Week 02 Dag 08 – Ons het dit nie uitgedink nie? – Ons is die plan: 9 Weke van Transformasie

Stelling 01: God was steeds die eintlike Uitreiker (Vader)
Stelling 02: God kom self Hy word Sendeling (Seun)
Stelling 03: God is steeds die eintlike Sendeling (Heilige Gees)

Gebed

Stel jou in op God se teenwoordigheid. Skakel af van alles wat nie nou op God fokus nie en word bewus van die feit dat jy in die teenwoordigheid van die lewende, Drie-enige God is wat jou liefhet en ook in hierdie oomblikke deur sy Woord en Gees met jou wil praat.

Lees die Skrif

Stelling 01: God was steeds die eintlike Uitreiker (Vader)

Lees Jes 49:5-6; Mark 12:1-12; 1 Kor 1:29-31.

Jes 49:5-6
5Maar nou, die Here het gepraat
– Hy wat my in die moederskoot
al gevorm het as ‘n dienskneg
vir Hom –
sodat ek Jakob na Hom
kan terugbring,
sodat Israel vir Hom
byeengebring kan word.
In die oë van die Here word ek geëer;
my God het my krag geword.
6Hy het gesê: “Dit is nie genoeg
dat jy vir My ‘n dienskneg is
om die stamme van Jakob op te rig nie,
om dié wat bewaar gebly het van Israel,
te laat terugkeer nie.
Ek gee jou as ‘n lig vir nasies,
sodat my heil sal strek tot aan
die uiteindes van die aarde.”

Mark 12:1-12
121Hy het toe met hulle in gelykenisse gepraat: “’n Man het ‘n wingerd aangeplant. Hy het dit omhein, ‘n parskuip gegrawe en ‘n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. 2Op die regte tyd het hy ‘n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hy van hulle die opbrengs van die wingerd kon ontvang. 3Maar hulle het hom gegryp, afgeransel en met leë hande teruggestuur. 4Daarna het hy weer ‘n ander slaaf na hulle gestuur, en hierdie een het hulle oor die kop geslaan en verneder. 5Hy stuur toe nog een. En hierdie een het hulle doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, van wie hulle sommige geslaan en ander doodgemaak het. 6Hy het nog net een oorgehad – sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle gestuur met die gedagte: Hulle sal my seun met respek behandel. 7Daardie landbouers het egter onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood, en die erfdeel sal ons s’n wees.’ 8Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. 9Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom, die landbouers doodmaak en die wingerd vir ander gee. 10Julle het tog hierdie Skrifgedeelte gelees,
“ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het,
juis dit het die hoeksteen geword.
11Van die Here het dit gekom,
en dit is wonderlik in ons oë.’ ”
12Hulle wou Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare. Hulle het immers besef dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle het Hom met rus gelaat en weggegaan.

1 Kor 1:29-31
29sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie. 30Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding. 31Daarom, soos daar geskryf staan: “Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here.”

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Matt 21:33-46; Luk 20:9-19.

Matt 21:33-46
23Hy het na die tempelterrein gegaan, en terwyl Hy besig was om onderrig te gee, het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk na Hom gekom en gevra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het aan jou hierdie gesag gegee?” 24Jesus het hulle geantwoord: “Ook Ek sal julle net een vraag vra, en as julle My kan antwoord, sal Ek op my beurt vir julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen: 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom? Van die hemel of van mense?” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy vir ons sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 26Maar as ons sê, ‘van mense …’ – ons is bang vir die skare, want almal beskou Johannes as ‘n profeet.” 27Hulle het Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Toe sê Hy vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

GELYKENIS VAN TWEE KINDERS

28“Wat dink julle? ‘n Man het twee kinders gehad. Hy gaan toe na die eerste een en sê, ‘My kind, gaan werk vandag in die wingerd.’ 29Maar hy antwoord, ‘Nee, ek wil nie.’ Later het hy egter spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander kind gegaan en dieselfde gesê. Hy het geantwoord, ‘Ek sal, heer,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Hulle sê: “Die eerste een.” Jesus sê vir hulle: “•Amen, Ek sê vir julle, die •tollenaars en prostitute sal voor julle in die •koninkryk van God ingaan. 32Want Johannes het na julle gekom met die pad van •geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en prostitute het hom geglo. En hoewel julle dit gesien het, het julle tog nie later berou gekry en hom geglo nie.”

