Hoe om die gids te gebruik: Ons is die plan – 9 weke van transformasie

Hoe jy dié gids gebruik is van groot belang. As jy soos ek is, sal jy die inleidings en voorskrifte ignoreer en dadelik by die eerste studie inval – dit sal ’n reuse flater wees! So, sit maar 5 minute opsy om verder te lees, sodat jy die maksimum voordeel uit die bundel kan kry.
Kom ons begin by die begin. Die bundel bestaan uit 45 Bybelstudies – dus 9 weke. Vir elke week en dag, is daar ’n besondere tema. Hierdie week- en dagtemas word bo-aan elke studie aangedui.
Die struktuur van die studies is nie elke dag dieselfde nie, want onthou, verskillende persone het hieraan meegewerk. Ons het egter tog ’n basiese raamwerk ingebou sodat jy nie elke dag van nuuts af hoef te wonder wat aangaan nie. Om hiermee te help, gebruik ons ikons, prentjies wat jou deur elke dag se studie sal begelei. Die prentjies beteken die volgende:

Gebed

Geleentheid om te bid; stil te word; te luister …

Lees die Skrif

Skrifgedeeltes wat jy moet lees

Skryf / Vul in

Jy moet jou skryfding nadertrek


Doen die volgende

Hierdie uitroepteken sal jou herinner aan dinge wat jy moet doen

Dink na / Besin

Wanneer jy hierdie weerligstraal sien, wil ons hê jy moet oor iets nadink en besin

Wenk

Die skryfblokkie gee interessante wenke, of maak opmerkings, wat die dag se studie sal verryk

Luister na lied

Jy moet luister na ’n spesifieke snit luister

Delf dieper
Delf dieper

Ons wil nie graag hê jy moet vasval in talle Skrifverwysings nie – die dieper delf vergrootglas gee egter bykomstige verwysings wat gelees kan word deur dié wat behoefte daaraan het

Hierdie prentjies behoort jou te help sodat jy nie in die materiaal sal verdwaal nie. Volg dus net rustig die verloop van elke dag se studie en gepaardgaande wenke.

Aan die einde van elke dag se studie, is daar ’n boublok wat probeer om die kernwaarheid van die dag in ’n enkelsin saam te vat.

Aan die einde van elke week se studies is daar ’n groepstudie wat gebruik kan word vir persone wat afsonderlik en gesamentlik deur die materiaal werk. Ek wil aanbeveel dat jy, nadat jy elke dag se studie afgehandel het, na die bladsy vir die week se groepgesprek sal blaai en invul wat van toepassing is. Dit beteken dat jy met die gids in jou hand die groepstudie kan bywoon en ’n opwindende saamgesels te wagte kan wees.

Ons probeer om jou deurlopend te help fokus. Daarom maak ons gebruik van kernwaarhede. Hierdie kort uitsprake som eintlik die hele studie vir elke dag op.
Ons het op sekere konvensies besluit toe die gids saamgestel is. Die afkortings wat vir Bybelboeke gebruik word, is ooreenkomstig die benadering wat deur die 1983 vertaling van die Afrikaanse Bybel gevolg word. Die woord “kerk” word soms met ’n hoofletter en ander kere met ’n kleinletter gespel. Wanneer ’n hoofletter gebruik word, word daar verwys na die universele Kerk – die Kerk van Jesus Christus deur die eeue oor die wêreld. Die spelling met ’n kleinletter verwys hoofsaaklik na die kerk soos wat dit as plaaslike gemeente manifesteer. Wanneer die woord “Koninkryk” met ’n hoofletter gespel word, word verwys na God se Koninkryk. Die woorde “missionêr” en “missioneel” word ook beide gebruik. Die woord “missioneel” verwys veral na die Bybelse beginsel dat die hele Kerk deur God gestuur word. Hy is die Een wat stuur! Dit word dus gebruik wanneer na die Kerk of gemeente se karakter, aard en eienskappe van gestuurdheid verwys word.

Daar word telkens in ’n blokkie aangetoon waar in die Ons-is-die-Plan handboek jy meer inligting oor die dag se onderwerp te lese kan kry. Dit sal die moeite werd wees as jy hierdie gedeeltes in die handboek onder oë kan kry, want daarin word natuurlik baie meer breedvoerig oor dié sake geskryf. (Handboek op aanvraag by diePlan se kantoor beskikbaar.)

