Historiese Oorsig
NG Kerk Groot-Brakrivier
1924 – 2025
Inleiding
Groot-Brakrivier is ongeveer 25 km noordoos van Mosselbaai en die dorp is in die vloedvlakte van die Groot-Brakriver se seemeer ontwikkel, onder die 50jaar vloedlyn. Die Groot-Brakrivier ontspring in die hange van die Engelsberg en Jonkersberg (die Varingsrivier) in die Outeniqua Bergreeks en vloei redelik reguit, na net ongeveer 25 km, suid na die Indiese oseaan, strooaf van die Wolwedans dam, wat in 1989 voltooi is. Die verhoogde plato, bokant die dorp is tussen 150-300 m bo seevlak. Die naam van die rivier is ontleen aan die hoë soutgehalte van die gety-gebonde seemeer wat dikwels toegespoel word.
Kerke in Suid-Afrika
Mosselbaai was die eerste plek in Suid-Afrika waar ‘n Christelike kerkie, in die vorm van ‘n drie-muur klipgeboutjie, deur die Portugese seevaarder, João de Nova in 1501, gebou is. Eers in 1652 is die Christelike gereformeerde geloof in Suid-Afrika deur die aankoms van Jan van Riebeeck, en sy geselskap aan die Kaap, gevestig. Dit het gelei tot die stigting van die eerste kerk aan die Kaap met predikant, ouderlinge en diakens in 1655. Die Sondagdienste is gelei deur ds. Johannes van Arckel in die Fort, totdat ‘n eerste kerkgebou in 1704 in die Kaap voltooi is.
Die eerste permanente kergeboue in Suid-Afrika is te Stellenbosch (1687), Drakenstein (1691), Tulbagh (1743), Swartland (1792) en Swellendam (1798) gevestig. Honderd en sestig jaar na Stellenbosch gemeente se begin, in 1813, stig die George-gemeente af van Swellendam. Die eerste sinode kom tot stand in 1824 met reeds 14 bestaande gemeentes van die Nederduits Gereformeerde Kerk. In 1845, stig Mosselbaai-gemeente af.
Die eerste Trekboere het egter reeds in 1720 in die omgewing van die Groot-Brakrivier gevestig. Hulle was nog lidmate van die Stellenbosch-gemeente, en kon slegs met ossewa-trekke en met lang tussenposes, aan hul geloofsbehoeftes (Nagmaal, doop, troues en begrafnisse) voldoen. Reeds in 1762 was blankes woonagtig, binne die gemeente grense van 1985. Pieter Terblanche het in 1762 op die leen-plaas Rheboksfonteyn begin boer en in 1779 die plaas Zorgfontein bekom.
Teologiese Opleiding
Die eerste Teologiese Kweekskool (Seminarium) in Suid Afrika is in 1859 op Stellenbosch gestig, om te voorsien in die behoefte van predikante. Verdere Teologiese Fakulteite is in 1937 (Universiteit van Pretoria) en 1978 (Universiteit van die Oranje Vrystaat) ontwikkel. Die Sinode van Wes-Kaapland bestaan uit 228 gemeentes wat in 25 ringe georganiseer is.
2. “Uit ‘n oorvloedige Hand…”
Ontwikkeling van Groot-Brakrivier
Die ontwikkeling van Groot-Brakrivier het met rasse skrede gegroei na die aankoms van Charles Searle en sy vrou wat op 31 Desember 1859 hul intrek ingeneem het in die tolhuis by die laagwaterbrug oor die Groot-Brakrivier. Charles Searle het in die 1850’s na Suid-Afrika geëmigreer, en in 1859 die kontrak gekry om die tolhek te bedryf.