GELYKENIS VAN DIE HUURDERS

(Mark 12:1-12; Luk 20:9-19)

33“Luister na ‘n ander gelykenis. Daar was ‘n grondeienaar wat ‘n wingerd aangeplant het. Hy het dit omhein, ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. 34Toe die oestyd aanbreek, het hy sy slawe na die landbouers gestuur om sy opbrengs te ontvang. 35Maar die landbouers het sy slawe gegryp, een afgeransel, ‘n ander een doodgemaak, en nog een gestenig. 36Hy het weer ander slawe gestuur, nog meer as die eerstes, en hulle het dieselfde met hulle gedoen. 37Uiteindelik het hy sy seun na hulle gestuur, met die gedagte, ‘Hulle sal my seun met respek behandel.’ 38Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, en kry sy erfdeel in die hande.’ 39Hulle het hom toe gegryp, uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. 40Wanneer die eienaar van die wingerd kom, wat sal hy met daardie landbouers maak?” 41Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie slegte mense ‘n aaklige dood laat sterf, en die wingerd aan ander landbouers verhuur wat aan hom die opbrengs op die regte tyd sal lewer.” 42Jesus sê vir hulle: “Het julle nog nooit in die Skrifte gelees nie:
“ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het,
juis dit het die hoeksteen geword.
Van die Here het dit gekom,
en dit is wonderlik in ons oë.’
43“Daarom sê Ek vir julle: Die •koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer. 44Wie op hierdie klip val, sal verpletter word; en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.”
45Toe die leierpriesters en die •Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy van hulle praat. 46Hulle wou Hom gevange neem, maar was bang vir die skare, omdat dié Hom as ‘n profeet beskou het.

Luk 20:9-19
9Hy het die volgende gelykenis aan die volk vertel: “Daar was ‘n man wat ‘n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir ‘n lang tyd op reis gegaan. 10Teen oestyd het hy ‘n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. 11Daarna het hy weer ‘n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. 12Die eienaar het nog ‘n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi.
13“Toe sê die eienaar van die wingerd, ‘Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur – dalk sal hulle hom met respek behandel.’ 14Toe die landbouers hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, sodat die erfdeel ons s’n kan word.’ 15Hulle het hom toe uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? 16Hy sal kom en die landbouers doodmaak, en die wingerd aan ander gee.”
Toe die mense dit hoor, sê hulle: “Mag dit nooit gebeur nie!” 17Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan:
“ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het,
juis dit het die hoeksteen geword.’”
18“Elkeen wat op daardie klip val,
sal verpletter word,
en as dit op iemand val,
sal dit hom vergruis.”
19Die skrifkenners en die leierpriesters wou Hom onmiddellik gevange neem, omdat hulle besef het dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle was egter bang vir die volk.

Skryf / Vul in

Wie is die eienaar van die wingerd? Wie stuur al die boodskappers?


God het steeds bly uitreik na sy mense: “Adam, waar is jy?” (Gen 3:9 9Die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”). Selfs toe Hy sy wingerd (Israel) geplant het, het Hy voortgegaan om betrokke te bly. Hy het aangehou stuur, om te herinner aan die verbond, om met die wet te vermaan en om deur sy profete en leiers die pad te wys.

Stelling 02: God kom self Hy word Sendeling (Seun)
Die Seun word gestuur “hulle sal tog my seun ontsien!” Dit is waar die gelykenis kan mislei: Dit is nie Iemand anders wat gestuur word nie, dit is God Self. Hy verneder homself deur mens te word, ’n arme slaaf, wat ly tot aan die kruis (Fil 2:5-8)!

Fil 2:5-8
5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,|
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,
8het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam
geword het tot die dood toe,
ja, die dood aan die kruis.

As mens kom wys Jesus vir ons God se hart, praat Hy God se woorde en doen sy dade. Hy kom wys hoe God as ’n sendeling optree. Meer nog: Hy kom dra die somtotaal van die ongehoorsaamheid van God se mense en betaal daarvoor met sy bloed. (Vgl Job se gebed in Job 9:27-35.)

Job 9:27-35

27As ek sê,
‘Ek wil my klagte vergeet,
my gesigsuitdrukking verander
en vrolik lyk,’
28word ek bang vir al my lyding:
Ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.
29Ek is die een wat skuldig sal bly.
Waarom sou ek my dan nog vermoei vir niks?
30Al was ek my met sneeuwater,
en reinig my hande met potas,
31sal U my steeds in ‘n kuil
dompel,
sodat selfs my klere my afstootlik vind.
32“Ja, Hy is nie ‘n mens, soos ek,
dat ek my teenoor Hom kan verweer,
en ons saam na die gereg kan gaan nie.
33As daar maar iemand was
wat die saak tussen ons kon besleg,
wat sy hand oor ons albei kon hou!
34God sou sy staf van my moes verwyder;
sy verskrikking sou my dan nie ontstel nie.
35Dan kon ek praat
sonder om Hom te vrees;
maar in my geval is dit nie so nie.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus Ps 49:8-16; Joh 4:34; 5:19-20; 14:6-11, 24; Rom 3:25-26; 1 Kor 6:19-20; 2 Kor 5:20-21; 1 Joh 1:7

