Week 5 Dag 25 – ‘n Lewende verhouding – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Ons is nou aan die einde van ’n week waarin ons gedink, gebid en gepraat het oor God se kommunikasie met ons. Een van die onfeilbare vernietigers van verhoudings is ’n gebrek aan kommunikasie. Selfs in die natuur geld hierdie beginsel – maak nie saak op watter lae vlak dit plaasvind nie, dis noodsaaklik vir ’n verhouding en ’n verbintenis. Dit is juis een van die mees uitsonderlike faktore wat ons as die kroon van die skepping onderskei – die lewende God kommunikeer met ons persoonlik en kollektief. Wat meer is, Hy stel ons in staat om met Hom te kan kommunikeer!

Gebed

Gebruik nou tyd om na Hom te luister en dank Hom vir hierdie onbeskryflike voorreg.

Dit lyk asof daar 3 dinge in ons verhouding met die Here in plek moet wees sodat ons kragtig deur Hom gebruik sal word:

  1. Beskikbaarheid;
  2. Gehoorsaamheid; en
  3. Nederigheid.

Natuurlik maak dit ’n verskil wanneer ons tot sy beskikking is en tyd in sy teenwoordigheid deurbring. Dis egter nie so eenvoudig om beskikbaar te wees nie. Ons raak voortdurend besiger en die eise van elke dag raak meer uitmergelend. Die uitdaging om elke dag aan te pak, verrinneweer al ons pogings om genoeg toegewyde tyd in die Here se teenwoordigheid deur te bring. Om beskikbaar te wees, vra dat ons radikale aanpassings in ons programme (en prioriteite) moet aanbring. Dit gaan noodwendig ’n prys vra.

Jesus se voorbeeld wys dat Hy nie beperkte tyd vir die Vader gegee het nie. Al sy tyd het aan God behoort!

Skryf / Vul in

Lees Mark 1:32-35; Luk 4:42-43; 5:15-16; 6:12-13.

Mark 1:32-35;

32Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. 33Die hele dorp het by die deur saamgedrom. 34Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.

35Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na ‘n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. 

Luk 4:42-43;

42Teen dagbreek het Hy vertrek en na ‘n verlate plek gegaan. Die skares het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, het hulle Hom probeer verhinder om van hulle af weg te gaan. 43Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.”

Luk 5:15-16;

15Die nuus oor Jesus het egter nog verder versprei. Groot skares het om Hom saamgedrom om na Hom te luister en van hulle kwale genees te word. 16Hy het Hom egter gereeld teruggetrek na afgeleë plekke en daar gebid.

Luk 6:12-13

12In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God.

13Teen dagbreek het Hy toe sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle •apostels genoem.


Hoe het Jesus dit reggekry om nie toe te gee aan die eise van mense nie, maar om gefokus te bly op dit waarvoor die Vader Hom gestuur het?


Die tyd wat Jesus in afsondering deurgebring het, was nie ’n lastigheid om afgehandel te word en agter die rug te kry nie. Dit het juis rigting, fokus en krag aan sy dag gegee. Soms praat die Here met ons op ongeleë tye, juis om ons beskikbaarheid te toets. Sy opdragte mag soms ook nie vir ons sin maak nie, maar ons moet Hom gehoorsaam, want sy weë is nie ons weë nie (Jes 55:8-9).

Jes 55:8-9

8“Ja, my planne is nie julle planne nie,
en julle paaie is nie my paaie nie,”
is die uitspraak van die Here.
9“Want soos die hemel hoër is as die aarde,
so is my paaie hoër as julle paaie,
en my planne as julle planne.

Filippus was midde in ’n groot herlewings-veldtog in Samaria, toe hy die opdrag van die Here kry om na die stil pad tussen Gasa en Jerusalem te gaan. Hy het nie daaroor geredeneer nie, maar gegaan (Hand 8:4-8, 26-27a).

Hand 8:4-8, 26-27a

4Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. 5En Filippus het na ‘n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. 6Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. 7Want die •onrein geeste in baie mense het met ‘n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. 8En daar het groot vreugde in daardie stad geheers.