Charles Searle het die behoefte van ‘n kontrei winkel raakgesien en oopgemaak. Uit sy inisiatiewe het die Searle familie ook ‘n watermeul, ‘n wolwassery, ‘n skoen- en stewelfabriek, ‘n leerlooiery, asook ‘n houtverwerkingsaanleg opgerig. Al die ontwikkelings het ook werksgeleenthede geskep en gevolglik het die inwoner getalle begin groei, waar menige mense in die Searle-ondernemings betrokke was.
Hy was ‘n diep gelowige man en in 1869 koop Charles eiendom wat onder bankrotskap was en omskep die plekkie in “ ’n plek van aanbidding”. Daar is een maal per maand drie dienste gehou. Die eerste in Hooghollands, wat toe nog die spreektaal was; en die derde in Engels. Ds Kuys van die NG Gemeente George het onder andere gereeld daar dienste gehou. Charles het ‘n nou verbintenis met die NG Kerk op George gehad en was die dorpsvader wat gesorg het dat Sondae as rusdag gevier word.

Met die uitbreiding van die dorpie het die aanvanklike “plek van aanbidding te klein geword en Charles het in 1894 ‘n eie kerk, die ‘Mission Hall’ opgerig op eie koste. Die kerk was oop vir alle Protestantse denominasies wat erken dat Jesus Christus die fondament is waarop die kerk rus. Die kerk is op 15 September 1894 met ‘n bywoning van 600 mense uit Groot-Brakrivier en beide George en Moselbaai, van verskeie denominasies, ingewy.
‘n Eie NG Kerk
Met die ekonomiese opbloei van Groot-Brakrivier na die Anglo-Boereoorlog en ook die toename van veral Afrikaners in diens van die skoenfabriek en leerlooiery, het daar ‘n behoefte ontstaan om ‘n eie kerkgebou te bekom. Die Mosselbaai moedergemeente het reeds in 1916 die behoefte begryp en onderhandelinge tussen Ds. Wilcocks van Mosselbaai en Ds. Beyers van George het daardie jaar begin om Gemeentegrense te bepaal. Charles Searle het toe ook sy ondersteuning vir die projek getoon deur ‘n stuk grond vir die kerk en pastorie te skenk, met die voorwaarde dat die grond nie verkoop mag word of as besigheid bedryf word nie.
Op 6 Desember 1919 het die 232 inwoners van Groot-Brakrivier ‘n petisie onderteken, om hul behoefte aan afstigting uit te wys, en dit aan Mosselbaai gemeente voorgelê. Die vertrek van Ds. Wilcocks vanaf Mosselbaai en die toutrekkery oor die nuwe grense vir die Groot-Brakrivier gemeente het tot gevolg gehad dat die proses nie dadelik tot uitvoer gebring is nie. Onder leiding van die nuwe predikant van Mosselbaai, Ds. PWA de Klerk en sy kerkraad, is die kerkgebou in 1924 voltooi teen ‘n koste van £1 357. Bydraes vir die ontwikkeling was £ 200 deur die Searle-familie, £ 200 deur die kerkraad van George en £ 190 ingesamel deur ouderling Gert van Rensburg in die dorp. Mev. Willie Searle het die kerkklok geskenk.

Die Kerkgebou se hoeksteenlegging was 12 Julie 1924, en die opening was op 5 Oktober 1924. Die openings dag was ‘n groot geleentheid, en die inwydingsdiens is deur Ds. De Klerk en Ds. JA Hurter van George waargeneem. Daarna het die gemeente van hulp-predikante vanaf Mosselbaai gebruik gemaak. Die Groot Depressie en die rampdroogte het ‘n groot rol gespeel aan die uitstel van Gemeeente grense en begin van ‘n volwaardige Gemeente, met’ n eie predikant. In 1932 is Ds. FG Badenhorst, ‘n hulpleraar van Mosselbaai, met standplaas Groot-Brakrivier, hier georden. Die inwonertal was reeds meer as 2000.
Daar was ‘n groot toutrekkery oor die beheer van NG Kerk Groot-Brakrivier se beheer en gemeentegrense, tussen George en Mosselbaai gemeentes. Op 14 November 1935 het die twee Ringskommisies van George en Swellendam die afstigting gefinaliseer. Eers in 1935 het die N.G. Kerk Groot-Brakrivier sy eerste volwaardige predikant gekry. Ds. AF Malan, hulpleraar van Mosselbaai is beroep en ‘n eerste kerkraadsvergadering is op 3 Desember 1935 gehou.
3. “Ons Leraars van toe tot nou…”

