Detail
Prediker: Ds. Hendrik Saayman
Tema:
‘n Getuigende lewe 24/7.
Bring (en wees) Die Goeie Tyding
Musiek: ProChristo en Johann Botes
Datum: 20-21 September 2025
Prediker: Ds. Hendrik Saayman
Tema:
‘n Getuigende lewe 24/7.
Bring (en wees) Die Goeie Tyding
Musiek: ProChristo en Johann Botes
Datum: 20-21 September 2025
Wil jy graag saam met ander gelowiges in ‘n veilige / gemaklike ruimte inoefen hoe om missionaal te wees?
Kom wees saam met ons deel van ‘n besonderse dag waar ds. Hendrik Saayman vir ons gaan kom meedeel hoe om die verstaan van kerkwees radikaal te verdiep en jou dankbaarheid uit te leef. Sy tema vir die dag is:
"Geroep en gestuur, 'n getuigende lewe, vier en twintig sewe".
‘n Besprekingsessie sal daarna gehou word oor hoe om praktiese uiting tot hierdie dankbaarheid te bied in die NG Groot-Brakrivier Gemeente waar dankbaarheid alreeds prakties uitgeleef word, sal ondersoek word.
Die geleentheid word met ‘n gesellige middagete afgesluit.
Dit alles vir slegs R25 per persoon ten einde kostes te dek.
Pen asseblief 20 September 2025 in jou dagboek neer en registreer voor/op 16 September 2025 by die kerkkantoor om jou deelname te bevestig.


| Sprekers | |||
| Eugene Pienaar | Gideons | Is 100 miljoen genoeg | info.pienaar@gmail.com |
| Ds Hendrik Saayman | NGK Houtbaai | n Geesdriftige Gemeente – Hand 19 | hendriksaayman54@gmail.com |
| Marina Louw | Frontiers SA | Tot aan die uithoeke vd wereld | mlouw777@gmail.com |
| Dr Jurie Vermeulen | FEBA Radio | Bybelse Beginsels vir effektiewe sending | jvermeulen@febaradio.co.za |
| Dr Johan Louw | MegaVoice Int | Dissipelmaking in ‘n wêreld wat nie lees nie | jlouw@megavoice.africa |
| Stories vanuit die sendingveld | |||
| Suria Scholtz | Ethnos Movement International | “-30, ‘n Strategie vir sending” | suria.scholtz@ethnosmi.org |
| Ds Hendrik Saayman | NGK Houtbaai | Tema: Wie weet wat, Skrif: Lukas 1:1-4 | |
| Ds Charné Viljoen | NGK G/Brakrivier | Nagmaal | charne.mathewson@gmail.com |
| Gemeentes | |||
| Unis Oosthuizen | NGK Hartenbos | Uitstalling | unis@suremasters.co.za |
| Uitstallers | |||
| Dawid & Heimah | Sendelinge – Nepal | Uitstalling | dawidheimah@gmail.com |
| Blackie Swart | Arbeidsbediening Mosselbaai | Saam met Pierre Lambrechts en Johan Pretorius | gerhard@thegreenoffice.com |
| Unis Oosthuizen | NGK Hartenbos | Uitstalling | unis@suremasters.co.za |
| Alfie Viljoen | Foodsocks | Uitstalling | alfie@echo.org.za |
| Paul Smuts | Gideons | Uitstalling | pauljsmuts@icloud.com |
| Dr Jurie Vermeulen | FEBA Radio | Uitstalling | jvermeulen@febaradio.co.za |
| Dr Johan Louw | MegaVoice Int | Uitstalling | jlouw@megavoice.africa |
| Marina Louw | Frontiers SA | Uitstalling | mlouw777@gmail.com |
| Mark Ftnes-Clinton | Operasie Mobilisasie | Uitstalling | Mark.fynes-clinton@om.org |
| Bets Nel | Searle Memorial | Uitstalling | betsnel@outlook.com |
| Jannes Buys | GBR Netwerkforum | Uitstalling | jannes@wonderfulsa.co.za |
| Sonja Pelser | Skarrelhuisie | Uitstalling | |
| Suria Scholtz | Ethnos Movement International | Uitstalling | suria.scholtz@ethnosmi.org |
| Isabella Buys | Little Seeds/SmartStart | Uitstalling | isabella@littleseeds.org.za |
| Aletia Nortje | NGK Groot-Brakrivier | Uitstalling | aletia.nortje@gmail.com |
Die NG Kerk Groot-Brakrivier se Getuienisbediening, het die naweek van 12-14 Julie 2024, ‘n Getuienisnaweek gereël met die Tema: Jesus vir Almal. Die geleentheid het jou laat besef dat jy die voorreg gehad het om ‘n kykie te kry in die wyse wat God besig is, op soveel aanvullende maniere. Jy kan nie onaangeraak bly nie. Die feit dat jy daar was, is God se manier om met jou te werk; om jou voor te berei, waarvoor Hy jou nodig het. Dit is nie altyd vir ons so maklik om dit raak te sien nie, maar God doen dinge in die stiltes van jou nabetragting, of tydens geleenthede soos dié naweek. Die Heillige Gees dryf jou, om ook betrokke te raak, daar waar daar ‘n behoefte is vir jou kundigheid, en vir elkeen se spesiale unieke inslag. Van die sprekers en uitstallers tot die Groot-Brakrivier se “Brass band” het die naweek suksesvol gemaak deurdat hulle passievol as gelowiges, as geroepenes in elke faset waar hulle betrokke is, ‘n verskil maak, omdat hulle geroepe is en geluister het na die Stem van die Heilige Gees.