Ps 49:8-16
8Een familielid kan nooit
‘n ander vrykoop nie,
hy kan nie aan God die losprys
vir hom betaal nie,
9want die vrykoopprys
vir hulle lewens is te hoog
en hy moet vir altyd daarvan afsien
10dat hy vir ewig kan leef
en die graf nie sal sien nie.
11‘n Mens sien immers
dat wyse mense sterf;
saam met die dwaas
en die onverstandige vergaan hulle
en laat hulle besittings aan ander na.
12Hulle graf is hulle tuiste vir altyd,
hulle woning van geslag tot geslag.
Hulle noem stukke grond na hulleself,
13maar ‘n mens met skatte
is nie blywend nie;
hy is net soos die diere –
hulle gaan ten gronde;
14dit is hulle lewenspad,
dié wat vol selfvertroue is,
hulle einde,
dié wat van hulle eie uitsprake hou. •Sela

15Soos kleinvee is hulle
vir die •doderyk bestem,
die dood is hulle herder,
teen die môre heers opregtes oor hulle.
Hulle liggame is bestem
vir vertering deur die doderyk,
ver van hulle indrukwekkende wonings.
16Maar God sal my lewe vrykoop
uit die mag van die doderyk,
ja, Hy sal my wegneem. •Sela

Joh 4:34
34En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.

5:19-20
19Hierop het Jesus vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. 20Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom groter dade as dit wys, sodat julle verwonderd sal staan. 

14:6-11, 24
6Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” 8Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” 9Jesus sê vir hom: “Ek is al so ‘n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ 10Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self.

24Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het.

Rom 3:25-26
25-26God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar.

1 Kor 6:19-20
19Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? 20Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.

2 Kor 5:20-21
20Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! 21Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

1 Joh 1:7
7maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

Lees die Skrif

Stelling 03: God is steeds die eintlike Sendeling (Heilige Gees)

Lees Hand 1:4, 5; Gal 3:1-5

Hand 1:4, 5
4Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. 5Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.”

Gal 3:1-5
EVANGELIE IN GALASIË
31O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor – julle voor wie se oë Jesus •Christus voorheen as gekruisigde uitgebeeld is? 2Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 3Is julle so dwaas? Julle het met die Gees begin; wil julle nou met die vlees eindig? 4Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! 5Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het?

Skryf / Vul in

Waarom moes die dissipels in Jerusalem bly?


Soos van die begin af, roep God steeds mense. Hy roep hulle na Hom en stuur hulle die wêreld in om van Hom te getuig om te doen dit wat God nog altyd bedoel het sy mense moet doen. God se mense moes egter nie sonder Hom probeer om die wêreld tot Hom terug te roep nie. Hy – die eintlike Sendeling (die Heilige Gees) – sou hulle meeneem in sy sending in die wêreld. Soos die Vader Jesus gestuur het die wêreld in en in sy persoon met Hom was, so stuur Hy sy dissipels uit met hierdie belofte: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus: Matt 10:19-20; Joh 15:26-27; 17:18,20; 20:21; Hand 1:4-8; Rom 8:1-17 (:9,15,16); 10:9-17; Fil 2:13; 4:13.

Matt 10:19-20
19En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. 20Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

Joh 15:26-27
26“Wanneer die Parakleet kom wat Ek van die Vader af aan julle sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet ook getuig, omdat julle van die begin af by My is.

Joh 15:17:
17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê.”

Joh 15:18,20;

18“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 
 20Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde gehoorsaam het, sal hulle ook julle woorde gehoorsaam.

Joh 20:21
21Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 

Hand 1:4-8
4Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. 5Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.”
JESUS SE HEMELVAART
6Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” 7Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.”

Rom 8:1-17
‘N LEWE ONDER BEHEER VAN DIE GEES
81Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3Dit waartoe die wet, verswak deur ons sondige aard, nie in staat was nie, het God gedoen: Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van ‘n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel, 4sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees. 5Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. 6Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. 7Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie.

9Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. 10Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. 11As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, het ons ‘n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. 13Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. 14Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. 15Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” 16Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. 17Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

(Rom:9,15,16);
15Vir Moses sê Hy tog:
“Ek sal My ontferm
oor wie ook al
Ek My wil ontferm,
en Ek sal barmhartig wees
teenoor wie ook al
Ek barmhartig wil wees.”
16Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm.

Rom 10:9-17
9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” 12Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. 13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”

14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? 15En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”

16Nie almal het egter aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja vra immers: “Here, wie het geglo toe hulle ons gehoor het?” 17Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.

Fil 2:13;
13Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.

Fil 4:13
13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. 

Opsomming:
God (die Vader) het sending in sy hart; God (die Seun) word self
sendeling; God (die Heilige Gees) sit die sending voort.