| Ds AF Malan 1936 – 1938 Eerste predikant van die gemeente, asook sy eerste gemeente/ Hy was hulp-prediker vir Mosselbaai, met standplaas Groot-Brakrivier. Hy het die moeilike tye van grense vasstel vir die gemeente beleef, waar daar soms min eensgesingheid was. Hy het sy gemeente gedien, ook as ‘ambulansbestuurder’ in tye van nood. Fil 2: 2 “maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, en een van strewe” was sy bede tydens die vergadering waar besluit moes word of die kelkies vir Nagmaal gebruik gaan word. |

| Ds DF du Toit 1938 – 1943 Sy seëngroet in 1985 vir die gemeente was: 2 Kor. 6: 16 “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal My volk wees.” |

| Ds PA van der Merwe 1943-1946 ‘n Man wat toe reeds onder beroep gestaan het, en wat sy opvolger, wat agter ‘n bos weggekruip het, omdat hy nie wou preek nie, tog oorgehaal het om die Sondag in geleende klere te preek. |

| Ds JNW de Jager 1946-1949 Hy het hom beywer vir die uitdra van die Woord tydens gewone dienste en as tentmaker, veral in die Vakansietye toe menige vakansiegangers reeds daardie jare die area besoek het. Sy boodskap vir die gemeente: “Wees nie bevrees nie, want ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; As jy deur die vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou.” |

| Ds DP Cillié 1950-1955 Ds. Cillié se eerste gemeente. Die gesegde “Skud reg julle vere” het vir die jong pastoriepaar ‘n humoristiese herinnering aan hulle eerste ontvangs in Groot-Brakrivier geword. Soos destyds die gewoonte was het van die gemeentelede die paar oppad kom ontvang. Hulle regskud van hulle vere het egter ‘n realiteit geword as gevolg van ‘n sak dons, waarvan die veertjies bly klou het, wat saam gery het in die klein Chev-karretjie. Ef 4:13 “…ons sal uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God…” |

| Ds LPA Spies 1955 – 1958 Sy wens in 1985 was dat “die skatkis van die Woord van elke dag vir ons skoner en mooier sal word en dat inniger meelewing en geestelike groei steeds kragtiger getuie sal wees van die genadewerk.” “Mag ons met groter liefde en begrip na mekaar kyk en langs hierdie weg Sy Koninkryk bevorder.” |

| Ds SA Struwig 1958 – 1960 Hulle was maar ‘n kort tydjie in die gemeente, maar noem dat dit van hulle aangenaamste tye was. Hy laat die gemeente met Fil. 4:19 “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus.” |

| Ds CB Roelofse 1961 – 1964 Groot-Brakrivier was sy eerste gemeente en hy het hier met egtheid en opregtheid kennis gemeek en het duursame vriendskapbande aangeknoop. Sy wens aan die gemeente: “Mag die Here van die kerk die gemeente seën met godsvrug en volharding tot Hy kom.” |

| Ds MS Strydom 1965 – 1968 Ds Strydom het die bediening verlaat. Geen verdere inligting is beskikbaar nie. |

| Ds MJ Keller 1968 – 1974 Hy was ywerig betrokke by jeug bearbeiding en het tydens vakansietye die strandaksies aktief ondersteun. |

| Ds CJ Bekker 1974 – 1981 NG Kerk Groot-Brakrivier was sy laaste gemeente. Hy laat ons met die volgende boodskap van Kol. 3: 14-15 “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.” |

| Ds GJ Duursema 1981 – 1984 NG Kerk Groot-Brakrivier was sy eerste gemeente. Hier het hy beleef hoe die Here voorsien in tye van behoefte, hetsy finansieël of fisies. Hy laat die gemeente met Ps. 128: “Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en Sy wil doen. Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees…” |

| Ds PJ Roodt 1985 – 2020 Ds Roodt was die predikant wat gekom het om te bly. Dit was sy eerste en laaste gemeente. Die gemeente het die voorreg gehad om sy bediening vir 35 jaar te beleef. Tydens sy demissie diens laat hy ons met die boodskap van 2 Kor. 12: 7b-10 “…my genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” |

