Gebedsgids April 2022


April is n besondere maand en ons is tans aan die einde van die 5de lydensweek.
Vrydag 1 April
Kom ons dra die mense van die Oekraïne aan Vader op. Ons dink aan die vrees by kinders en ou mense, die uitmekaar skeur van gesinne en die verwoesting van hulle huise, paaie en ander infra struktuur.
Saterdag 2 April


Vandag lê ons palmtakke van danksegging voor Sy voete neer en ons dank Hom vir die vrede wat ons nog geniet ten spyte van al die ander probleme in ons land.
Sondag 3 April
Ons betree die 6de lydensweek. Ons verootmoedig ons in ons gebede voor God en dank Hom vir al die weldade wat ons uit Sy hande ontvang.
Maandag 4 April
Ons bid tot Vader vir die instandhouding van ons gemeente en dat Hy, soos in die verlede, steeds na ons gemeente sal omsien.
Dinsdag 5 April
Die skole heropen en ons vra Vader om met elke leerling te wees veral ook omdat skoliere die afgelope 2 jaar onder moeilike omstandighede moes leer. Ons bid vir helderheid van verstand.
Woensdag 6 April
Vandag dra ons ons land aan Vader op. Daar is so baie seer deur verkragting, moord, stelery, korrupsie, swak bestuur, misdaad ens. Dat ons Vader versoek om in te gryp en ons weer op ‘n wenpad te plaas.
Donderdag 7 April
Ons bid vandag vir ons kerk-personeel en hulle gesinne. Ons dra hulle met dank aan Vader op vir wat hulle in ons gemeente met soveel liefde doen.
Vrydag 8 April
Ons dra vandag ons gemeente se omgeebediening aan die Here op deur ons gebede.Ons bid vir Sy seën op al hulle omgee werk.
Saterdag 9 April
Ons land se Beskermingsdienste verkeer onder groot druk van weë die misdaad in ons land.Ons bid Vader om hulle by te staan in die uitvoering van hul pligte en dat Sy naam altyd in hulle werk verheerlik sal word.
Sondag 10 April
Palmsondag en die Sewende Lydensweek breek aan en die skare juig Jesus toe en lê palmtakke voor Hom neer met Sy intog in Jerusalem. Ook wek Hy vir Lasarus op. Ons bid ook dat Vader ons ook sal opwek tot ‘n nuwe lewe.
Maandag 11 April
In ons land word vroue en kinders elke dag deur ongenaakbare mans aangerand of verkrag. Ons bid dat die Here hierdie haatlike kultuur sal verander in ‘n liefdevolle gesindheid.
Dinsdag 12 April
Skooldogters is vandag onder geweldige sosiale druk Duisende is swanger juis vanweë hulle weerloosheid. Ons dra hulle almal aan Vader op vir Sy seën, genade en beskerming.
Woensdag 13 April
Ons dra die twee blokbyeenkomste in Blokke 8A en 8B aan Vader op en bid dat Hy ook daar teenwoordig sal wees en die nodige insigte sal gee.
Donderdag 14 April
Soos Adam en Eva in ‘n prag tuin gewoon het, woon ons steeds in U tuin Vader. Deur ‘n “klein” oortreding het U hulle verblyf opgeskort. In teenstelling bemors en vernietig ons U Skepping. Ons gebede is om Vader te ra om elke mens se gesindheid teenoor Sy Skepping positief te vernader.
Vrydag 15 April
Dit is Goeie Vrydag. Laat ons nie vandag op Golgota staan om U te kruisig nie, maar U te aanbid vir die Liefde wat U daar openbaar het deur U te laat kruisig ter wille van ons redding. Seën ons ook vanoggend aan die nagmaalstafel.
Saterdag 16 April
Ons dank u nou Here vir ‘n wonderlike herdenking van gebeure op Golgota en dat ons daardeur bevestiging gekry het dat ons God en Here leef en dat ons daar bevry is.
Sondag 17 April
Dit is Paassondag en ons vra Vader om saam met ons op die strand te wees met ons diens daar en dat Hy ons gebede sal aanhoor.
Maandag 18 April
Ps 51:3 Ons bid die Here om ons genadig te wees in Sy troue liefde en ons en ons gesinne se oortredinge in
Sy groot barhartigheid uit te wis. Dat ons en ons gesinne volgens U wel en weë sal lewe.
Dinsdag 19 April
Ps 51 :4 Ons gebed is dat Vader ons sal skoon was van ons skuld en ons sal reinig van ons sondes.
Woensdag 20 April
Ps 51: 6 Teen U alleen Here het ek gesondig en ek het verkeerd gedoen in U oë. My gebed is n smeking dat u my sal vergewe.
Donderdag 21 April
Ps 51:8 U verwag opregtheid diep in my hart. My gebed is dat u my die kennis sal gee dat ek kan weet hoe U wil hê dat ek moet leef
Vrydag 22 April
Ps 51:9 My bede is dat U my sonde sal wegneem sodat ek rein voor U kan wees. Ja witter as sneeu.
Saterdag 23 April
Ps 51:10 Verbrysel my tog nie vanweë my sonde nie, maar laat ek veugde en blydskap in in U kan vind met ‘n jubelende hart.
Sondag 24 April
Ps 51: 12 My gebed is dat u my n rein hart sal gee en my gees sodanig sal vernuwe dat ek standvastig in U sal bly.
Maandag 25 April
Here my gebed vandag is dat my lewe nie deur die wet van die sondige natuur oorheers sal word nie, maar wel deur die wet van die Heilige Gees.
Dinsdag 26 April
My gebed vandag is dat U my sal bystaan sodat ek my nie deur die sondige natuur sal laat beheers nie, maar dat ek my sal besig hou met dit wat U Heilige gees my voorhou om te doen.
Woensdag 27 April
Here, Ek bid vir krag dat ek my nooit aan die sondige natuur sal oorgee nie, want ek wil deurentyd U wil najaag en doen. Wil U ook gee dat ons as nasie Vryheidsdag altyd aan U sal opdra.
Donderdag 28 April
Here ons dankgebed gaan na U toe uit omdat U met die sonde afgereken het deur U eie Seun te stuur o0 gekruisig te word en sodoende vir ons vergifnis te bring.
Vrydag 29 April
Here, Ek wil my smart oor my sonde voor u uitspreek. Hoor tog my belydenisgebed in die woorde van David se gebed in Ps 51.
Saterdag 30 April
Here, so baie dankie vir die wete dat daar geen veroordeling is vir die wat in Christus Jesus is nie. Ontvang asseblief ons gebede vir April.