God maak egter ook van mense gebruik. Hy roep hulle (ons, sy Kerk!) om sy medesendelinge (mede-gestuurdes) te wees. Moet dit net nooit sonder Hom probeer doen nie!

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus: Jes 43:10-12; 49:1-6; Joh 15:5; 1 Kor 3:6-9.

Jes 43:10-12
10“Julle is my getuies,”
is die uitspraak van die Here,
“my dienskneg wat Ek uitgekies het,
sodat julle My kan ken,
in My kan glo,
en kan insien dat dit Ek is.
Voor My is daar nie ‘n god gevorm nie,
en ná My sal daar nie een wees nie.
11Ek, ja, Ek is die Here,
en daar is geen verlosser
buiten My nie.
12Ek is die Een
wat dit bekend gemaak het;
Ek het verlos
en dit aangekondig –
Ek, nie ‘n vreemde onder julle nie.
En julle is my getuies,”
is die uitspraak van die Here,
“dat Ek God is.

Jes 49:1-6
491Luister na my, eilande,
gee aandag, afgeleë nasies!
Die Here het my reeds geroep
toe ek in die moederskoot was;
Hy het reeds my naam genoem
toe ek in my moeder se liggaam was.
2Hy het my mond
soos ‘n skerp swaard gemaak,
in die skaduwee van sy hand
het Hy my weggesteek.
Hy het my ‘n geslypte pyl gemaak,
in sy pylkoker het Hy my versteek.
3Hy het vir my gesê:
“Jy is my dienskneg, Israel,
deur wie Ek my heerlikheid toon.”
4Ek het egter gedink:
Tevergeefs het ek my
moeg gemaak.
Verniet, vrugteloos het ek
my kragte ingespan.
En tog, die beslissing oor my
lê by die Here,
my beloning is by my God.
5Maar nou, die Here het gepraat
– Hy wat my in die moederskoot
al gevorm het as ‘n dienskneg
vir Hom –
sodat ek Jakob na Hom
kan terugbring,
sodat Israel vir Hom
byeengebring kan word.
In die oë van die Here word ek geëer;
my God het my krag geword.
6Hy het gesê: “Dit is nie genoeg
dat jy vir My ‘n dienskneg is
om die stamme van Jakob op te rig nie,
om dié wat bewaar gebly het van Israel,
te laat terugkeer nie.
Ek gee jou as ‘n lig vir nasies,
sodat my heil sal strek tot aan
die uiteindes van die aarde.”

Joh 15:5
5Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. 

1 Kor 3:6-9
6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei. 7Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei. 8Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. 9Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.

Skryf / Vul in

Oordink die volgende vrae en reageer deur daarop te antwoord:

Is jy ’n sendeling?


Watter soort sendeling?


Watter plek het die Heilige Gees regtig in jou daaglikse lewe?


Kan jy getuig van God se uitreik na die wêreld deur jou lewe?


Beleef jy dat God na jou uitreik?


Hoe reik God na jou uit?


Gebed

Erken dat jou lewe in God se hande is en dat Hy gekies het om ook vir jou as instrument van sy seën in die wêreld te gebruik. Wat ʼn voorreg! Loof Hom daarvoor (Vgl Gal 1:15.15Toe God dit egter goedgevind het – Hy wat my afgesonder het van voor my geboorte af en my deur sy genade geroep het –)

week 2dag 6 Sending begin by God
week 2dag 6 Sending begin by God
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 37-39
Lees gerus ook Gen 12:3; Rom 9:6-8; 1 Kor 3:6-9; 12:3; 2 Kor 3:5; 4:13-15; Gal 3:7-9,14.

Gen 12:3
3Ek sal hulle seën wat jou seën,
maar wie jou verwens,
sal Ek vervloek.
En deur jou sal al die grootfamilies
van die aarde geseënd wees.”

Rom 9:6-8
6Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. 7Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou.

1 Kor 3:6-9
6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei. 7Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei. 8Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. 9Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.

1 Kor 12:3
3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie.

2 Kor 3:5
5Nie dat ons uit onsself bekwaam is om te reken dat iets uit onsself kom nie – nee, ons bekwaamheid kom van God. 

2 Kor 4:13-15
13Maar aangesien ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskryf staan, “Ek het geglo, daarom het ek gepraat” – glo ons ook, en daarom praat ons. 14Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek, en julle voor Hom sal stel. 15Want dit gebeur alles ter wille van julle, sodat die genade, wat steeds meer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God.

Gal 3:7-9,14
7Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. 8En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën.

14Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.

Wenk

OPMERKING: God soek nie ’n kerk of gemeente met ’n sending- of getuienisaksie nie, maar ’n gestuurde kerk! Gesels vandag met iemand hieroor en probeer bepaal wat die verskil is.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za