Ons probeer jou belewenis verryk deur soms ’n CD-snit aan te beveel waarna jy moet luister. Dit sal goed wees as jou Bybelstudieplek daarvoor voorsiening maak. Indien nie, kan jy net die woorde van die snit lees soos dit in die gids weergegee word.

Hierdie Bybelstudiemateriaal vorm ’n geïntegreerde geheel. Op die binne-agterblad is ’n volkleurmodel wat dit verduidelik. Kyk gerus daarna, maar moenie bekommerd wees as dit aanvanklik onduidelik is nie. Teen die einde van week 9 sal ek jou begelei om alles as ’n logiese geheel te verstaan.

Die gids is doelbewus as ’n A4-grootte ontwerp. Dit vergemaklik die skrywery wanneer jy daaruit werk.

Ten slotte. Ek weet dat kortpad soms die maklikste pad is. Vermy dit asseblief! Stel jouself in om elke aktiwiteit en opdrag in die gids deur te werk. Anders gaan jy nie die volle voordeel van die 9 weke ervaar nie. Hoeveel tyd is daarvoor nodig? Met 30 minute per dag behoort jy elke studie te kan deurwerk, maar ek glo dat ’n uur per dag meer geleentheid vir in-diepte oordenking bied en dus ’n ryker ervaring sal waarborg.

Daar word voorgestel dat die groepgesprekke as volg hanteer word:


Wanneer die studie ook in groepverband gebruik word, moet elke deelnemer daaraan, na afloop van elke dag se studie, na die bladsye blaai wat vir die komende groepgesprek voorsiening maak.

Die volgende vrae word dan kortliks beantwoord:
Ÿ Bybelverse wat jou vandag aangespreek het.
Ÿ Belewenisse en ervarings tydens vandag se Bybelstudie.
Ÿ Wat het jy geleer of ontdek?
Ÿ Hoe het vandag se studie jou tot aksie geïnspireer, hoe het jy geestelik gegroei of jou lewe verander?
Ÿ Iets wat jy graag met die groep wil deel of bespreek?

Dit is natuurlik nie nodig om elke dag op al die vrae te reageer nie. Soos die week verloop, ontwikkel daar natuurlik ’n groeiende reaksie op elke vraag wat aan die einde van die week met die groep bespreek kan word.

Op die dag van die groepstudie, kom elke deelnemer met sy Bybelstudiegids na die byeenkoms en maak dit by die week se groepstudie oop. Iemand fasiliteer die gesprekke, besprekings en verloop van die byeenkoms.

Die volgende struktuur kan gebruik word:
Ÿ Begin deur geleentheid te gee om nuus met mekaar te deel.
Ÿ Lofprysing en aanbidding: ’n Paar liedere kan saamgesing word met geleentheid vir gebed tussenin – of alternatiewelik, net geleentheid vir gebed.
Ÿ Begin dan deur elkeen van die bogenoemde 5 vrae of stellings te bespreek. Op dié manier word daar byvoorbeeld uit die Woord gelees en kry ’n persoon geleentheid om te sê waarom die spesifieke Skrifgedeeltes hom of haar aangespreek het. Nadat daar nie meer bydraes oor ’n vraag of stelling is nie, word die volgende een hanteer.
Ÿ As daar spesifieke voorstelle in die gids vir die dag se studie is, kan dit gebruik word – byvoorbeeld ’n snit van die CD.
Ÿ Die fasiliteerder luister fyn na die gesprekke en bydraes en identifiseer deurlopend punte vir gebed. Dit word by die opskrif “gebedsonderwerpe” neergeskryf. Aan die einde van die byeenkoms, word persone gevra om die fasiliteerder se lys gebedsonderwerpe aan te vul. Hierna lees die fasiliteerder die onderwerpe vir die groep wat dit dan in hul eie gidse kan aanteken om deur die loop van die volgende week persoonlik daarvoor te bid. Die groepgesprek kan dan afgesluit word met gesamentlike gebed vir dié genoemde sake.
Ÿ Ten slotte word daar aan die einde van die groepstudieblad oor elke dag se boublok ’n vraag gevra, of ’n stelling gemaak. Hierdie 5 vrae of stellings kan tot prikkelende gesprekke aanleiding gee. Indien tyd beskikbaar is, kan die groep ook van hierdie vrae of stellings bespreek.