| Ds PC Louw 2007 – 2011 NG Kerk Groot-Brakrivier was sy tweede gemeente, waar hy hom beywer het om met die jeug te werk. Hy laat ons met die gedagte: Daar is soveel gelowiges wat vandag opgewonde is oor die Here en wat hulle geloof wil uitleef en deel. |

| Ds DJ Goosen 2011-huidig Ds Goosen beywer hom daarvoor dat Jesus vir ons, Jesus vir almal is. Sy fokus is om mense met deernis te hanteer. “Maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie.” |

| Ds CP Viljoen 2024-huidig NG Kerk Groot-Brakrivier is haar tweede gemeente. Sy beywer haar vir die jeug en het ‘n passie vir Aktief Kerk om alle mense te bereik. In haar intreepreek het sy bevestig dat sy op die Roepstem van God gereageer het soos Samuel. “Spreek Here, want U dienskneg luister” 1 Sam. 3: 9 |
4. “’n Veranderende Omgewing…”
Dit was oop ruimtes
George distrik is geproklameer in 1811, maar die plaas Wolwedans was oorspronklik deur Burgert van Dyk vanaf 1731 – 1751 bewoon. In 1762 het Hendrik vd Watt hier gevestig. Die geboue is opgerig deur Hecules Terblanch (Terblans) in 1852. In 1812 is Wolwedans as ‘n halfweg pos verklaar.

Toerisme in die Area
Wat eers net ‘n halfweg stasie oppad binneland toe was, het nou sie eie aantrekking as bestemming.
In 1989 open die oorspronklike huis van die die Searle’s, “Riversyde” as gastehuis deur Wendy agter-kleinkind van Thomas Searle, seun van Charles Searle senior. Vandag floreer die toerisme deur restaurante, gastehuisies, die Museum en kunsgalerye, wat gerieflik na aan die see is en vakansiegangers laat instroom gedurende vakansietye.
Eerste kroeg in Groot-Brakrivier is in 1986 geopen. Vandat die Searles, wat diep gelowiges was, en aan Groot-Brakrivier se ontwikkeling gebou het, was daar vir ‘n hele 100 jaar geen drankwinkel of kroeg in die dorp toegelaat nie. Daarin het die NG Kerk met die Searles handegevat, en alle aansoeke met hand en tand beveg. Die eerste dranklisensie is egter in 1985 goedgekeur.
Vloede in die vloedvlakte van die Groot-Brakrivier
Deur die jare was Groot-Brakrivier dikwels onderwerp aan vloedwaters, wat verwoesting gesaai het. Verwoesting van mense, huise en besighede.
Die eerste aangetekende verwoestende vloed van 1867, het die Searles genoop om van hulle woonhuis na die tolhuis te vlug. Daarna het die familie gehelp met die herbou van huise in die omgewing.

In 1989 is die Wolwedansdam, in die groot-Brakrivier, reg stroom-op van die dorp voltooi en was vir die eerste keer vol in 1996. Die dam het ‘n ‘roll-crete boog-graviteits damwal met ‘n 70m hoë damwal en ‘n lengte van 270m. Die dam was aanvanklik gebou om Mossgas (nou Petro SA) en Mosselbaai te voorsien van water. Addisioneel het dit ook die doel om die invloed van vloede te verminder op die stroom-af vloedvlakte waar Groot-Brakrivier dorp ontwikkel het.
Ten spyte van die dam se impak op vloede, het die vloede van 2001, 2005, 2006 en 2007 die Kerkraad genoop om die Pastorie, wat telkens oorstroom is tydens goeie reënjare, van sluise voor die deure te voorsien, om die vloedwaters buitenshuis te laat. Die Pastorie wat vir jare deur Ds. Paul Roodt bewoon is, is van 2022 ontwikkel as ‘n huis vir bejaardes, na sy aftrede.

Brandgevare
Groot-Brakrivier het ook al verskeie brande beleef, wat grootskaals skade in die dorp, aan huise en omgewing veroorsaak het.