Vrydagaand se getuienisse is ingelei deur die fasiliteerder , Dr Frans Hancke, ‘n baie bekende in die Sending kringe, en die verwelkoming en opening is deur Ds Charné Viljoen behartig. Die eerste spreker was Eugene Pienaar van die Gideons, met die tema “Is 100 miljoen genoeg?’. Dié organisasie het sy oorsprong gehad het in 1989 in ‘n hotelkamer, waar twee Amerikaanse sakemanne, John Nicholson en Samuel Hill, mekaar ontmoet het, toe hulle noodgedwonge ‘n kamer in ‘n hotel moes deel. Beide was gelowiges, en die Heilige Gees het hulle gedring om die verkondiging van die Evangelie onder sakemanne te begin. Dit het uiteindelik gelei tot die stigting van die Gideons en die bybelverspreiding soos ons dit vandag ken. Hulle het na God se stem geluister, en daar is sekerlik min van ons wat nie al met die Bybels van die Gideons bekend is, of in aanraking gekom en ‘n pad gestap het nie. Daar in die alleenheid van hotelkamers en gastehuise is daar menigmaal die Gideonbybels beskikbaar, om die aand mee te verwyl. Die werk onder die jeug en gevangenis is toegelig met getuienisse van mense wat nog nooit die woord van God gehoor of verstaan het nie, en deur die Gideonbybels aangeraak en verander is, om te besef dat Christus se voorbeeld die enigste Lig is.
Ds. Hendrik Saayman, tans van NG kerk Houtbaai, het Vrydagaand se getuienis afgesluit met die tema “’n Geedriftige Gemeente”, toegelig uit Handelinge 19 en die voorbeeld van Paulus. Die oortuigings werk is nie iets wat noodwendig oornag gebeur nie, maar verg toewyding en uithouvermoê, om uiteindelik by die einddoel uit te kom. Sy getuienis uit ervarings van die werking en leiding van die Heilige Gees in sy eerste gemeente het gedien as voorbeeld. Die behoefte vir fondse vir ‘n jong gemeente seun, wat geroepe gevoel het om as sendeling uit te gaan om die woord te verkondig, het ‘n impak gemaak. Die behoefte was in terme van vandag, ‘n skamele R15 000, om die nodige opleiding te kry. In die Gemeente, wat nie finansieël sterk was nie, het die Kerkraad tog gevoel om te kyk of hulle die seun nie kan ondersteun nie. Die gemeente is bymekaar geroep en gevra om ‘n verbintenis te maak, soos wat dit vir elkeen moontlik was. Dit is by wyse van anonieme briefies gedoen. Die uitkoms was ‘n verstommende R 26 000. Dit was daarom vir die gemeente moontlik om twee jongmanne te stuur vir die opleiding. Die stem van die Heilige Gees is deur ‘n hele gemeente aangeraak, wat geluister het! Sy passie is om plaaslike gemeenskappe bewus te maak van hulle roeping om God te dien in hulle eie plaaslike gemeenskappe. Ds Saayman het ook die voorreg gehad om jare later ‘n gelowige man, wat tot bekering gekom het deur ‘n groep waar die seun as sendeling betrokke was, in ‘n midde-ooste land, te ontmoet.
Saterdagoggend is die verrigtinge begin deur die vrolike, en passievolle musiek van Groot-Brakriver se jongmense se ‘Brass Band’ onder leiding van Pietman Davids. Pietman was geroep om die kinders van Groot-Brakrivier van die strate af te kry. Die orkes was net halfsterkte, want hulle is aktief betrokke in die gemeenskap, en het ook ander verpligtinge gehad. Die entoesiasme van die kinders en die impak op die jong kinders se lewens, waarvan ons die getuienis van twee jong dogters gehoor het, was sigbaar en verblydend. Pietman se luister na die roeping wat oor sy pad geplaas is, het ‘n wonderlike impak op die kinders van Groot-Brakrivier. Mens word gelaat met die vraag: “Kan ons afsydig staan deur die nood en behoefte wat in ons direkte omgewing is?”
Marina Louw, die voltydse mobiliseerder van SA Frontiers, se tema was “Tot aan die uithoeke van die wêreld”. Sy is gedring om mense te kry om in die 10/40 Moslem en duister wêreld van lande van Noord Afrika, dwarsoor die middeooste tot by China, mense te kry wat die Lig van Christus in ‘n baie donker, en vyandiggesinde wêreld, in te neem. ‘n Treffende video van duisende mense wat nog nie die lig ervaar het of die bevrydende Evangelie van Jesus Christus gehoor het nie, het die enorme verlies aan siele duidelik uitgebeeld in daardie wêreld dele. Die behoefte is groot om in hierdie te kort aan beskikbare en oortuigde ligdraers, ‘n verskil te maak. ‘n Wêreld wat baie aggresief vyandig is teenoor die mense wat die Lig en bevryding wil bring.
Dr Jurie Vermeulen, uitvoerende beampte van FEBA, het ‘n passie vir opleiding, sending en die uitdra van die Evangelie, die enigste Waarheid. Sy tema vir die oggend was “Bybelse beginsels vir effektiewe Sending”. Die skep van radio stasies wêreldwyd, met reik wydte in areas wat voorheen baie donker en onbereikbaar was. Die Stasies word beman met mense wat etniese verbintenisse het met die reik-lande en word voltyds gevul met die uitdra van die Evangelie. Tweehonderd en sestig stasies het ‘n reikwydte van vyftig lande, met die gebruik van 152 tale en met 150 miljoen luisteraar terugvoere per jaar. FEBA se fokus is in die lande waar die grootste nood is. Sy oordra van FEBA se werksaamhede is toegelig uit die Woord van God. Bybelse voorbeelde is hulle dryfkrag, wat hulle leiding deur die Heilige Gees beklemtoon. Die effektiwiteit van die aksie wys hoe mense, deur die aanraking van die Heilige Gees, entoesiasties en met oorgawe werk vir die verspreiding van die Evangelie van Jesus Christus.
Dr Johan Louw, met die tema “Dissipelmaking in ‘n wêreld wat nie lees nie”, is van Opvoedkundige agtergrond en betrokke by MegaVoice. MegaVoice fokus op die besef dat mense wat nie lees nie, nie die Woord van die Evangelie van Jesus Christus kan hoor nie. Sy demonstrasie van die feit dat effektief net omtrent 15% mense aktiewe lesers is, laat ons met ‘n steierende 75-80% mense wat nie die verlossende Woord van God op enige ander manier as mondeliks of deur audio-visuele maniere kan hoor nie. Die tegnologiese ontwikkelinge van vandag, is fenominaal. Die gebruik van eenvoudige en alledaagse toerusting, soos die flits, wat deur sonpaneeltjies aangedryf word. Dit word in nutuur rampgebiede versprei. Die eenvoudige hulpmiddel het ‘n ingeboude radio waardeur die Woord van God verder versprei kan word. Dit is prakties, funksioneel en versprei die Lig in meer as een wyse. Dit open ook deure in wêrelddele wat voorheen onbegaanbaar was vir draers van die Lig van God.
“Stories vanuit die Sendingveld”, het gefokus rondom Luk. 10: 2 (“Hy het vir hulle gesê: Die oes is groot, maar die arbeiders min.”) Hulle is betrokke by die opleiding van jongmense wat die Evangelie uitdra na veral die Afrika vasteland. Hy het menige verhale wêreldwyd, waar die werk van God deur die Heilige Gees. Sy entoesiastiese wyse om bv. voorbeelde waar Regerings dit moeilik maak vir mense uit die westerse wêreld om sendingwerk te doen, soos in Brazilië, kom plaaslike mense tot bekering en begin self onder hulle eie mense groepe sendingwerk te doen. Menige wonderlike weergawes van waar mense tot bekering kom, en self begin om die Evangelie aan hulle eie mense te bring. Hy beklemtoon die krag van gebed, waar enigiemand vir spesifieke mense kan bid, waar God die gebede beantwoord en mense uitstuur na spesifieke plekke. Hy sluit af met die baie waar stelling: “Al wat ons hemel toe kan vat is siele, ons het een lewe om te lewe, ons kan dit nie op onsself mors nie!”
Suria en Coen Scholtz, van Ethnos Movement International, se tema “-30, ‘n strategie vir Sending”, is gefokus op die bou van vriendskappe met mense in die alledaagse omgaan in mens se lewe. Hulle fokus is op Afrika en die uniekheid van elke mens. Sy gebruik onder andere die verhaal van Jesus se gesprek en effek met die Samiritaanse vrou by die water put (Joh. 4) en die besetene van Gerasa (Markus 5) om te demonstreer hoe Jesus enkel, onwaarskynlike mense gebruik om die Evangelie verder te verkondig. Mense wat nog nie vir Jesus Christus ken nie, maar wat oor mens se pad kom. Daardeur kan elke mens, daar waar jy beweeg en werk, ‘n verandering in die gemeenskap te weeg bring. Ons moet net so leef sodat mense kan sien en beleef dat jy ‘n kind van God is, deur die liefde van die Ware God wat jy uitdra, sodat hulle lewens vir altyd sal vernader. Ons kan grense oorsteek hier, waar ons woon.
Die Naweek is afgesluit deur die Sondag Erediens en Nagmaal. Die Erediens, met die tema: “Wie weet wat?” wat deur Ds Hendrik Saayman behartig is. Die preek was baie treffend. Die demonstrasie van die dogtertjie wat haar broertjie beveel om die kanale te verander op die TV, en haar antwoord op sy vraag van “Hoekom?”; van die handjie, waarvan die vingertjies elkeen nie veel skade kan aanrig nie, maar wanneer daardie vingertjies saam werk in die vorm van ‘n vuisie, raak dit ‘n ‘weapon of mass destruction’ wat ‘n baie groot impak kan hê, was visueel en het die krag van samewerking duidelik oorgebring, veral tussen al die verskillende Sendingaksies. So ook die droom van die man wat saam met sy gesin stap deur ‘n geslote tonnel, wat deur die ‘hel’ gaan, oppad na die hemel. Hulle word kort-kort onderbreek deur die harde geklop van bekendes aan die buitkant, wat dringend en beskuldigend vra, “Jy het geweet, hoekom het jy my nie vertel nie” het die boodskap baie duidelik oorgedra dat ons moet oorloop met die passie om ander te vertel, hier en nou, waar ons elke dag ‘n verskil kan maak. God self sal die oortuigings werk doen, maar ons het elkeen die verantwoordelikheid om te vertel. “Hoe kan enigiemand weet, as iemand nie vertel het nie?”. Die Nagmaal is bedien deur Ds. Charné Viljoen, ‘n predikant van NG Kerk Groot-Brakrivier, as afsluiting van ‘n wonderlike Gees-gevulde naweek.
Sendingaksie uitstallings was deurgaans deur die naweek beman in die Kerksaal, vir enige navrae, of vir mense wat meer inligting wou kry, of aktief wou betrokke raak. Die Uitstallings het ingesluit: Grootbrak Netwerk Forum, Frontiers SA, Radio FEBA, Operasie Mobilisasie, MegaVoice International, Wonderful SA Foundation, Helpende Hand, Arbeidsbediening Mosselbaai, Gideons, Food Socks, Skarrelhuis, Ethnos Movement International, Searle Memorial Church (Outreach Inspiration), NGK Hartenbos en NGK Groot-Brakrivier Sendeling Aktiwiteite. Die instansies dek ‘n verskeidenheid van aksies lokaal en internasionaal, en het ‘n wonderlike oorsig gegee van die werk van mense wat geroepe gevoel het om ‘n verskil te maak.
Wanneer mens sien waar daar oral, wêreldwyd, aktief deur soveel verskillende instansies gewerk word om die Evangelie by al die mense uit te kry, kan mens agteroor sit en begin dink dat mens nie nodig is nie. Maar dit is duidelik uit die oorsigte van al die sprekers dat ons geroep kan word om uit te gaan, weg van ons bekende; maar God bring ook die buitewêreld hier na waar ons woon. Vir die van ons wat nie geroepe word om uit te gaan na ander lande toe nie, moet ons die Evangelie hier waar ons woon uitdra. Dit moet ‘n lewensstyl word, omdat ons onvoorwaardelik glo en entoesiasties is vir die wonderlike vrede en vreugde wat ons ervaar omdat Jesus Christus ons lewens radikaal oorgeneem het, en ons nie anders kan as om oor te loop van die die liefde, vreugde en vrede wat God in ons lewens bewerkstellig het. Ons moet die onbereiktes vertel, van hierdie skat wat ons ontvang het. Dis ‘n skat wat uitgedeel moet word!
Die Gasvryheidsbediening van die Gemeente het die hele naweek heerlike verversings keurig opgedien.