Stof tot nadenke: Wie is in Beheer?

Ek is die Here, Ek het die reg lief, Ek haat roof en misdaad. In my trou sal Ek my volk gee wat Ek beloof het, Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit.
Jes. 61: 8

Ons is in die laaste, sewende en groot lydensweek, wat ons herinner aan die week voor Jesus Christus se kruisiging. Vir Christus was dit ‘n donker week, want Hy het geweet wat op Hom wag. Hy wat as die Seun van God spesiaal gestuur is na hierdie aarde, om as mens vir ons sondes te sterf. Dit was in God se raadsplan so beskik. Hierdie week wil ek kyk na van die mense wat uitgestaan het in die laaste week van Jesus Christus se mense bestaan.

Die week is ingelei deur die dood van Lasarus, die broer van Maria, wat Jesus se voete met reukolie gewas (Gesalfde) en sy voete met haar hare afgedroog het. Jesus het beide Maria en Lazarus liefgehad, maar Hy het tog vertoef nadat Hy die nuus gekry het van Lasarus se dood. Hy het geweet dat dit die inleiding tot Sy eie kruisiging is (“Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (Joh. 11: 4)). By Sy aankoms in Judea, waar die Jode Hom wou stenig, het Hy genoem dat Lasarus slaap, maar die disipels het verkeerd verstaan. Lasarus was dood, maar die uitstel vir Jesus om op te daag, was sodat hulle in Jesus Christus kon glo (“…en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe. ” (Joh. 11: 15)). Beide Marta en Maria was bitter hartseer en effens verwytend, maar Jesus bemoedig hulle deur Sy woorde. (“Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe nen in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” “Ja: Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom” (Joh. 11: 25-27)). Daar aangekom het Jesus ‘n graf gevind wat soortgelyk was as die een waarin Hy begrawe sou word, ter voorbereiding. Lasarus se opstanding het tot gevolg gehad dat baie van die Jode wat medelye met Maria kom bewys het, tot geloof in Hom gekom.

In hierdie tyd was Kajafas die hoëpriester, by wie die Fariseërs en priesterhoofde kom kla het (uit jaloesie en beangsdheid om hule posisies te verloor?) omdat Jesus soveel aanhangers begin kry het, en omdat hulle geglo het dat dit tot hulle ondergang sou lei. Kajafas het hulle egter daarop gewys dat dit beter is dat een mens sterf (“Een van hulle, ‘n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie. Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring.” (Joh 11: 49-52)). Dit is weereens ‘n bevestiging vir ons dat Jesus Christus vir almal wat in Hom glo sou sterf.

Dan was daar Judas, Iskariot, die verraaier, wat uit gierigheid, vir Jesus Christus verraai het aan Sy vyande, wat hom uit die weg wou ruim. (“Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”” (Joh. 13: 11); (“”Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die skrif moet vervul word: ‘Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.’ Ek sê dit nou al voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is. Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” (Joh. 13: 18-21)).

Die menigte mense (die manteldraaiers) wat Jesus toegejuig en vereer het met sy inkoms in Jerusalem op die donkie, was grotendeels toe te skryf aan Lasarus se opstanding, wat hulle almal in verwondering gelaat het (“Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep het, het gedurig daaroor gepraat. Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê:”Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!” (Joh. 12: 17-19)). Hierdie selfde menigte het ‘n paar dae later saam met die Skrifgeleerdes en Fariseërs geskreeu: “Kruisig Hom!”. Daar was ook Grieke wat gevra het om Jesus Christus te ontmoet, omdat hulle van Hom gehoor het (“Daar was ook ‘n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. Hulle het na Fillipus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”” (Joh. 12: 20-21)).

God het almal se oë blind gemaak, want hulle het nie verstaan dat Jesus Christus moes sterf nie, dat Hy nie verewig ‘n menslike Koningkryk hier op aarde kom vestig nie (“God het hulle oë blind gemaak en hulle verstand laat afstomp sodat hulle nie met oë kan sien en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond kan maak nie.” (Joh. 12: 40); (“Wie My verwerp en nie My woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. En Ek weet dat Sy opdrag die ewige lewe beteken.” (Joh. 12 48-50)).

Dan was daar ook die geliefde dissipels (“Voor die viering van paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste liefgehad.” (Joh. 13: 1)), wat die laaste week, voor Hy gevang is, met Hom deurgebring het, en hulle het Hom binne hulle vermoë bygestaan. Vir hulle het Jesus ‘n laaste blyk van waardering betoon deur hulle voete te was…almal na gelyke maat (“Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God terruggaan. Toe het Hy sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.” (Joh. 13: 3-5)). By hierdie geleentheid gee Jesus die dissipels die nuwe gebod van die liefde in ooreenstemming met God die Vader se verbond (“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Joh. 13: 34-35); (“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet. ” (Jes. 54: 10)).

Die soldate, wat Jesus gevange geneem het, het Hom na Annas, die vader van die hoëpriester, Kajafas, geneem. Hy is toe onder valshede en leuens as misdadiger aan Pilatus voorgehou. Pilatus wat na ondervraging geen aanklag kon bring teen Jesus Christus nie! (“Die waarheid het verdwyn, wie ophou om kwaad te doen, word daaroor vervolg. Die Here het dit gesien en dit is verkeerd in Sy oë dat daar geen reg is nie.” (Jes. 59: 15)). Daarmee saam het die manteldraaier menigte verkies om die misdadiger, Barabbas, vry te skeld van sy booshede, en liewer die onskuldige Jesus Christus te laat kruisig. En Christus is weggelei, want baie gelowiges het verkies om eerder deur mense geëer te word as deur God (“Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.” (Joh. 12: 42-43)).

Wanneer ons vrae: “Wie is in beheer?”, is dit duidelik dat God elke persoon in Jesus Christus se pad geplaas het vir ‘n spesifieke doel (“En Jesus antwoord hom (Pilatus): “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het Hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.” (Joh. 19: 11)). God wat ons beter ken as onsself. God die Vader, wat ons so liefhet, dat Hy nie die sonde kon ontsien nie. As gevolg daarvan het elkeen van ons skuld aan daardie gebeure meer as 2000 jaar gelede. Jesus Christus, die Seun het vir ons sondes kom sterf! Hy het die sonde oorwin, laat ons dan in Sy lig bly lewe (“Toe sê Jesus vir hulle:”Nog net ‘n kort tydjie is die lig by julle, Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.” (Joh. 12: 35-36)), onder leiding van die Voorspraak, die Heilige Gees (“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle sal bly en in julle sal wees.” (Joh. 14: 16-17))!