Depressie Jare en Droogtes
Die gemeente het van hulp predikers gebruik gemaak vanaf 1924 en begin eers funksioneer as ‘n eie volwaardige gemeente kort na die Groot Depressie jare van die 1930’s wat wêreldwyd ‘n verlamende effek op ontwikkeling gehad het, asook menige mense in armoede agtergelaat het.
Daar was tydens hierdie tydperk ook rampdroogte toestande in die gebied, wat ook bygedra het tot toestande wat die gebied finansieël lam gelê het. Die area is dus duidelik blootgestel aan natuurlike droogtes, wat ook in die laat 2010’s weereens ervaar is, en waterbeperkings aan die orde van die dag was.
Taal veranderinge
Die woord is aanvanklik in Engels en Hoog Hollands gepredik, deur protestantse predikers wat in die Groot-Brakrivier besoek afgelë het om die woord te verkondig. Daar het egter landswyd die behoefte ontstaan om die Woord in Afrikaans, wat ‘n al hoe groterwordende spreektaal geword het in Suid Afrika, te ontvang. Die behoefte is aangespreek deur die Sinode en in 1933 word die eerste Afrikaanse Bybel beskikbaar vir die bediening in Afrikaans. Sedert hierdie tyd het verskeie nuwe vertalings, waarvan die nuutste vertaling 2020 is, die lig gesien. Saam daarmee kry die gemeente van N.G. Kerk Groot-Brakrivier hul eerste volwaardige predikant in 1935.


Politieke Veranderinge
Die politieke bestel van Suid-Afrika het ook verskeie keer van hande gewissel tydens die bestaan van die NG Kerk Groot-Brakrivier. Die beginjare was tydens die Unie-tydperk van Suid-Afrika met die Smuts regering aan bewind, terwyl die regeringstaal Engels en Hoog-Hollands was. In 1948 het die Nasionale Party aan bewind gekom, wat die Afrikaanse Taal bevorder het. In 1961 word Suid Afrika ‘n volwaardige Republiek onder eie bewind. In 1994 het die regering weereens van hande gewissel en die ANC het aan bewind gekom. Binne al hierdie verandering het die NG Kerk Groot-Brakrivier gestand die Woord van God verkondig.
Munisipake Veranderinge
Die dorpsraad van Groot-Brakrivier het in 1975 munisipale status gekry onder leiding van Mnr Bill Franklin, ‘n agter-kleinkind van Charles Searle. Gedurende 2002 word die munisipaliteit van Groot-Brakrivier weer teruggeplaas onder beheer van Mosselbaai.
Kerkterrein veranderinge
In die vroeë 1900’s het daar die behoefte ontstaan om ‘n eie kerkgebou te bekom in Groot-Brakrivier. Reeds in 1916 het die Mosselbaai moedergemeente die behoefte begryp en onderhandelinge tussen Mosselbaai George het daardie jaar begin. Charles Searle het ook sy ondersteuning vir die projek getoon deur ‘n stuk grond vir die kerk en pastorie te skenk, met die voorwaarde dat die grond nie verkoop mag word of as besigheid bedryf word nie.
Op 6 Desember 1919 het die 232 inwoners van Groot-Brakrivier ‘n petisie onderteken, om hul behoefte aan afstigting uit te wys, en dit aan Mosselbaai gemeente voorgelê. Onder leiding van die nuwe predikant van Mosselbaai, Ds. PWA de Klerk en sy kerkraad, is die kerkgebou in 1924 voltooi en bydraes vir die ontwikkeling was deur die Searle-familie, die kerkraad van George en die insameling deur ouderling Gert van Rensburg in die dorp. Mev. Willie Searle het die kerkklok geskenk.
Die oorspronklike Kerkgebou (tans die kerksaal) is op 5 Oktober 1924 ingewy.


Eers in 1935 is die NG Kerk Groot-Brakrivier volwaardig as eie Gemeente met eie predikant, wat nog as hulppredikant vir Mosselbaai gemeente gedien het, begin funksioneer. In die tyd van Ds DP Cillié, is die nuwe NG Kerk voltooi in 1953, en in gebruik geneem.




Hierna word die oorspronklike kerk as Kerksaal benut vir Gemeentefeeste, opvoerings en deesdae ook as saal vir Laerskool Vorentoe tydens saal openings of afsluitings.
In 2022 het die behoefte ontstaan vir bekostigbare verblyf van bejaardes, en die NG Kerk Groot-Brakrivier se Bestuurspan het besluit om die Pastorie, waaruit Ds Paul Roodt afgetree het, te ontwikkel en word aan privaat persone uitgehuur vir die doel.

