Week 3 Dag 12 – Ongerieflik: Ons is die Plan – 9 Weke van Transformasie

Die Rabbi se Reis

’n Wonderlike storie oor die rabbi van Nemirov het die rondte gedoen. Op elke geestelike vakansiedag was hy heel oggend nêrens te vind nie. Sy volgelinge het gesê: “Maar dis duidelik – hy vaar sulke oggende op hemel toe om by God te wees!”

Die storie is oorvertel totdat dit deur die hele streek bekend was. Op ’n dag het ’n twyfelaar in Nemirov aangekom en besluit om dié simpel storie stop te sit deur dit wetenskaplik te ondersoek.

Een aand het hy in die rabbi se huis ingeglip en onder sy bed weggekruip. Uiteindelik het dit oggend geraak, tyd vir die rabbi om op te vaar hemel toe om by God te wees. Die twyfelaar het gehoor hoe die rabbi opstaan en sy oggendgebed doen. Toe doen die rabbi iets snaaks: Hy trek ’n ou baadjie, verslete broek en stewels aan en begin met ’n byl en ’n ou sak oor die skouer
aanstap woud toe – soos ’n tipiese houtkapper.

Die twyfelaar is agterna. Hy het gesien hoe die rabbi hout bymekaarmaak, dit kleiner kap en die sak vol maak. Die rabbi en sy agterdogtige waarnemer is toe dieper die woud in. Uiteindelik kom hulle by ’n klein huisie waar die rabbi aanklop. Die twyfelaar kon die swak stemmetjie van ’n ou vroutjie hoor: “Wie is dit?”

“Dis Vassil, die houtkapper,” het die rabbi bot geantwoord.
“O, is dit jy?” sê die stemmetjie. “Maar ek kan nie opstaan nie.”
“Toe maar, ek sal die hout inbring.”
“Sal jy dalk die vuur ook aansteek?” het die stemmetjie gevra.
“Ek kan maar,” het die rabbi geantwoord en die twyfelaar het gesien hoe hy die vuur aansteek en die oggendgebed vir die vroutjie doen.

Daarna is die rabbi terug huis toe, waar hy sy houtkapperklere uitgetrek en met sy normale dagtake aangegaan het.

Toe gebeur ’n verstommende ding…

Die twyfelaar het kom aanbid in die sinagoge en uiteindelik by die gemeente aangesluit. Wanneer iemand die storie vertel van die rabbi wat opvaar hemel toe, het die twyfelaar nie meer gelag nie. Hy sou net doodernstig byvoeg: “Ja, indien dit nie nog hoër is nie.”

Geneem uit Stories vir die Lewe-Omnibus, vertalings en samestelling deur Elzette Hansen & Estelle Steenkamp

Gebed

Vra die Here om sy dienskneggesindheid in jou lewe eg te maak en in die praktyk na vore te laat kom. Wees daarom voorbereid en oop vir die Heilige Gees se werking in hierdie volgende paar oomblikke van delf in sy Woord.

Lees die Skrif

Lees Joh 15:1-17 biddend in afhanklikheid van die Here om jou te lei in sy wil vir jou lewe.

Joh 15:1-17

151Daar het sekere mense van Judea af gekom wat die broers aanhou leer het: “As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kan julle nie verlos word nie.” 2Aangesien hieroor meningsverskil ontstaan het, en Paulus en Barnabas met hulle ‘n woordestryd gevoer het wat hoegenaamd nie onbenullig was nie, het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog ‘n paar ander uit hulle geledere na die •apostels en ouderlinge in Jerusalem moes opgaan oor hierdie strydvraag. 3Hulle is toe deur die •gemeente weggestuur, en het deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig oor die bekering van die heidene berig, en sodoende groot vreugde aan al die broers verskaf. 4Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente en die apostels en ouderlinge ontvang. Paulus en Barnabas het vertel wat God alles met hulle gedoen het. 5Sommige mense wat aan die •Fariseërs se party behoort en gelowig geword het, het egter opgestaan en gesê: “Hulle moet besny word en opdrag kry om die •Wet van Moses te onderhou.”

6Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem. 7Toe ‘n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. 8En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. 9Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig. 10Waarom wil julle God dan nou toets deur ‘n juk, wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie, op die dissipels se nekke te plaas? 11Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.”

