Bylaag 3 – Ek het ‘n droom- Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Voorlesing

Ek het ‘n Droom – Frans Hancke – voorgedra deur Ensie Enslin
Ek het ‘n Droom – Frans Hancke – uit: Onverantwoordelik

Op 1 Januarie 2001 dink ek oor die Kerk. My gedagtes en emosies raak so oorweldigend dat ek ’n pen en papier gryp en dit probeer verwoord. Later word my poging deel van ’n persoonlike nuusbrief aan my ondersteuners en word dit opgeneem as deel van ’n sendingradioprogram. ’n Belgiese gemeenteleier vertaal dit in Vlaams en versprei dit onder evangeliese Christene, terwyl leraarvriende in Suid-Afrika die inhoud in preke gebruik. Ek noem dit Ek het ’n droom en glo dat dit ’n sinvolle omega-punt vir hierdie boek sal wees.


Dis amper asof ek uit my middagslapie wakker word om op ’n ander manier verder te droom…

Miskien is die voortdroom iets wat makliker gebeur wanneer dit Nuwejaar is. Miskien is die oorsaak die voortdurende gewonder waaroor alles in die lewe nou eintlik gaan; waarom ek ’n sendeling is; waarom ek steeds doen wat ek doen. Dit kan ook wees dat my kriewelrigheid en ongemaklikheid wanneer dinge te stadig na my sin verloop die oorsaak van hierdie gedagtes is; dalk is dit waarom ek my opstandig begin teësit as dit voel asof ons momentum verloor. Maar, dan besef ek, dis eintlik eenvoudig: Op ’n manier is dit die bekende sin uit Martin Luther King se toespraak wat in my kop, hart en wese ronddraai – ek het ook ’n droom, dis die ding…

Dit voel vir my asof die droom met die Koninkryk te doen het.

Dis ’n droom van gemeentes wat verstaan wat dit beteken om Gemeente te wees – om letterlik God se mense te wees, want dis wat gemeente eintlik beteken. Ek droom van mense wat verstaan dat hulle vrygekoop is met die kosbaarste betaalmiddel – sy bloed, mense wat verstaan dat die eiendomsreg oor hulle lewens oorgegaan het na ’n nuwe Eienaar.

Dit gaan oor gemeentes wat eredienste beleef as loffeeste waar sy Naam en eer verkondig word. Hulle beleef die erediens as die week se marching orders . Daar gaan gesprekke na die lofdiens nie oor gister se rugbyuitslae nie; nie oor die wedstryd nie, maar oor gisteraand se uitreiking na mense in nood, hierdie week se planne om sy lof te verkondig, oor hoe en waar ons ’n verskil kan maak. Daar word nie saamgeskinder oor netnou se preek nie, maar eerder nabetragting gehou oor hoe die preek van my lewe die afgelope week afgegaan het. Hulle wonder nie wat gebeur met die kos in die oond nie, maar eerder oor waar ons netnou saam gaan uitreik na hulle sonder kos – met Brood en brood! Hier is die erediens ’n feestelik entoesiastiese herbevestiging dat ek wil volg en dien, dat niks anders voorrang het behalwe sy eer en lof nie.

Ek droom oor gemeentes wat dinamies oor grense na mekaar uitreik, mekaar bemoedig, versterk, deel in mekaar se nood en vreugde. Dit is gemeentes wat waarlik gemeentes- sonder-grense geword het, wat eerlik opgewonde raak oor mekaar se projekte en daarvoor onderling bid – nie selfvoldaan giggel oor mekaar se mislukkings nie. Ek droom oor gemeentes wat nie stilweg lekkerkry wanneer ander se getalle afneem nie; wat nie ewe selfvoldaan mekaar beskinder, beswadder, verdag maak en met vlymskerp en bose venyn die Koninkryk verskeur en verrinneweer nie.

My droom is van gemeentes wat die realiteit van lyding en swaarkry nie sal weg- vergeestelik nie, maar eerder na mekaar sal uitreik, laste saam sal dra, nood sal deel, en bid vir dié van ons wat in nood en vervolging moet buk, buig en ly omdat ons Hom volg gemeentes wat wakkerskrik uit winterslape van onkundigheid – wat relevant en pro-aktief in sy liefde transformasie-agente in die wêreld word.

Die droom is van gemeentes wat borrel met energie, wat biddend planne maak om kerk te wees daar waar Hy nie gedien word nie. Hierdie gemeentelede kla nie oor hoe swak hulle gedien word nie, maar waardeer dat hulle toegewyd toegerus word om te dien deur gebed, deur uit te reik en deur te gee van dit wat hulle het. Vir hulle is geen prys te groot om te betaal vir die voortgang van die Goeie Nuus nie.

