dank Vader vir die hulp en leiding wat Hy aan die mediese wetenskap gee in die ontwikkeling van medikasie. Medikasie wat siekes oor die hele wêreld van ‘n beter lewe verseker.
Saterdag 29 Junie: Diens aan oues van dae
In ons gemeenskap is daar Dokters, Verpleegpersoneel, Verpleeg-assistente en omsien-personeel wat na vele van ons gemeenskap omsien. Kom ons dra hulle almal aan die Here op in ons gebede en dank ook die Here dat ons sulke pragtige mense by ons het.
Sondag 30 Junie: Ons land se leiers
Ons dra ons land se leiers aan die Here op. Ons land is in groot verknorsing op alle gebiede. Ons vra vir Vader om ons leiers met helderheid van verstand toe te rus om sodoende ons land weer op ‘n wenpad te plaas.


