Gebedsgids – Januarie 2022

Ek wil in swakke mensetaal eerbiedig tot U nader. Ek wy aan U die nuwe jaar en steun op U genade; en wat daar ookal op my wag, ek loof U goeie dade, ek loof U goeie dade. (Liedboek 556:2)

Hier volg die gebedsgids vir Januarie 2022:

1 Januarie – Saterdag : ‘n Nuwe Jaar
Dank die Here vir sy sorg die afgelope jaar. Bid om sy seën, die soeke na Sy wil en die aanvaarding daarvan. “Here, hou ons styf vas in die wete dat niks ons van U LIEFDE kan skei nie”.
2 Januarie – Sondag : Innerlike Sterkte
Ons bid dat Paulus se gebed vir die Efesiërs ook u verlange sal wees vir 2022:
“… dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.” (Ef 3:14-19)
3 Januarie – Maandag : Koninkrykswerk
Aan die begin van die jaar wil ons, ons gemeente se werksaamhede aan die Here toevertrou. Here, Seën elkeen wat gewillig is om vir U te werk. Maak ons ywerig in U diens sodat ons verskillende Bedieninge, U tot eer sal strek.
4 Januarie – Dinsdag : Besoekers aan Groot-Brakrivier
Dit is nog skoolvakansie en baie besoekers kom na ons dienste. Bid dat God ons die “uitreik-liefde” sal gee om hulle te laat tuis voel en dat hulle saam met ons in vreugde sal aanbid. Vra vir seën op die verkondiging van die Woord.
5 Januarie – Woensdag : Mediese- en Nood-dienste
Terwyl baie mense nog vakansie hou, is daar groot druk op ons nooddienste. Bid vir mediese personeel en nooddienswerkers wat op ongereelde tye, dag of nag, uitgeroep kam word om hulp te verleen en dalk lewens te red.
6 Januarie – Donderdag : God is by ons – altyd
Sê dankie vir baie lidmate wat gereeld en opreg in gebed tot God nader vir koninkrykswerk wêreldwyd, maar ook vir mekaar. Dit bring groot gemoedsrus om te weet ons is nie alleen nie, maar bo-al dat Christus gesê het Hy is met ons tot aan die voleinding van die wêreld. (Mat. 28 :20)
7 Januarie – Vrydag : Vervolgde Gelowiges
Kom ons dank die Here dat ons gedurende die afgelope feesseisoen openlik vir Jesus kon dien en sy Naam bely. Bid baie ernstig vir mede-gelowiges in geslote lande waar Christene gemartel en vermoor word. “Here Versterk asseblief hulle geloof en laat hulle in moeilike omstandighede aan U vashou.”
8 Januarie – Saterdag : Vreemdelinge
Ons wil vandag bid vir die miljoene burgers van ander lande wat in ons land woon en werk. “Jy mag ‘n vreemdeling nie laat verdruk nie. Julle ken die lewe van ‘n vreemdeling, want julle was vreemdelinge in Egipte.” Eks 23:9
9 Januarie – Sondag : Dien God 24/7
Saam met die Psalmis wil ons vandag sê: “Mag die volke U loof, o God, mag al die nasies bly wees en jubel” (Ps 67:4). Dankie dat ons weet God hou die hele wêreld in Sy hand. Wees Sondae in die kerk, maar leef in die week as God se kinders.
10 Januarie – Maandag : Mense wat swaarkry
Ons harte gaan vandag uit na alle eensames, verslaafdes, siekes, bedroefdes, armes en almal wat swaarkry. Mag hulle God se nabyheid en Sy kinders se hulp en liefde in ‘n ruim mate ervaar. Ons is hier om ons naaste te lief te hê en te dien.
11 Januarie – Dinsdag : Nederigheid en Diens
“Ons vra vandag dat U kinders genade sal ontvang om ‘n dienskneg-gestalte aan te neem volgens Fil 2:5-8” Bid dat ons geen geleentheid verby sal laat gaan om ons naaste te dien en mekaar se “voete te was” nie. Mag ons motiewe suiwer wees.
12 Januarie – Woensdag : Arbeidsbediening.
Ons tree vandag in vir ons kerk se Arbeidsbedieningsaksie – vir geestelike werkers en bestuurslede in ons Sinodale gebied en landswyd. Ons vra vir passie en gewilligheid by lidmate om in eenheid saam te bid en te werk, sodat die Evangelie in elke werkplek gehoor en uitgeleef kan word.
13 Januarie – Donderdag : Vlugtelinge
Daar is baie vlugtelingkampe met ontwortelde mense wat hulle huise moes verlaat as gevolg van konflik, vervolging of omgewingsrampe. Ons bid dat die Here se Genade groot oor hulle sal wees en dat gelowiges Jesus se liefde aan hulle sal bewys en ook die Evangelie met hulle sal deel.
14 Januarie – Vrydag : Wolwedans
Ons bid vir die Getuienisbediening se uitreik na Wolwedans. Dank die Here vir helpers wat sop voorsien en bid vir die Woordverkondiging wat daarmee saamgaan.
15 Januarie – Saterdag : Polisiemag