In hierdie droom het ekself eerder net een huis, en die strandhuis se geld word in huisvesting vir sendelinge geïnvesteer. Hierdie is ’n droom waar ekself liewer met ’n kort-kort-breek voertuig op teerpaaie en strate werk toe sukkel en toelaat dat sendelinge met betroubare 4×4’s oor ruwe terreine die onbereiktes bereik. Ek staan liewer een van my selfone af sodat ’n sendeling in ’n afgeleë gebied net soms met sy familie kan kommunikeer om te verhoed dat die verterende effek van isolasie sy wegwees nog moeiliker maak. Ek sal eerder minder eet en drink, sodat die hongeriges wel een maal per dag kan eet. Ek koop minder tydskrifte en sorg dat die vervolgde Christene in China nie nodig sal hê om klein flenter stukkies van ’n Bybel oor te skryf om net iets van die Woord te kan hê nie. My droom maak selfgerigte spekulasie oor die ekonomie, goudprys en beleggingsportefeuljes irrelevant teen die agtergrond van duisende werkers wat ongeduldig op ondersteuning wag om met die evangelie die wêreld in te gaan.

In hierdie droom deel gelowiges mekaar se nood en hartseer. Hier is die kerk regtig Kerk. In die droom is Christus die Hoof van sy kerk en is geestelike leiers nie besig om te manipuleer en eersugtig sy posisie te probeer skaak nie. Hulle is eerder besig om te bemoedig, te versterk, toe te rus, te begelei, entoesiasme uit te stort en die kerk te rig tot groter eer van God. Hier is elke lidmaat waarlik priester, profeet en koning. Hier redeneer mense nie oor
sendingbetrokkenheid nie, en word die holrug, selfsug gekamoefleerde redenasies nie meer gevoer oor sending hier of daar ver nie. Hier word misleidende en boosheid besprinkelde uitsprake nie gemaak om geloof te ondermyn, God se eer verdag te maak en om eie publisiteitswaarde te verhoog nie.

In hierdie droom het kerklidmaatskap sy klubstatus verloor. Hier leef gelowiges nie om te ontvang nie, maar om te gee. Hier is ’n effeklose maandelikse dank -offer nie die lidmaatskapfooi wat doop-, lidmaatskap-, huwelik- en begrafnisvoordele waarborg nie; is die kerk ’n dinamiese dienende en bedienende gemeenskap van gelowiges wat deur die Heilige Gees se beKragtiging ’n sigbare spoor van verandering in die wêreld agterlaat. Hier is veranderde sosiale strukture, veranderde gesinstrukture, veranderde ekonomiese strukture, veranderde politieke strukture en veranderde ewigheidsbestemmings – veranderde mense.

In hierdie droom word daar nie ten koste van ’n verhouding met die Here geteologiseer nie. Hier word daar nie in vae terme na een of ander veraf, onbekende, onkenbare en ge-depersonifiseerde Goddelikheid verwys nie. Hier word Hy nie vernederend die Oubaas of Grootbaas-daarbo genoem nie; word daar nie met wydswaaiende gebare vaagweg na bo gewys wanneer mense sukkel om die Naam bo alle name op hulle lippe te neem nie; word en is Hy mense se Abba-Vader. In my droom word Jesus met vrymoedigheid in elke vergadering en raadsaal van die wêreld bely.

In hierdie droom is daar nie plek vir geestelike slaapwandelaars nie. In hierdie droom sien die kerk die wêreld nie as vyandige hands-off , jammer-ek-is-hierplek nie. Nee, die kerk tree dinamies, kragtig en beKragtig na vore as veranderingsagent in ’n wêreld wat aan God behoort. Daar is nie ’n sieklike, verwarrende dualisme tussen wat sekulêr en geestelik is nie. Hier word God ook nie verkleineer en sy eer aangetas deur voorbarige pogings om Hom te verklaar nie; is Hy nie tot my diens nie; is Hy nie daar om na my pype te dans nie; verstaan ek dat ek Hom nie deur my gebedspogings kan manipuleer nie; word ek nie ewe subtiel deur my gebedspogings God en Hy die meganistiese uitvoerder van my wense en begeertes nie; is Hy nie een of ander welwillende wat-kan-ek-vir-jou-doen-God nie; verstaan die Kerk dat hy nie verstaan nie, maar genoeg kan verstaan om Hom te ken.

In hierdie droom is elke gemeentelid ’n gestuurde; word entoesiasties gejubel wanneer ’n standhoudende stroom van lidmate hulself gee om ander met die Goeie Nuus te bereik; word oormekaargeval om te ondersteun, te bemoedig, geestelik en emosioneel te versorg. In my nuwejaarsdroom word asemrowende groot pogings aangewend om die onbereiktes te bereik; is niemand tevrede met die status quo nie; bars die uitdyende groei van die mosterdsaad krakend deur alle beperkings – altyd groter, altyd meer, altyd verder, altyd dieper, altyd hoër…

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie