Aswoensdag

Valentynsdag op Aswoensdag.
Aswoensdag is die merker in ‘n Christen en die kerk se lewe dat die begin van lydenstyd aangebreek het. Ons betree ‘n nuwe seisoen in die kerklike jaar waar ons nader aan die kruis beweeg. Hierdie jaar val Aswoensdag en Valentynsdag op dieselfde dag.

Johannes 3:16 – “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Beter bewoording vir Valentynsdag op Aswoensdag is daar nie. Ons dink in lydenstyd aan die lyding waardeur Christus gegaan het voor die kruisiging en spesifiek vandag aan God se liefde wat Hom gedring het om aan mens gelyk te word, die lyding te verdra, sodat elkeen van ons wie in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Vier Valentynsdag hierdie jaar anders! Vier dit in die gees van Aswoensdag. Inplaas daarvan om rose en sjokolade te koop, brand hout/takke/blare en neem die as na die mens/e vir wie jy lief is. Meng die as met ‘n bietjie olie en smeer met jou duim ‘n kruis op die persoon/persone se hand/voorkop. Herinner mekaar aan die feit dat God ons eerste lief gehad het. Herinner mekaar dat Hy ons steeds lief het. Raak daarna stil en dank God vir Sy liefde wat so ver soos die kruis vir elkeen van ons sal gaan.