Bywoning
Deur die demografiese veranderinge het die getalle van Belydende lidmate, dooplidmate, Kerkraadslede en predikante in die gemeente verander en in sekere gevalle aansienlik verhoog. Reeds in 2004 was die getalle in die kerk so hoog, dat die kerk begin bekend staan het as die ‘Opskuif-Kerk’. Tot so ‘n mate dat ‘n tweede predikant in 2007 beroep is.

Die groei in getalle het gelei tot twee dienste in 2004, en aanleiding gegee tot hierdie kosbare liriek wat deur die destydse ouderling Gibo Gerber verwoord is:
In Groot Brak se “Opskuif-Kerk”
Hier in Groot Brak se gemeente
is Sondag ‘n pyn vir jou gebeente
skuif op, skuif op
ons weet dis warm
vir ‘n groter kerk is ons te arm
In Sint Paul se katedraal
loop die duiwel self ook kaal
ek is bang
hul sê “skuif op”die hitte laat my vel afdop
‘n Vette oompie plons hom neer
so op skoot voor ek kon keer
dis warm, broertjie
skuif tog op
vandag kan ek die emmer skop
Doomnies Paul is bra maer
van hitte word hy uitgespaar
ek, ou dikke
sit en sweet
dit voel die satan het my beet
Paul loer weer, my gedorie
vanuit die kerk se konsistorie
die kerk is vol
maar moenie bodder
bring vir my daai beeste prodder
(Aan die Kerkraad)
Broeders, Kerkraad, en Susters ook
span jul breins in, laat dit rook
‘n tweede diens?
‘n groter kerk?
spaar tog ook ons Paul se werk
‘n Kerk het tog ook sy kliënte
uit hul sak kom al die sente
dink daaroor
laat ons nie raai
wyl ons nog ‘n somer braai
Maar al is dit koud of hetig warm
prys die Heer, ons kom nog darem
want uit die kerk
vol leë banke
klink daar tog geen jubelklanke
Tydens Desember vakasies, en spesifiek met Kersdag, word daar vier dienste gehou, en waar die ‘Opskuif-Kerk’ weer sigbaar is. Daar word stoele ingedra, in die instap gange en tot in die liturgiese ruimte, en die kerk is tot oorlopens toe vol.
75 Jarige bestaan
In 1975 is die vyf-en-sewentig jarige bestaan van die gemeente met ‘n kleurryke en foto ryke brosjure gevier, waar deuglike navorsing gedoen is deur ‘n groep lidmate, oor die vroeë jare van die gemeente.


Die brosjure gee ‘n pragtige blik op die geskiedenis van die gemeente en is grotendeels gebruik om hierdie Historiese Oorsig die lig te laat sien.
Eie Webtuiste
Die wêreldwye pandemie, bekend as Covid19, het die kerkbywoning oombliklik gesmoor, aangesien daar geen gesamentlike byeenkomste gehou kon word nie. Die Kerkraad het dus van 2020 tot 2021 besin oor die wenslikheid van ‘n Webwerf en die gebruik van YouTube dienste, om die gemeentelede sodoende nog steeds te bedien, in woord en daad.
Na die aflegging van die verbod van samekomste, het die getalle (gemasker) stadig weer teruggekeer, maar nie heeltemal tot die ‘Opskuif-Kerk’ se getalle nie. Nou het die YouTube dienste ‘n integrale deel van die werk van die NG Kerk Groot-Brakrivier geword. Die reikwydte van besoekers uit 76+ lande aan die webwerf tydens 2024 spreek van ‘n behoefte aan kontak. Die YouTube dienste, op sy eie kanaal, het in 2024 ‘n rekord getal van 43 000+ kykers bereik met ‘n gemiddelde kykergetal van ± 700 per erediens. In 2025 bereik die webwerf die mylpaal van 100 000+ kyker getalle. Plaaslik en wêreldwyd is daar dus ‘n behoefte om gereeld ‘n erediens te ontvang, al is dit in hul eie binnekamer.
“Staaltjies oor die tye…”
Hier volg slegs enkele staaltjies wat sekerlik aangevul kan word met nog menige vertellinge van die lidmate in die gemeente.
Nagmaal gebruike
In die vroeë jare van die gemeente se bestaan moes daar besin word of hulle die beker of die nagmaalkelkies gaan gebruik, wat deur die Engelse, na die Groot Griep van 1918 ingestel is, en deur Dr. William Nicol van Johannesburg-Oos ingevoer is. Op die Kerkraadsvergadering van Saterdag 29 Februarie 1936 het die leiers van die gemeente finaal oor die saak besluit. Daar moes ‘n Nagmaal servies aangekoop word. Nadat Ds. Malan die vergadering gepas geopen het met gebed, het hy ook die vergadering daarop gewys, uit Fil. 2, dat die vergadering eensgesind moet wees, ten alle koste. Die voordele van die kelkies is duidelik uitgewys, en na stemming, is op na een, eenstemmig. Daar is dus van toe hoofsaaklik van die kelkies gebruik gemaak.
Ambulans van Groot-Brakrivier
In daardie vroeë jare het die Predikant sommer ook as ambulansman opgetree. Die siek gemeentelede het eerstens die predikant geskakel. Dié het dan besluit of die persoon siek genoeg is, waarna die betrokke persoon na Mosselbaai se hospitaal vervoer is.
Wegkruip agter ‘n bos
Ds. De Jager het vertel hoe hy vergeefs weggebruik het, tydens ‘n kort vakansie aan Groot-Brakrivier, sodat Ds. Van der Merwe hom nie sou raaksien om te vra om ‘n Sondag preek waar te neem nie. Dit was vergeefs, want Ds. Van der Merwe het hom raakgesien en hy het daardie Sondag die preek waargeneem, in geleende klere. Hy is ook kort daarna beroep na die gemeente waar hy vir 4 jaar diens gedoen het.
Kinders tydens Kerkraadsvergaderings
Daar word vertel, in Dr Keller se tyd, hoe die kinders van die Ou Pastorie, tydens Kerkraadsvergaderings, al die kerkraadskinders en dorpskinders bymekaar gemaak het en die sirkelroete saam gestap, gekuier en op horings geneem het, sonder die medewete van die gemeenteleiers. “As die kat weg is, is muis baas.”
Gesig van die NG. Kerk Groot-Brakrivier Gemeente
Die gemeente is ‘n Omgee gemeente wat plaaslik en in die res van die wêreld betrokke is met mense, uitdra van die Woord, en uitleef van die Gawes wat God aan die Gemeente toevertrou. Almal is welkom, soos die visie van die gemeente dit duidelik uitwys.
Die gemeentelede is betrokke by die bedieninge (Bybelstudies, Diensverhoudinge, Eiendom, Erediens, Gasvryheid, Getuienis, Kommunikasie, Omgee en Ondersteuning) aksies en fondsinsamelings wat deur die gemeente geloods word. Gemeentefeeste word ruimskoots ondersteun, met ‘n oop hand, deur die lidmate en ander plaaslike mense, en is ‘n heerlike lekker-kuier en saamwerk geleentheid waar mense mekaar beter kan leer ken.
Die nuwe ‘waardes’ waarop besluit is in 2024, is Aanvaarding, Deernis, Eensgesinde blydskap in Christus, Gasvryheid en Mededeelsaamheid.
Erkennings en Bronnelys
Booysen Ria (2023) Familie lid van Ds. Keller (1968-1974)
Erasmus, B.P.J. (2004) Oppad in Suid-Afrika. ‘n Streek-vir-streek-gids. Jonathan Ball Uitgewers.
Gerber, G. & Gerber A. (2010) In woord en beeld 1935 – 2010: Geskiedenis van die NG Gemeente Groot-Brakrivier. Renaissance Design & Print Studio.
Redakteur (1985) NG Gemeente, Groot-Brakrivier November 1935 – November 1985. Group Editors
Roodt, P (2025) Emiritus predikant
SA Country Life September 1999. Prohibition Village.
Van Ginkel, C.E. (2025), Navorsing, verwerking en samestelling, van hierdie dokument.
Webtuistes:



Kommentare is gesluit.