Dit is seker ’n cliché om die stelling te maak dat ons in voortdurend veranderende tye leef. Dit is egter empiries waarneembaar dat die tydsgewrig waarin ons tans leef gekenmerk word deur snel opeenvolgende gebeurtenisse met omvangryke impak op gemeenskappe. Hierdie impak voel dikwels aardskuddend met ontwrigtende gevolge vir almal wat daardeur geraak word. Die werklikheid van globale interaktiwiteit en onderlinge verbondenheid het die effek van ’n web wat beweeg wanneer enige van die drade daarvan geraak word. Dit is waarvan ons by CLF ook die afgelope aantal jare bewus geword het met Covid, die oorlog in Oekraïne, plundering in KZN in 2022, jarelange oorloë in Sirië, aardbewings in Turkye en noem maar op.
By CLF is ons diep bewus daarvan dat dit presies die wêreld is waarbinne die Here hierdie
bediening vandag roep om van sy liefde en verlossing te getuig. Te midde van die kontekstuele ontwrigting en uitdagings rondom ons, is daar ’n gees van entoesiasme en roepingsbesef binne die CLF. Personeel, Beheerraadslede en ondersteuners openbaar ’n bewussyn dat God sy kerk en kinders roep om sy koninkryk te laat kom, ook deur die bediening van CLF.