12Toe het die hele vergadering stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister, terwyl hulle vertel van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. 13Toe hulle ophou praat, het Jakobus gesê: “Broers, luister na my. 14Simeon het verduidelik hoe God van die begin af toegesien het dat Hy uit die heidene ‘n volk vir sy Naam sou verkry. 15Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos daar geskryf staan:

16“ ‘Daarna sal Ek terugkom
en Ek sal die vervalle huis
van Dawid weer opbou,
en Ek sal die bouvalle daarvan
herbou en dit herstel,

17sodat die res van die mensdom
die Here kan soek,
ja, al die nasies oor wie my Naam
uitgeroep is.
So sê die Here, wat hierdie dinge doen’

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Fil 2:5; 1 Tess 4:3; Heb 12:14; 1 Pet 1:15, 16, 19.

Fil 2:5;
5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:

1 Tess 4:3;
3Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid,

Heb 12:14;
14Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 

1 Pet 1:15, 16, 19.
15Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

19maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. 

Skryf / Vul in

Die Bybel as Woord van God, leer ons in die eerste plek van die God van die Woord. Wat leer die gelese gedeeltes jou van die Drie-enige God?


Wat leer dit jou van sy wil vir jou lewe? Wat beteken dit in die praktyk om heilig te lewe?


Dink na / Besin

Dink ’n bietjie na oor die volgende stelling:
As daar nie ’n verskil is tussen jou lewe en dié van ’n ongelowige nie – is jy dan werklik ánders (Eks 33:12-17; Sag 8:23; Mal 3:14-4:3)?!

Eks 33:12-17;
12Moses het vir die Here gesê: “Kyk, U sê vir my, ‘Laat hierdie volk optrek,’ maar self maak U nie aan my bekend wie U saam met my sal stuur nie. U is die Een wat gesê het, ‘Ek ken jou by die naam, en jy het ook guns gevind in my oë.’ 13Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is.” 14Die Here het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee?” 15Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. 16Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie?” 17Die Here sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken.”

Sag 8:23;
23“So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Dit sal in daardie dae wees dat tien mense uit al die tale van die nasies die kleed van ‘n Jood gryp en vashou terwyl hulle sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.” ’ ”

Mal 3:14-4:3

14Julle het gesê, ‘Dit is heeltemal nutteloos om God te dien en wat baat dit ons as ons die verpligtinge teenoor Hom nakom en in rouklere loop voor die Here, Heerser oor alle magte? 15Daarom noem ons nou die verwaande mense gelukkig, want die kwaaddoeners beleef nie net voorspoed nie, maar hulle daag God uit en kom nog daarmee weg ook.’ ”

16Daarop het dié wat vir die Here ontsag het, met mekaar geredeneer. Die Here het goed geluister en dit gehoor. Dit is toe in sy teenwoordigheid in ‘n gedenkboek opgeteken tot voordeel van diegene wat ontsag vir die Here en respek vir sy Naam het.

17“Hulle sal aan My behoort,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “hulle sal my persoonlike eiendom wees op die dag wat Ek voorberei. Ek sal deernis met hulle hê, soos ‘n man deernis het met sy seun wat vir hom werk. 18Dan sal julle weer die verskil sien tussen regverdiges en wetteloses, tussen wie God dien en wie Hom nié dien nie.

41“Want kyk, die dag gaan kom, dit gaan brand soos ‘n oond. Dan sal al die verwaande mense en elke booswig kaf wees, en die dag wat kom, sal hulle verbrand,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “daar sal nie wortel of tak van hulle oorbly nie. 2Maar vir julle wat ontsag het vir my Naam, sal die son van geregtigheid deurbreek met genesing in sy strale. Dan sal julle uitgaan en bokspring soos kalwers wat op stal was, 3en julle sal die goddeloses vertrap. Ja, hulle sal as onder die sole van julle voete wees, op die dag wat Ek voorberei,” sê die Here, Heerser oor alle magte.

Jesus is die verskil – en Hy alleen kan die verskil in my lewe maak! Met die beeld van die Ware Wingerdstok en die lote, sê Jesus vir ons dat Hy die Groot Verskil is. Jesus is die bron van krag en ware lewe. Dit is Hy wat ons in beweging bring. Dit is Hy wat van ons vrugdraers en daarom verskilmakers maak. Die uitnemendste van hierdie vrug van die Heilige Gees, is die liefde (1 Kor 13; Gal 5:22).