Dra ons Groot-Brak polisie aan die Here op. Bid vir die bevelvoerder en elke lid om met integriteit, edele werksetiek en eerlikheid hul werk te doen. Bid vir hulle en hul dierbares se beskerming. Dank vir die goeie werk eat hier gedoen word.
16 Januarie – Sondag : Padveiligheid
Waar baie vakansiegangers hierdie naweek huis toe gaan, bid ons vir genade vir elke padgebruiker, verkeersbeampte en instansies soos ‘Highway Ministries’. Bid dat elke bestuurder geduldig, nederig, toegeeflik, verdraagsaam, vriendelik en versigtig sal wees.
17 Januarie – Maandag : Leierskap
Bid vir ons kommissies en alle leiers in ons gemeente. Vra vir wysheid om altyd die wil van ons Vader te soek en dat Jesus in elke saak gedien sal word.
18 Januarie – Dinsdag : Gestremdes
Offers gaan vandag aan die Instituut vir Dowes. “Here, baie dankie vir ons sintuie. Bewys asseblief U genade in oorvloed aan elkeen wat nie meer die gebruik van al hul sintuie het nie. Gee vir ons meer deernis vir diegene met gestremdhede.”
19 Januarie – Woensdag : Skole Open
Die skole open vandag. Bid vir elke bestuurslid, onderwyser en leerder, vir almal wat by ons opvoedingsinrigtings betrokke is. Mag Christelike beginsels geld en mag daar ruimte vir Bybelonderrig gemaak word.
20 Januarie – Donderdag : Gevangenisbediening
Dankie vir elkeen wat met Jesus se liefde uitreik na hulle wat agter tralies verkeer. Ons dink ook met deernis aan die baie gesinne wat geraak word, wanneer ‘n dierbare in die Gevangenis is.
21 Januarie – Vrydag : Noord-Korea
Bid dat die harte van geheime Christene versterk sal word en dat hulle altyd sal weet en onthou hoe hulle internasionale familie in Christus hulle ondersteun, vir hulle bid en omgee. Gelowiges word die ergste vervolg in hierdie land.
22 Januarie – Saterdag : Verdraagsaamheid
In ons pragtige land is daar nog ‘n groot mate van onverdraagsaamheid – veral tussen verskillende rassegroepe. Vra die Vader om deur Sy Heilige Gees ‘n gesindheid van respek, liefde en verdraagsaamheid te skep sodat ons in vrede kan saam woon.
23 Januarie – Sondag : Kategese / Jan Kriel Instituut / Week van Gebed
Bid vir elke kategeet, dat hulle die Blye Boodskap aan ons kinders sal oordra.
Bid vir die Jan Kriel skool se behoeftes en welsyn. Bid vir die week van Gebed, vra dat ons ‘n biddende gemeente sal wees wat bid sonder ophou.
24 Januarie – Maandag : Ons Land – Suid Afrika
“Here Jesus, ons roep na U vir die herstel van ons land. Ons bely ons diepe afhanklikheid van U. Ons sien chaos en wanorde, maar U weet wat U vir ons beplan. Ons oë bly op U gerig vir U Voorsiening en Uitkoms”.
25 Januarie – Dinsdag : Bybelstudie Leiers
Bid dat elke lidmaat in ons gemeente hierdie jaar erns sal maak met God se Woord. Vra vir leiding vir hulle wat as leiers optree en dat die Waarheid vir elkeen sal inspireer om die Woord te Lewe.
26 Januarie – Woensdag : Lofprysing
“Prys die Here! Loof die Here want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie”.
27 Januarie – Donderdag : Deernis Bid vandag vir iemand wat treur of troos nodig het, ons word geseën om ander tot seën te wees. Dank die Here vir al die seëninge wat jy daagliks ontvang.
28 Januarie – Vrydag : Indië
In baie gebiede is die bou van kerke kragdadig gestop en word kerkgeboue deur Hindoe-ekstremiste vernietig. Bid vir God se ingryping en krag vir gelowiges en pastors om sterk te staan te midde van al hierdie uitdagings.
29 Januarie – Saterdag : Ons Samelewing
“Vader, ons bring vandag ons land met sy diverse gemeenskappe na U toe. Ons vra vir ‘n begeerte vir vrede in alle harte en rustigheid in alle woonplekke.Mag gemeenskapsleiers die wysheid ontvang om konflik te hanteer. Amen”.
30 Januarie – Sondag : Instituut vir Dowes
Ons dink vandag met groot deernis aan Dowe-persone wêreldwyd. Hulle wêreld is KLEIN – slegs sover as wat hulle kan sien, en baie STIL. Mag ons deur ons bydraes en gebede gehoor gee as hulle vra: “Hoor ons asseblief!”
31 Januarie – Maandag : Laat U Koninkryk kom
Vanoggend dra ons die Getuienisbediening aan die Here op. Hulle fokus is om die laaste opdrag van ons Meester, “Gaan dan na al die nasies toe …”, vanuit ons Gemeente uit te voer. Die oes is so oneindig groot. Elke lidmaat se eerste verantwoordelikheid en voorreg is om te bid en te getuig