26‘n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak gereed en gaan na die suide, met die pad wat van Jerusalem afwaarts loop na Gasa. Dit is ‘n verlate pad.” 27Hy het toe gereedgemaak en vertrek.

Sonder nederige verootmoediging sal ons God beswaarlik kan hoor (Dan 10:12).

Dan 10:12

12Hy sê toe vir my, ‘Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde.

Rehabeam en Manasse het hulle verootmoedig voor God en Hy het hulle omstandighede verander (2 Kron 12:6-7; 33:10-13).

2 Kron 12:6-7;

6Die aanvoerders van Israel en die koning het hulle verootmoedig en gesê: “Die Here het gelyk.”

7Toe die Here sien dat hulle hulle verootmoedig, het die woord van die Here tot Semaja gekom: “Hulle verootmoedig hulle. Ek sal hulle nie vernietig nie, maar sal binnekort vir hulle uitkoms bied. My woede sal nie oor Jerusalem uitgestort word deur die hand van Sisak nie, 

2 Kron 33:10-13

10Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het nie geluister nie. 11Die Here het toe die leëraanvoerders van die koning van Assirië teen hulle laat optrek. Hulle het Manasse gevange geneem met hake in sy neus, hom met bronsboeie geboei, en hom na •Babel geneem.

12Maar toe hy in die noute was, het hy die Here sy God se guns gesoek, hom ernstig verootmoedig voor die God van sy voorouers 13en tot Hom gebid. God is geraak deur sy pleitrede en het sy smeekbede verhoor. Hy het hom na Jerusalem, na sy koningskap, laat terugkeer. Manasse het toe erken dat die Here God is.

Nederiges maak nie op hulself staat nie, maar vertrou volledig op die Here (Sag 8:6).

Sag 8:6

6“So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘As dit in daardie dae onmoontlik gelyk het in die oë van hulle wat van hierdie volk oorgebly het, sal dit dan in My oë ook onmoontlik wees?’ ” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook 1 Kon 3:7-9; 2 Kron 7:14; Spr 11:2; 18:12; Jes 57:15; Fil 2:3; Kol 3:12; 1 Pet 5:5.

1 Kon 3:7-9;

7En nou, Here my God, dit is U wat u dienskneg koning gemaak het in die plek van my vader Dawid. Maar ek is ‘n jong seun, ek weet nie hoe om uit te gaan of in te kom nie. 8U dienskneg bevind hom onder u volk wat U gekies het, ‘n groot volk wat vanweë sy grootte nie bereken of getel kan word nie. 9Gee dan aan u dienskneg ‘n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?”

2 Kron 7:14;

14en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Spr 11:2;

2As verwaandheid kom,
kom skande,
maar by beskeie mense
is daar wysheid.

Spr 18:12;

2Voor ineenstorting
is ‘n mens se hart hoogmoedig,
maar nederigheid gaan eer vooraf.

Jes 57:15;

15Ja, so sê Hy wat hoog
en verhewe is,
wat vir ewig woon,
wie se Naam die Heilige is:
“In die hoogte,
in ‘n heilige plek, woon Ek,
en ook by hulle wat verpletter
en nederig is,
om die gees van nederiges
te laat herleef,
om die hart van verpletterdes
te laat herleef.

Fil 2:3;

3deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;

Kol 3:12;

12Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.

1 Pet 5:5

5Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want
“God weerstaan hoogmoediges,
maar aan nederiges gee Hy genade.”

Skryf / Vul in

Lees Joh 4:34;

34En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.

Joh 8:26;

26Ek het baie dinge om van julle te sê waaroor Ek julle kan oordeel; nogtans, Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en wat Ek by Hom gehoor het, dit sê Ek vir die wêreld.”

Joh 15:15.

15Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

Waarop, dink jy, was Jesus se hele bestaan gerig? (Vgl die Skrifgedeeltes wat jy sopas gelees het asook Matt 26:39,
42, 44.)

Matt 26

39Hy het toe ‘n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
42Hy het vir ‘n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
44Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. 