1 Kor 13;

131Al praat ek die tale
van mense en engele,
maar ek het nie liefde nie,
dan het ek ‘n weergalmende ghong
of ‘n kletterende simbaal geword.
2En al profeteer ek,
en begryp ek alle geheime,
en besit ek alle kennis,
en al het ek al die geloof
om berge te versit,
maar ek het nie liefde nie,
is ek niks!
3Al deel ek al my besittings uit,
en gee ek my liggaam oor,
sodat ek my daarop kan beroem,
maar ek het nie liefde nie,
baat dit my niks.
4Liefde bly geduldig,
liefde gee om,
liefde is nie jaloers nie,
spog nie,
en is nie verwaand nie.
5Liefde tree nie onbehoorlik op nie,
jaag nie eiebelang na nie,
is nie liggeraak nie.
Dit hou nie boek van die kwaad nie,
6is nie bly oor onreg nie,
maar is saam bly oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verduur alles.
8Liefde faal nooit nie.
Maar profesieë,
dit sal tot ‘n einde kom;
of tale, dit sal ophou;
of kennis, dit sal tot niet gaan.
9Want ons ken gedeeltelik,
en ons profeteer gedeeltelik,
10maar wanneer die volmaakte gekom het,
sal wat gedeeltelik is, ophou bestaan.
11Toe ek nog ‘n kind was,
het ek gepraat soos ‘n kind,
gedink soos ‘n kind,
geredeneer soos ‘n kind.
Noudat ek volwasse is,
het ek die dinge van ‘n kind agtergelaat.
12Nou sien ons wel ‘n geheimnisvolle beeld,
soos in ‘n spieël,
maar eendag van aangesig tot aangesig.
Nou ken ek slegs gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken,
soos ek ten volle geken is.
13En nou bly geloof, hoop en liefde,
hierdie drie –
maar die grootste hiervan is die liefde.

Gal 5:22
22Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 


Daar is net een ander opsie: om lote los van die Wingerdstok te wees. Deur sulke lote vloei geen lewegewende sap nie en hulle word afgesny en verdroog. Sulke lote word deur mense bymekaargemaak en in die vuur gegooi. Jesus sê: “ sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5). Sonder Jesus sal daar geen verskil wees nie.
Hoe gebeur dit dan nou, dat ek en die gemeente aan Jesus kan deel hê? Die wonderlike Nuus is dat God dit op Hom geneem het. Ons keuse vir Hom is maar net ’n eggo van sy keuse vir ons. Daarom dat Jesus sê: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.” Jesus wat in ons teenwoordig is, doen opnuut ’n dringende beroep op ons om in Hom te bly!

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook 1 Joh 4:19; 1 Kor 12:3; Rom 8:15,16; Deut 7:6-7.

1 Joh 4:19;
19Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.

1 Kor 12:3;
3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie.

Rom 8:15,16;
15Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” 

Deut 7:6-7

6want jy is ‘n heilige volk vir die Here jou God. Vir jou het die Here jou God gekies uit al die volke op aarde om as volk sy persoonlike eiendom te wees.

7“Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. 

Dit beteken dat Jesus ons daartoe oproep om in die gewone lewe van elke dag hierdie verskil te gaan uitleef teenoor almal wat ons pad kruis. Dit kom in die praktyk veral op twee terreine na vore:

  1. Die terrein van onselfsugtige dade van liefde: Die rabbi binne ons verhaal herinner aan die Barmhartige Samaritaan wat iemand in nood, sy naaste maak – al beteken dit dat ek op ’n baie nederige manier diensbaar moet wees of selfs van my tyd, geld en energie moet gee. Jesus gaan so ver om te sê dat ons selfs bereid moet wees om ons lewe af te lê.
    David Bosch het by geleentheid gesê: “Om die Woord van die liefdevolle God uit te lê, sonder om daardie liefde teenoor jou naaste uit te leef, is soos om ’n spyskaart vir ʼn klomp hongerlydendes voor te lees sonder om die dis vir hulle voor te sit.”
    Om die liefde van Jesus prakties uit te leef, veronderstel nie volmaaktheid nie, maar gewilligheid om in Jesus te bly en aan Hom gehoorsaam te wees. Dit beteken egter ook dat ek as onvolmaakte kind van die Here na heiligheid streef omdat God heilig is en omdat God my van my sondige bestaan losgekoop het deur die bloed van Jesus (Rom 7:15-25; 1 Pet 1:15, 16, 19).
    Rom 7:15-25;
    15Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. 16En as ek dit doen wat ek nie wil nie, gee ek toe dat die wet goed is. 17Nou is dit egter nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.
    18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie. 19Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20Maar as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.
    21Dus vind ek hierdie wet: Wanneer ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 22In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God, 23maar ek sien ‘n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is. 24Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan? 25Aan God die dank – deur Jesus •Christus, ons Here!
    So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde.