Jesus se hele bestaan was daarop gerig om sy Vader se wil te ken en te doen. Daarom het Hy Homself doelbewus afgesonder om tyd in die teenwoordigheid van sy Vader deur te bring. Verder was Hy ook die toonbeeld van nederigheid (Matt 21:5).

Matt 21:5

5“Sê vir die dogter van Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe:
Hy is sagmoedig en Hy sit op ‘n donkie,
en op ‘n jong donkie,
die vul van ‘n pakdier.”

Hy het dit nie as ’n verlies beskou om die heerlikheid en majesteit van sy Koninkryk te verlaat nie, maar het mens geword, gehoorsaam tot in die dood (Fil 2:5-11).

Fil 2:5-11

5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,
8het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam
geword het tot die dood toe,
ja, die dood aan die kruis.

9Daarom het God Hom
ook uitermate verhoog
en aan Hom die Naam geskenk
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elke knie sal buig –
van diegene in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde –
11en elke tong sal bely,
“Jesus Christus is die Here!”
tot eer van God die Vader.

Beskikbaarheid, gehoorsaamheid en nederigheid vorm die fondasie van ’n lewende verhouding met die lewende God. Slegs vanuit so ’n verhouding sal ons sy stem hoor en sy wil leer ken.

Luister na lied

Luister na snit 9 (KEN JY JESUS) op die ingeslote CD

KEN JY JESUS

Johann Botes – Ken Jy Jesus

KEN JY JESUS – JOHANN BOTES

Ken jy Jesus, ken jy Hom
Het jy met jou lewe al na Hom gekom
Het jy sy vrede al ooit verkry
Ken jy Jesus, Hy maak jou vry

Ken jy Jesus, sal jy weet
Dat niks van die wêreld jou kan oorreed
Niks jou kan wegneem, niks jou skei
Van sy liefde wat in jou bly

Ken jou Verlosser, ken jou Heer
Ken sy genade, sy liefde so teer
Reik na jou Heiland, reik na die Heer
Gee Hom jou lewe, gee Hom beheer

Ken jy Jesus, ken jy Hom
Ken jy al die vreugde in sy Heiligdom
Is Hy Immanuel, God met jou
Gee Hom jou lewe, Hy is getrou

Gebed

Praat met die Here oor wat jy vandag beleef het.

Week 5 Dag 25 verskilmakers staan in n lewende verhouding met God
Week 5 Dag 25 verskilmakers staan in n lewende verhouding met God
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 7-81
Lees gerus ook Eks 33:11-17; Jer 14:9; Luk 5:5; Fil 2:5-8; 1 Joh 5:3

Eks 33:11-17;

11Die Here het met Moses van aangesig tot aangesig gepraat, soos ‘n man met sy vriend praat. Dan het Moses teruggekeer na die kamp, maar sy helper, Josua, seun van Nun, ‘n jong man, het nie die tent verlaat nie.

12Moses het vir die Here gesê: “Kyk, U sê vir my, ‘Laat hierdie volk optrek,’ maar self maak U nie aan my bekend wie U saam met my sal stuur nie. U is die Een wat gesê het, ‘Ek ken jou by die naam, en jy het ook guns gevind in my oë.’ 13Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is.” 14Die Here het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee?” 15Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. 16Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie?” 17Die Here sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken.”

Jer 14:9;

9Waarom is U
soos iemand wat onkant gevang is,
soos ‘n held wat nie kan verlos nie?
U is tog in ons midde, Here;
U Naam is oor ons uitgeroep.
Moet ons nie aan onsself oorlaat nie!”

Luk 5:5;

5“Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.”

Fil 2:5-8;

5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,
8het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam
geword het tot die dood toe,
ja, die dood aan die kruis.

1 Joh 5:3

3Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; 

Wenk

WENK: Lees weer hierdie week se boublokke (Verskyn in Groepgesprek) .

Is alles daarin vervat waar van jou? Fokus jou gedagtes vandag daarop en laat God toe om jou te transformeer

Doen die volgende

Henry T. Blackaby & Claude V. King: Experiencing God, LifeWay Press, Nashville, Tennessee, 1990
Jack Deere: Surprised by the Voice of God, Kingsway Publication, Sussex, 1996

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za