    1 Pet 1:15, 16, 19
    15Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
     19maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. 

  2. Die terrein waarop ek vir lewe en dood téén die sonde stry. Dit
    beteken dat ek standpunt inneem (Rom 1:18-32).
    Rom 1:18-32
    18Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, 19aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. 20Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; 21want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. 22Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. 23Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir ‘n afbeelding soos dié van ‘n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
    24Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer 25– hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen. 26Daarom het God hulle oorgegee aan oneerbare drange, want hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. 27Net so het ook die mans die natuurlike seksuele omgang met die vrou laat vaar en vurig begin brand van begeerte na mekaar; mans het met mans skandelikheid bedryf en in hulleself die verdiende loon vir hulle afwyking ontvang.
    28En omdat hulle dit as verwerplik beskou het om aan God erkenning te gee, het God hulle oorgegee aan ‘n verwerplike denkwyse, sodat hulle onbetaamlik optree. 29Hulle is vol van elke vorm van onreg, boosheid, hebsug en kwaad: vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid en kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, 30kwaadstokers, haters van God, brutaal, hooghartig en grootdoenerig, vindingryk om slegte dinge te bedink, ongehoorsaam aan hulle ouers; 31onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos en sonder medelye 32– mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat die mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat hulle dit boonop goed wanneer ander dit doen
    .
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Ps 97:10; Rom 6:1-23; Gal 2:19,20; Heb 12:1-4; 1 Joh 1:5-10; 3:3-10.

Ps 97:10;

10Julle wat die Here liefhet,
moet die kwaad haat.
Hy beskerm die lewe
van sy troue volgelinge;
uit die hand van goddeloses
red Hy hulle.

Rom 6:1-23;

DOOD VIR DIE SONDE EN LEWEND VIR GOD

61Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? 2Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?

3Of weet julle nie dat ons wat in •Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? 4Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei. 5As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in ‘n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in ‘n opstanding soos syne. 6Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. 7Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. 8As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. 9Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 10Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 11Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.

ALLES TOT BESKIKKING VAN GOD

12Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. 13Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God. 14Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.

15Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie!

16Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. 17Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; 18vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword 19– ter wille van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. 20Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie.

21Watter vrug het julle destyds verkry? Oor daardie dinge skaam julle julle nou, want die uiteinde daarvan is die dood. 22Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. 23Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.

Gal 2:19,20;

19Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; 20ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die •Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. 

Heb 12:1-4;

AANMOEDIGING OM TE VOLHARD

121Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. 3Dink inderdaad aan Hom wat so ‘n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie.

4Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

1 Joh 1:5-10;
‘N LEWE IN DIE LIG VAN GOD

5Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 6As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie; 7maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. 9As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. 10As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

1 Joh 3:3-10

3En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. 4Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. 5Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. 6Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie.

7Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. 8Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. 9Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie.

Skryf / Vul in

Dink vir ’n oomblik na oor jou lewe. Watter verskille (indien enige) sal sigbaar wees as die vrug van die Gees (Gal 5:16-17, 22) in jou lewe gesien en ervaar word, omdat die Heilige Gees die beheer het en God ook jou gedagtes nuutgemaak het (Rom 12:1-2)?

Gal 5:16-17, 2216Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. 17Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie.
22Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 

Rom 12:1-21Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. 2Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is

Skryf die verskille neer.


Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Week 3 Dag 12 Die andersheid van gelowiges word gesien in heilige lewens
Week 3 Dag 12 Die andersheid van gelowiges word gesien in heilige lewens
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 56-59, 81-85
Lees gerus ook Jos 24:15-28; Rig 2:7-11; 2 Kon 24:9, 19; Spr 28:9, 13; Matt 3:7-8; Ef 5:6-20; 6:10-18; 2 Tim 3:1-5; 4:1-5; Jak 4:4.

Jos 24:15-28;

15Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”

16Hierop het die volk geantwoord en gesê: “Nooit sal ons die Here verlaat deur ander gode te dien nie; 17want die Here ons God, Hy is die Een wat ons en ons voorouers uit Egipteland, uit die plek van slawerny, laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens van mag gedoen het. Hy het ons bewaar op die hele pad waarlangs ons gegaan het, en onder al die volke waar ons deurgetrek het. 18Die Here het al die volke voor ons uitgedryf en die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien, want Hy is ons God.”

19Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle sal nie in staat wees om die Here te dien nie, want Hy is ‘n heilige God, Hy is ‘n besitlike God, Hy sal nie julle oortreding en sondes vergewe nie. 20As julle die Here verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en ‘n einde aan julle maak, nadat Hy aan julle goed gedoen het.” 21Toe sê die volk vir Josua: “Nee, maar ons sal net die Here dien!” 22Daarop sê Josua vir die volk: “Julle is getuies teen julleself dat julle self die Here vir julle gekies het om te dien.” Hulle het geantwoord: “Ons is getuies.” 23“Verwyder dan nou die vreemde gode in julle midde en rig julle harte op die Here, die God van Israel.” 24Toe sê die volk vir Josua: “Ons sal net die Here ons God dien, en ons sal net na sy stem luister.”

25Josua het op daardie dag namens die volk ‘n verbond gesluit en vir hulle vaste voorskrifte en bepalings neergelê in Sigem. 26Josua het daardie woorde in die •boekrol met die Wet van God neergeskryf. Toe het hy ‘n groot klip geneem en dit opgerig, daar onder die groot terebintboom wat by die heiligdom van die Here is. 27Josua het vir die hele volk gesê: “Kyk, hierdie klip sal ‘n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die Here wat Hy met ons gepraat het, gehoor; en hy sal teen julle ‘n getuie wees, sodat julle nie julle God verloën nie.”

28Daarna het Josua die volk weggestuur, elkeen na sy erfdeel.

Rig 2:7-11;

7Die volk het die Here gedien gedurende Josua se leeftyd, en ook gedurende die leeftyd van die oudstes wat lank ná Josua nog geleef het, hulle wat al die groot dade van die Here gesien het wat Hy vir Israel gedoen het. 8Josua, seun van Nun, die dienskneg van die Here het op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf. 9Hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Geres, wat in die heuwelland van Efraim geleë is, noord van die berg Gaäs.

10Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar ‘n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. 11Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hulle het die Baäls gedien.

2 Kon 24:9, 19;
9Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy vader gedoen het.

19Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Jojakim gedoen het.

Spr 28:9, 13;

9Wie sy oor wegdraai,
sodat hy nie na die wet
hoef te luister nie –
selfs sy gebed is afstootlik.

13Wie sy oortredings bedek,
sal nie sukses behaal nie;
maar hy wat dit bely en dit laat vaar,
ervaar ontferming.

Matt 3:7-8;

7Maar toe hy sien dat baie van die •Fariseërs en •Sadduseërs kom na waar hy gedoop het, het hy vir hulle gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? 8Dra liewer vrugte wat by die bekering pas.

Ef 5:6-20;

IN DIE LIG LEWE

6Laat niemand julle verlei met niksseggende redenasies nie, want daardeur kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. 7Moet dus nie deel van hulle wees nie. 8Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig. Leef as kinders van die lig! 9Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en •geregtigheid en waarheid. 10Beproef wat vir die Here aanneemlik is. 11Ja, moenie deel hê aan die onvrugbare werke van die duisternis nie; stel dit eerder aan die kaak. 12Want die dinge wat deur hulle in die geheim gedoen word – selfs net om daaroor te praat, is skandelik. 13Tog word alles wat deur die lig ontmasker word, openbaar; 14immers, alles wat sigbaar word, is lig. Daarom word gesê:

Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood
en •Christus sal sy lig
oor jou laat skyn.

DIE LEWE DEUR DIE GEES

15Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef – nie as onverstandiges nie, maar as wyses. 16Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. 17Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is. 18En moenie deur wyn bedwelm raak nie; daardeur ontstaan losbandigheid. Inteendeel: Word vervul deur die Gees, 19terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing, 20en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus •Christus dank.

Ef 6:10-18;

OPROEP TOT GEESTELIKE BEWAPENING

10Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. 11Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. 12Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. 13Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. 14Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van •geregtigheid, 15en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, 16en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus. 17Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. 18By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges.

2 Tim 3:1-5;
31Dit moet jy weet: In die laaste dae gaan daar moeilike tye kom; 2want die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos, 3ongevoelig, genadeloos, beledigend, sonder selfbeheersing, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4verraaiers, roekeloos, hooghartig, lief vir plesier eerder as vir God, 5mense wat wel ‘n skyn van godvresendheid voorhou, maar wat die krag van godvresendheid misken. Bly weg van sulke mense.

2 Tim 4:1-5;

41Ek vermaan jou ernstig voor God en •Christus Jesus, wat die lewendes en die dooies gaan oordeel, en ook met die oog op sy verskyning en sy koninkryk: 2Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering. 3Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. 4Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend.

5Maar bly jy in alles nugter, verduur jou lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, beoefen jou bediening voluit. 

Jak 4:4.
4Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za